Jy blaai in die argief vir 2019 Augustus.

Skoolmaats

Augustus 20, 2019 in Uncategorized

Ek het vroeër baie gewonder hoekom dit is dat die aarde so sproeterig met minerale bedeel is. Soos David Kramer sê: ‘n stukkie lê hier, en ‘n stukkie lê daar…

Ek weet nou dat die aarde uit baie brokstukke van sterstof ontstaan het, elk met ‘n ander samestelling. Jy is net gelukkig as jou brokkie meer goud of slaptjips gehad het as jou suur buurman s’n.

En so begin ek deesdae ook besef hoe ek uit brokkies andere saamgestel is. ‘n Brokkie pa, ma, gesinslede en familie, maar ook my vriende. Dit laat my toe weer bespiegel hoedat my skoolmaats my gemaak is wie ek vandag is en dat ek eintlik elkeen van hulle dank verskuldig is vir die blokkieskombers van ervaringe wat my gevorm het.

Ek was nooit een wat ‘n massa vriende om myself kon vergader nie en was aangewese op enkelinge met dieper, langer vriendskappe. Dalk moes ek ‘n ander reukweerder gebruik het.

Natuurlik maatjie Cobus, wie se ryke verbeeldingswêreld my op vlugte deur wilde wêrelde saamgeneem het. In die breë vyeboomskip het ons seerowers in woeste oseane beveg en in die ruimte rondgeploeter. Sy versameling slapbandboekies sou nie maklik in my huis toegelaat gewees het nie.

Neef Jan, wat my eng omgewing verryk het met stadstipe-ervaringe en ruimer denkwyses. Wat my Herbert Marcuse en ee cummings leer ken het en my die eerste treetjies tot ‘n skeptieser lewensbeskouing leer betree het.

Jan Harm wat my tot groter prestasie aangespoor het en by wie ek ‘n vreemde siele-aanklank gevind het. Hy was van ‘n ander wêreld en my wêreld het dit aangegryp.

Peet was my puberteitsvriend. Ons het die ritme, storm en drang van die musiek van die Sestigs ons eie gemaak in daardie jare wat ek die ontvanklikste was vir die verwarrende belewenisse van ons ontluikende grootmensskap.

André was daar in die eerste jare waarin ek myself eintlik regtig leer ontdek het. Hy het my bekendgestel aan ‘n wyer skat van musiekkunstenaars en was my broer wanneer dit swaar gegaan het.

Barry was ‘n vriend wat ek nie verdien het nie. Ons het sulke lang, diep gesprekke gehad as wat ‘n jong, onskuldige gemoed maar kon hê. Ons het saam die baardpunte van groot musiek bevoel en brakkerig ons eie weergawe van musiekmaak geëksploreer. Hy het styf-styf my vele ekskursies in verliefwees op ‘n ontstellend wye reeks skoonhede verdra en desnietemin ‘n vriend gebly. Vreemd.

Dis hierdie soort herinneringe wat ek seker eendag met deernis sal deurblaai as ek lui-lui op my stamperige rystoel in die ouetehuis sit en wieg. Dankie, ouens.

Jonkwees deur ou oë

Augustus 11, 2019 in Uncategorized

Op my oudag hou ek nou weer styf-styf skool.

In die proses leer ek op ‘n manier vinnig baie dinge van myself waarvan ek nooit voorheen bewus was nie.

In die stralende gesiggies voor my sien ek ‘n jong ekke, en sien ek ook die kinders wat in ‘n vroeër lewe my maats sou kon wees en dié wat ek sou vermy.

Deur hierdie ervaring is ek nie aldag seker of ek maats sou wou wees met myself as ‘n jong tiener nie.

Genade, ek was ‘n ou pliggie, wat gesag heelhuids aanvaar het en min of meer heersende propaganda vir soetkoek opgevreet het. Ek was daardie vent wat voor in die klas sou gaan staan lees het as die onderwyser laat kom. Ek was die jafel wat met tuitlippe en hoendervel “Miskien ook sal ons sterwe..” op konserte sou voordra.

Ek het myself ook sekerlik gesien as hierdie jong digter-dromer, wat diep nadenkend, op ‘n opsigtelike plek in die kafee, turend in die diep, donker glas sy melkskommel sou sit en roer het.

En my hart. O, my stomme hart.

Ek was verlief op verlief wees, op daardie dolle swaaivreugde van omgee en droom. Menige oorblufte fraai meisie was vir daardie kort mallemeulerit die teiken van my alleraandag, die ontvanger van blommetjies en sugte en diepe, lang, liriese briewe. Wie kan dit weerstaan?

Ek onthou só helder die soet speeltye, as ek met bonsende hart gewag het dat die heersende ”sy” haar verskyning om die hoek sou maak. Daardie jubeltye waarin ons kosbare oomblikkies sou deel, die sware verlang as jy gaan slaap…

Dan praat ek nie eers van die eensame tye, toe ek as varsbekeerde student menige benoude vriend met ‘n traktaatjie bekruip het om die nuutgeleerde Malannel-bekeerresep op hom te pleeg. Goeie griet.

Noudat ek hierdie jonggeitgoed so bymekaargeskrywe sien, laat dit oudword sommer skielik vir my lekker klink.

When I’m 64

Augustus 7, 2019 in Uncategorized

Die Beatles het die vervelige tussenouderdom van 64 met hulle liedjie tot ‘n vierbare fees verhef. Vier-en-sestig is nou ‘n jaar waarin ‘n mens darem ‘n paar dinge moes bereik het.

Ek het hierdie mylpaal verlede jaar bereik en ek moet sê, vir my was dit nogal ‘n ding.

Op 64 het ek op ‘n manier ‘n groter perspektief van die lewe gekry – ek het loopbane van binne en van buite gesien en beleef wat is aftrede. Ek het myself om die een of ander rede met veel groter objektiwiteit gesien as ooit tevore.

‘n Ander liedjie besing Lucy Jordan, wat op die ouderdom van 37 besef het dat sy nooit in ‘n sportmotor, met die warm lug deur haar hare, deur Parys se strate sou ry nie. Verlore drome, vergange wense.

Wel, daarvan het ek ook.

Maar dan gaan ek darem saam met ou Blue Eyes kon kreun: I did it my way.

Nou nie noodwendig die beste way nie, maar dit was myne en ek het dit oorleef. Soms met grasie en soms met skraapmerke. En kyk hoe lyk ek nou…

No regrets, sing die swaeltjie van Parys kordaat. En dan sê Blou-ogies weer: regrets, I have a few…

Ja, gewis is ek spyt oor ‘n paar goed. Spyt oor ek ‘n paar mense baie seergemaak het. Spyt oor ek so min geld beplan het vir my oudag. Spyt oor my eerste Opel Kadette wat ek afgeskryf het.

Maar wow, wat ‘n lewe!

Sóveel liefdes, soveel skoonheid, soveel seer, soveel afvalgeregte, soveel blomkool. Warmte uit kosbare familie en vriende; noue ontkomings soos teen die laerskool Voorwaarts se rugbyspan; soet seges en hartseer verliese; die lig in iemand se oë as hulle ‘n ding begin verstaan; skaaptjops, Wilsons toffies, lentebloeisels…

En nou het ek seker die stadium bereik dat ek my jare van agter af moet begin tel.

Dit is goed, dit is reg so en ek het vrede daarmee. Dit was ‘n vol lewe en dit was goed. Ek het dierbare pasmaats gehad wat saam deur die lig en die donker was. Ek het die wêreld gesien, mense leer ken en so hier en daar iets sinvols verrig. Vir die volgende 64 jaar kan ek nou terugsit en lag vir hierdie snaakse, wonderlike wêreld.