Jy blaai in die argief vir 2019 September.

Sware harte en so aan

September 15, 2019 in Uncategorized

Ek is erg wantrouig teenoor mense wat aan ander raad uitdeel.

My gevoel is dat jy net raad kan uitdeel as ‘n mens diep in’n probleem gemarineer is en deeglik toegerus is om raad te gee wat waar en verantwoordelik is.

Daar is net vir my te veel amateurberaders, wat dit op hulleself neem om vir ander mense te sê hoe om hulle besondere probleem op te los. In die Baai se Saterdagkoerant, Weekend Post, is daar week na week ‘n paartjie wat hulle wyshede opdis van hoe jy kwansuis dít of dát moet doen sodat jy vervuld en tevrede sal lewe. Só asof hulle alles gesien het en al die implikasies van hulle raad al deurdink het.

Die groot hartseer is hoe ‘n skare dorstige mense hulle wend tot hierdie ghoeroes, en die raad opslurp. A nation turns its lonely eyes to you – want in ons desperaatheid sal ons soms enigiets probeer. Ek sien oggend na oggend hoe my kollegas plegtig luister na die gekondenseerde wyshede van die dagboekpredikers tydens die oggendvoorlesing, asof hierdie predikers werklik beter antwoorde kan bied as hulleself.

Ek het al te veel van hierdie beraders se kleivoete sien uitsteek – ‘n groot skrywerdominee wat jong seuns bevoel het, ‘n tydskrifdominee wat self moes skei, die jong predikant in ons gemeente wat met die hoofdiaken se vrou wegloop…

Dit staan selfs in die Bybel: moet op prinse nie vertrou nie. Die goed gaan jou in die agterent byt.

Hierdie hele geteem is eintlik om my nuwe punt te regverdig.

In ‘n vorige blog het ek dit naamlik laat klink asof ek die allerantwoord het vir sin en betekenis in die lewe. Wel, nee, ek het nie.

Dit het ek maar net weer al te goed besef toe ek vandag my gewoonlike weeklikse pelgrimstog na my plattelandse klein paradys aanpak. Ek het dit bra met ‘n sware hart en ‘n donker gemoed gedoen.

Wat ek nie in my vorige skrywe genoem het nie, is hoe daardie planne wat ons beraam, en drome wat ons droom, deur die werklikheid befoefel word. Natuurlik is dit ‘n kwessie en natuurlik kan mens dit mos nie ignoreer nie. As daar nie tyd, geld of plek vir ‘n droom is nie, kan dit bloot nie gebeur nie.

So, by hierdie drome moet ek seker die ou wysheid voeg – gee my die vrede om daarby te berus. As ek dit nie regkry om my groepie soekende leerders te besiel en goeie punte te kry nie, moet dit maar so wees. As ek uiteindelik nie by die plekke uitkom waar ek wil wees nie, is dit ook reg. Tob en teem gaan nie help nie.

So, om op te som – as jy my sny sal ek ook bloei. Soos my kinders ook gou besef het – ek het nie al die antwoorde nie. En, party aande sal ek ook beswaard gaan slaap en hoop ek voel more beter.

Dis alles, op die ou einde, deel van hierdie groot komedie van menswees.

Dink ek.

Sin, ideale en betekenis

September 11, 2019 in Uncategorized

Dis seker te verwagte dat ‘n mens op my ouderdom begin bestek opneem. Ek betrap myself dikwels deesdae dat ek op die lang pad sit en tob en allerande soorte somme maak. En, dit is tog asof daar deesdae vir my ‘n klarigheid begin deurskyn.

In my jonger dae het ek, soos baie ander, gewonder wat is die doel, of sin van my lewe. Waarom is ek hier? Wat moet ek doen om hierdie doel te vervul?

Die dominee het gesê my doel is om te leef tot God’s eer.

Ek het my verstand so min of meer hiermee versoen al het ek dit nie mooi verstaan nie, maar my hart het sy eie opinie gehad en bly mor en murmureer.

Dit het my ‘n leeftyd geneem om my eie mening hieroor te vorm.

As ek na die sterre kyk en ons klein plekkie in die heelal besef, moet ek aanvaar dat ek bloot gelukkig kan wees om in hierdie tyd, soos miljarde ander, op hierdie wêreld geplaas te kan wees. Ek het vrede gemaak daarmee dat Janklaas nie hier geplaas is met ‘n missie om die wêreld permanent te verander nie. Die golfies wat ek kan maak is eens te klein – ek is ‘n klein, klein kolletjie op ‘n klein wêreld, in ‘n klein sonnestelsel in die wye heelal.

So, wat nou? Dwaal ek doelloos hier rond tydens my “innings” en wag mistroostig vir die moerige, maer man met sy sens en swart jas?

Dit, soos ek dit sien, is waar ideale en drome inkom. Die “bucket list” van wat jy in jou lewe wil bereik, wil sien en beleef.

Sonder hierdie drome is die lewe sowaar sonder sin en kan ek maar net sowel doodgaan. Hierdie drome het my aangevuur om dinge te bereik, te beleef en te doen. Só het ek ‘n dierbare vrou en kosbare kinders, ek het ‘n baie vervullende loopbaan gehad, ek het plekke gesien en snaakse dinge gedoen. En, hierdie lys is nog nie klaar nie – dit hou my opgewonde en vul my dae.

Ek wil nog plekke sien. Ek wil daai donnerse boek klaar skryf en ‘n bosloerie van naby sien. Ek wil sien dat my kinders geborge en gelukkige toekomste het. Ek wil in ‘n orkes speel saam met eweknieë. Ek wil ‘n mooi foto van die nagruim neem. Ek wil só baie…

Hierdie drome is uiteraard bra selfsugtig, want dit is my eie plakpapier teen die mure van my kort bestaan.

Waar my ideale betekenis kry en waar ek ‘n greintjie ewigheid bereik met wat ek kan doen, is vir my die derde vlak van wees. Dit is die soort goed wat mense eendag by jou gedenkdiens lees, met skugter laggies uit die gehoor.

Betekenis.

Ek weet, ek weet ek het baie mense al teleurgestel en sommige mense seergemaak. Soms erg, en ek het het al baie dae en nagte hieroor berou gehad. Maar, het ek een ander mens gelukkig gemaak? Het ek dit reggekry om een ander mens ‘n groter insig te gee in die wonderwêreld van die natuur? Het ek een keeltjie blyer laat sing? Het ek iemand aan iets moois, iets kosbaars bekendgestel? Het ek iets gedoen om die seer aarde beter te laat voel?

Dan het ek mos betekenis gehad verby my eie, kort, selfsugtige lewe. En dalk is dít uiteindelik die doel van my bestaan.