Jonkwees deur ou oë

Augustus 11, 2019 in Uncategorized

Op my oudag hou ek nou weer styf-styf skool.

In die proses leer ek op ‘n manier vinnig baie dinge van myself waarvan ek nooit voorheen bewus was nie.

In die stralende gesiggies voor my sien ek ‘n jong ekke, en sien ek ook die kinders wat in ‘n vroeër lewe my maats sou kon wees en dié wat ek sou vermy.

Deur hierdie ervaring is ek nie aldag seker of ek maats sou wou wees met myself as ‘n jong tiener nie.

Genade, ek was ‘n ou pliggie, wat gesag heelhuids aanvaar het en min of meer heersende propaganda vir soetkoek opgevreet het. Ek was daardie vent wat voor in die klas sou gaan staan lees het as die onderwyser laat kom. Ek was die jafel wat met tuitlippe en hoendervel “Miskien ook sal ons sterwe..” op konserte sou voordra.

Ek het myself ook sekerlik gesien as hierdie jong digter-dromer, wat diep nadenkend, op ‘n opsigtelike plek in die kafee, turend in die diep, donker glas sy melkskommel sou sit en roer het.

En my hart. O, my stomme hart.

Ek was verlief op verlief wees, op daardie dolle swaaivreugde van omgee en droom. Menige oorblufte fraai meisie was vir daardie kort mallemeulerit die teiken van my alleraandag, die ontvanger van blommetjies en sugte en diepe, lang, liriese briewe. Wie kan dit weerstaan?

Ek onthou só helder die soet speeltye, as ek met bonsende hart gewag het dat die heersende ”sy” haar verskyning om die hoek sou maak. Daardie jubeltye waarin ons kosbare oomblikkies sou deel, die sware verlang as jy gaan slaap…

Dan praat ek nie eers van die eensame tye, toe ek as varsbekeerde student menige benoude vriend met ‘n traktaatjie bekruip het om die nuutgeleerde Malannel-bekeerresep op hom te pleeg. Goeie griet.

Noudat ek hierdie jonggeitgoed so bymekaargeskrywe sien, laat dit oudword sommer skielik vir my lekker klink.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.