by jannel1

Hierdie blog is nie aktief nie

Oktober 22, 2012 in Uncategorized

HIERDIE BLOG IS NIE AKTIEF NIE, VIR JAN SE TWAK, BESOEK  http://jantwak.wordpress.com/

 

by jannel1

‘n Rugbybal vol Bullshit

Desember 29, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Ons almal is al daar deur. Een of ander kennis of familielid (geen vriend sal dit aan jou doen nie) se troue terwyl daar groot Rugby aan die gang is. Kan mense dan geen beplanning doen nie? Is daar geen ander dag om te trou, as ‘n Saterdag waarop die Bulle en die Cheetahs mekaar in ‘n Curriebekereindstryd tackle nie? As jou stokperdjie is om musiek te maak by troues is dit erger. Die Saterdae wat jy wel ‘n wedstryd kan kyk is weinig en yl gesaai. Om die wedstryd op te neem en later te kyk help nie. Daar is altyd een of ander uitsaaidonner wat die eindtelling kliphard uitbulder by die geleentheid.

 

So reel Dominee Jassie van Deventer, hoofleeraar van ‘n plotgemeente buite Bloemfontein, toe die basaar. Saterdag, 3 Augustus 1996. Australië teen Suid-Afrika. Drie-Nasies. In Bloemfontein. Selfde dag, selfde tyd. Sonder fout – die gemeentemanne het elkeen ten minste vyf keer op die almanak gekyk. Die probleem is ‘n plotgemeentebasaar is nie sommer net ‘n woerts-warts ding nie. Dis ‘n groot affêre – spitbraai, springkasteel, dans, biertuin en alles. Dominee gee ook nie om as die manne lekker kuier, miskien selfs bietjie hande uitruk nie – skietgoed vir sy Sondag-daarna-preek.   Die basaar is ‘n jaar voor die tyd al gereel, baie beplanning – die datum kan nie skuif nie. Goed gereël – elke man het ‘n taak. Daar is geen kans vir ontsnappings nie. Ek is ook vasgeteken met musiek by die spit en die dans agterna.

 

Dominee Jassie was ‘n poetsbakker van formaat. In so mate dat dit naderhand gelyk het asof dit net sy amp se titel is, wat hom in die Hemel sal kry. Maar die man werk met ‘n plan. In die week bak hy poetse en Sondae preek hy oor die mense se reaksies op die poetse. Poetse ten spyt, was hy ‘n groot geliefde in die gemeente en hy kom toe darem die manne tegemoed. Die Sondag voor die basaar kondig hy af dat die rugby lewendig uitgesaai sal word in die biertent. Dit sal die radiouitsending oor my groot luidsprekers wees. Die manne is net half tevrede, maar dit is darem beter as niks. Daardie tyd was grootskerms nog skaars en onbekostigbaar duur.

 

Die Maandag voor die basaar bel Dominee Jassie my. Hy wil hê ek moet ietsie op kasset opneem. Vetroulik – hoogs konfidensieel. Die Dinsdagaand daag hy by my op met die vreemde man. Toe die man my groet, hoor ek al klaar hy klink net soos Heinrich Marnitz, die radio-omroeper. Ek begin die dominee se plan sien. Ons neem op. Rugbykommentaar. Die man is goed, selfs beter as die regte Heinrich – ek betrap myself naderhand dat ek op die rant van my stoel sit van die senuwees. Toe ons klaar is, vra Dominee my om bietjie byklanke by te sit vir die eindproduk – skares wat skree ens. Ek belowe hom die ding sal eg klink. Ek sit byklanke by – daar is baie boe’s en uitjouery.

 

Dit is ‘n snerpende koue Saterdag 3 Augustus. Drie uur. Die biertuintent is stampvol gepak. Die manne wil rugby luister. Ek laat waai met die kasset.

 

En ‘Heinrich’ sê: “Vir die luisteraars wat pas ingeskakel het – Die spanne van Suid- Afrika en Australië wat reeds op die veld uitgedraf het en wag vir die speel van die amptelike volksliedere. ‘n Heerlike snikhete sonskynmiddag in Bloemfontein en die manne wat al klaar die sweet van die voorkoppe afvee. Die weerkantoor wat natuurlik beloof het, geen reen, met die eerste hittegolf van die somer wat ons reeds hier kan voel hier op die Vrystaat Stadion.”

 

Oom Japie van Schoor wat skuins voor een van my luidsprekers sit, trek sy baadjie uit. Hy kry warm. ‘n Paar manne volg sy voorbeeld. Die Australiese volkslied speel en ‘n paar van die manne begin al staan in afwagting op die Stem.

 

En Heinrich kondig af: “Ja dit was dan die ‘Advance Australia Fair’ en nou die Stem van Suid-Afrika, uitgevoer deur die Soweto Kinderkoor.”

 

En die Soweto Kinderkoor sing. Nkosi ‘Sikele Afrika. Halfpad begin ‘n paar manne brommel en teen die einde toe almal besef daar is geen Afrikaanse deel nie, klink dit in die tent, soos op ‘n seerowerskip. Dominee staan met sy notaboekie. Hy skryf ‘n paar idees vir sy preek.

 

En Heinrich gaan aan: “Nou ja dit was dan die Stem, soos uitgevoer deur die Soweto Kinderkoor, en dis die manne wat hulle plek op die veld inneem. Joel Stransky wat die bal gaan stel vir die afskop. Suid-Afrika wat van links na regs voor ons op die hoofpaviljoen speel. Daar is nie ‘n windjie wat roer op hierdie snikhete Augustus dag – Skeidsregter wat die fluitjie blaas vir die amptelike begin van hierdie kragmeting – Stransky tree terug – en dis ‘n laaaaang skop – ‘n hoeeeeë skop. En dis oor die doodlyn. Nie ‘n goeie begin vir Suid-Afrika nie en dis Matt Burke wat aangedraf kom met die bal en so bietjie ongevraagd, ‘n paar tergbewegings daarmee maak voordat hy dit vir George Gregan gooi, vir die eerste skrum van hierdie wedstryd. Die hitte wat sy tol begin eis – Dalton wat die sweet van sy kop afvee voordat hy tussen Balie Swart en Os du Randt sy plek neem.”

 

Dit brommel-brommel in die tent. Die manne is nie tevrede nie. Nog ‘n paar trek hulle baadjies uit. Oom Org van Jaarsveld stuur sy vrou om vir hom ‘n kortbroek te gaan haal.

 

Heinrich: “Suid-Afrika wat natuurlik ‘n volle 30kg swaarder as die pak Walabies weeg – as die manne sak vir hierdie eerste skrumkragmeting van die wedstryd. Gregan gooi in. En dis Australië wat vorentoe beur in hierdie skrum, hulle DRYF – hulle DRYF! – hulle is BO-OOR Suid-Afrika! Dan is dit skeidsregter Sterling wat genadiglik op sy fluitjie blaas as die skrum in duie stort. Os du Randt en Balie Swart wat daar sukkel-sukkel en oorbluf orent kom. Die hitte wat besig is om die manne hard te karnuffel met die sweet wat van die gesigte afstroom. Die skeidsregter wat daar vir Du Randt beduie hy moet reg bind, anders gaan hy hom straf.”

 

In die biertent is die brommel-brommel heelwat harder en die Dominee moet vinnig skryf om by te bly. Baie van die vrouens is weg om kortbroeke vir hul mans te gaan haal.

 

En Heinrich saai uit: “En dis die manne wat weer sak – dit lyk effens beter maar dis duidelik dat die Walabies vandag die oorhand in die skrums gaan hê. Michael Foley wat die bal daar terughak vir Gregan – met ‘n vinnige uitgee na Lynach – Horan – LITTLE —- DEUR ‘n GAPING en Suid-Afrika wat op die agtervoet betrap is! Dis Little wat HARDLOOP! Hy HARDLOOP! Hy is binne die kwartgebied van Suid-Afrika! Kort skoppie oor die kop van Andre Joubert en Roff – JOE ROFF wat die bal jaag – WAAR IS SUID-AFRIKA!!! – En dis die bal wat reg spring vir Roff! – en hy HET hom! – hy GAAN vir die doellyn – Japie Mulder wat hom op ‘n ligte drafstappie agtervolg. En hy DRUK hom! Joe Roff met die eerste drie van die wedstryd! En WAT ‘n maklike drie! Suid-Afrika wat aangeploeter kom om agter die pale te staan – dit lyk asof hulle klaar tagtig minute gespeel het. Michael Lynach wat reeds die bal stel om te verdoel terwyl die laaste Springbokke aangedraf kom. Dit is reg voor die pale. Hy tree terug – dis ‘n reguit skop – en JA hy maak nie ‘n fout nie. SEWE – NUL! Wat ‘n onstellende begin vir Suid-Afrika!”

 

En die manne in die tent stem saam. Hulle worry ook nie meer oor die dominee nie, hulle sê wat op die hart is.

 

En so gaan die wedstryd aan. Die Springbokke kan net nie iets goed doen nie en as hulle die slag iets goed doen word dit summier met ‘n strafskop en selfs ‘n strafdrie, teen hulle beloon. Kort-kort waarsku ‘Heinrich’ ook van die hittegolf. Toe die telling 80 – 3 is, is die dominee se boekie vol. Toe George Gregan vir Os du Randt van die veld afslaan en Andre Joubert ‘n rooikaart vir sy aandeel in die geveg kry, moet die dominee inspring om die gemeente se siele te red. Dit is chaos in die tent en hy moet die mikrofoon gebruik om die manne tot kalmte te maan.

 

Dis vriesend koud in die Vrystaat maar in ‘n kerksaal buite Bloemfontein staan ‘n klomp opgewerkte manne in kortbroeke en T-hemde. Hulle is daar vir die dans, maar niemand is lus nie. Die eindtelling was op die ou end 99 – 3 vir Australië, Suid-Afrika met net elf manne op die veld – die res is afgestuur.

 

Iewers tussen huis toe gaan en die volgende oggend se erediens vind die manne uit wat die werklike eindtelling was: 25 -19 vir Suid-Afrika! Toe Dominee die manne se gesigte dié Sondag in die kerkbanke sien, gooi hy sy notaboekie weg. Hy preek oor vergewingsgesindheid.

by jannel1

Oom Sarel se mangels

Desember 27, 2011 in Sonder kategorie

 

 

“Jy moet seker maar vir Oom Sarel bel jong, hy is gistermiddag al gedoen en die ou was nogal skrikkerig vir die operasie.” My vrou het nog altyd die manier gehad om ‘n bevel soos ‘n versoek te laat klink.

 

“Dis maar net sy mangels skat,” probeer ek die oproep uitstel.

 

“Ja, maar jy moet onthou dis nie kinderspeletjies as hulle ‘n grootmens se mangels uithaal nie. Bel tog net en hoor of hy nie iets nodig het nie.”

 

“Skat, teen die tyd dat ons iets kan vat is hy lankal ontslaan.”

 

“Pappa!”

 

“Ja skat,” sê ek suur terwyl ek my selfoon nader trek en sy nommer soek. Die selfoon lui minstens tien keer voor hy optel.

 

“Sarel Verwey.” Sy stem klink afgemat as hy antwoord.

 

“En toe Oom Sarel hoe voel die keel?”

 

“O Benjamin dit is jy! Nee jong ek wil nou bitter graag hier uitkom. Hierdie is beslis nie ‘n plek vir ‘n mens nie,” sê hy half kortasem. “Dit voel al soos ‘n leeftyd wat ek hier moet bly na die operasie.”

 

“Ai Oom dis seker nie so erg nie. Jy moet maar dat Tannie Sarie met die dokters praat dat hulle jou kan ontslaan,” probeer ek moed gee.

 

“Nee jong, Tannie Sarie was nog nie hier nie. Die plek is bleddie warm en nou mag ek nie eens water drink nie! Ek gaan blykbaar ook langer moet bly as wat ek gedink het.”

 

“Dis maar die ding met mangels Oom. Hulle sal jou darem seker netnou bietjie roomys voer. As Oom nog more daar is bring ek sommer self.”

 

Later die middag kry ek vir Tannie Sarie by die inkopiesentrum. “Wat is fout Tannie?” vra ek toe ek haar oë sien.

 

“Maar het jy nie gehoor nie? Oom Sarel is gistermiddag op die operasietafel oorlede.”

 

 


 

 

by jannel1

Die vloek wat ek dra

Desember 26, 2011 in Sonder kategorie

Vandag is dit dertig jaar. Dertig jaar van afsondering. Dertig jaar se alleen, uitgeskuif soos ‘n melaatse dier om in die eensaamheid van die wildernis sonder mense te bly. Maar vandag bly ek nie langer stil nie. Die vloek van my stilbly gaan ek nie langer alleen dra nie. Ek is jammer. Ek is werklik jammer, maar dit is iets waarvoor ek nie gevra het nie.

 

Dit het begin by Mamma. Niemand selfs nie eers ek het geweet wat gebeur het nie. Haar tyd was so kort. Drie dae se siek voor haar dood. Toe met Sussie, toe met Pappa toe ek jammer vra oor hulle. Drie dae se siek voor hul dood. Dominee en sy kerkraad het begin onraad vermoed na Juffrou en Oom Albert. Drie dae se siek voor hul dood. Gemasker en met Bybels in die hand het hulle my vervloek. Asof die vloek wat ek reeds dra nie groot genoeg was nie.

 

By die verlate oornaghuisie in die bos het hulle my tuisgemaak. My met dood gedreig as hulle my ooit weer sou sien. Ek het nie verstaan nie. Ek was net ‘n kind. Net Ouma het my gesien. Elke week as sy my voorraad kossies gebring het. Nou en dan nuwe klere, soms boeke om my alleenwees te sus.

 

Ouma is gister dood. En ek wou net graag dankie sê. Haar drie dae se siek voor haar dood het die geheim van my vloek gebreek. My dankie-sê kaartjie nog net daar waar sy dit verskrik gegooi het. Nou eers verstaan ek. Die vloek is in my skryf. Vervloek is die wat lees. Enigiets, enigiemand.

 

Almal wat lees wat ek skryf: Drie dae se siek, dan die dood.  


by jannel1

Spelfout op ‘n Grafsteen

Desember 26, 2011 in Sonder kategorie

27 Januarie 2012

 

“Maar my magtig, het julle geen verstand in hierdie plek nie?” Mark Potgieter is briesend en die diep fronskepe op sy voorkop trek ‘n beslissende lyn onder sy woede.

 

“Meneer, ons het nog nooit ‘n fout in hierdie plek gemaak nie.” Die bleek ontvangsdame van “Forever and Ever” begrafnisondernemers se gesig is emosieloos terwyl sy praat.

 

“Hoe de donner kan jy vir my sê julle maak nie foute nie! Wil jy vir my sê ek kan nie lees nie. Hoeveel keer het ek nie vir julle gesê en geskryf dit is Christelle en nié Chrystelle nie! Ek soek ‘n ander grafsteen vir my moeder! Julle sal julle gemors afhaal en regmaak op júlle koste!”

 

“Meneer, ek kan u verseker ons maak nie foute nie,” sê sy nog steeds emosieloos en Mark voel of hy die bleeksiel enige oomblik te lyf kan gaan.

 

“Waar is die eienaar, ek praat nie vir ‘n oomblik langer met jou nie!” Sy stem is op die rand van histerie. Dan sien hy die deur agter haar waarop groot geskryf staan: “Streng Privaat – Geen Toegang”

 

“Meneer jy kan nie daar ingaan nie!” Vir die eerste keer toon die ontvangsdame se stem emosie as sy vervaard probeer keer as Mark vasbeslote op die deur afstorm. Sy is te laat en hy pluk die deur oop en storm na binne.

 

Die koue van die stoor sny veel dieper as net sy vel, terwyl Mark afgemete tussen die rye en rye rakke met grafstene stap. Hy is te kwaad om ag te slaan dat dit eintlik in die middel van die somer is. ‘n Ysige wind waai oor sy lyf en onwillekeurig trek hy die dun materiaal van sy katoenhemp stywer oor sy kraag. Dit is ‘n massiewe lokaal en ‘n vreemde mistigheid maak dit onmoontlik om die einde van die vertrek te sien.

 

Dan sien hy die maer en stokkerige figuur aan die einde van ‘n rak. As Mark naby kom sien hy dat die ou man omtrent net vel en been is. Die man draai om na Mark te kyk en sy lang swart mantel wapper onnatuurlik stadig in die wind. Sy gesig het ‘n siek geel kleur en sy gesonke oogkaste huisves ‘n paar oë wat van enige kleur ontneem is.

 

Sy stem is stadig, skor en afgemete en voor Mark nog kan praat sê hy: “In hierdie plek maak ons nie foute nie.”

 

Mark se selfoon lui en geïrriteerd besluit hy om eers te antwoord voor hy die ouman konfronteer. Dit is sy vrou wat praat:

 

“Mark jy sal dit nie glo nie, maar ek het op jou ma se geboortesertifikaat afgekom. Eintlik is haar naam reg gespel soos op die grafsteen, ons was al die jare…”

 

Haar stem vervaag in die agtergrond as sy oë op die grafsteen voor hom fokus. Hy het tyd om klaar te lees voor die pyn sy hart vasgryp:

 

“My geliefde man, broer en ons vader. Mark Potgieter *1969/03/28 + 2012/01/27”

by jannel1

Hello world

Desember 26, 2011 in Sonder kategorie

This is a sample post on your brand new blog. You can edit this post by clicking the button above, or delete it the same way, or even start an entirely new post by clicking the create button on the right of this page.

Have fun blogging.