Toi toi tot die son ondergaan

Januarie 15, 2013 in Uncategorized

Telkens wanneer daar ‘n golf van stakings of misdaad is, is daar ‘n somber koor van doemprofete wat opstaan en hulle voorspooksels in die media plaas. Dit lei tot grootooggesprekke om die eetkamertafel, waar goeie mense verstom hulle onderskeie tonge klik en hul koppe stadig skud.

Waarskynlik is hierdie doemprofete reg. Dalk is ons op die glybaan na vergetelheid en onheil. Dalk is die wêreld besig om te ontdek hulle nuwe bruid se voete ruik sleg, en dalk is ons op die pad van Zimbabwe en soveel ander vrolike voorbeelde.

Wat my egter tref uit hierdie hele tafereel en al die tirades, is dat die oorsake van die kwaad, die plegers van die onheil, hulle kollektiewe sterte afvee aan die protes oor hulle optrede en al die voorspooksels. Goeie argumente en die stem van rede ken hulle nie. Hulle sal met groot toewyding presies daardie infrastruktuur vernietig waarvan hulle vir hulle voortbestaan afhanklik is. Agterna is daar ‘n groot geweeklaag oor die ellende waarin hulle verkeer, soos ‘n kind wat sy ouers vermoor en dan kla omdat hy ‘n weeskind is.

Ek vind dit moeilik om aan hierdie vreemde logika gewoond te raak. Mense sal hulle treine afbrand omdat daar nie treine is nie. Mense sal wingerde vernietig waarvan hulle vir hulle vir hulle lone afhanklik is. Mense sal kopers, wie se geld hulle nodig het, afraai om Suid-Afrikaanse produkte te koop.

Ek kan nie my verstand om hierdie toewyding aan ‘n blinde ideologie kry nie. Plase, wat broodnodige (goeie woord!) geld oplewer, sal ingeneem word ter wille van ‘n gewaande soort regverdigheid.

Wat is my punt eintlik? Net dat ek my nie meer gaan opwerk oor doemredes en onheilstirades nie. Ek, en enige redelike mens, begryp en weet hierdie dinge – niemand hoef dit vir ons uit te wys nie. Ek sal eerder opgewonde raak as daar ‘n manier uitgevind word om dit aan die verstand van die “perpetreerders”, die plegers van die sinnelose geweld, te bring dat hulle koeltjies besig is om hulle eie slagare af te sny en dat daar nie êrens ‘n onuitputlike bron van goeie wil en rykdom is nie.

Ongelukkig dink ek ek gaan lank wag.

9 antwoorde op Toi toi tot die son ondergaan

  1. Ja, ne!
    “Ek, en enige redelike mens, begryp en weet hierdie dinge – niemand hoef dit vir ons uit te wys nie.”

  2. tina10 het gesê op Januarie 15, 2013

    Wens mens kon bepaal presies hoeveel ‘redelike mense’ daarbuite is?

  3. in Afrika was die kwaliteit van die menslike hulpbronne nog nooit van ‘n baie hoogstaande gehalte gewees nie en het selfs die rafinering van ‘n eerste wereldorde kon ongelukkig nie veel verskil gemaak het nie .

  4. Gelukkig hou die wiel aan met draai, stadig maar seker, die myners is besig om uit te vind hoe dit eintlik werk. Die probleem is hulle het nie ‘n rolmodel nie, hulle word so aan hulle eie wilde genade oor gelaat

  5. Bruggie het gesê op Januarie 15, 2013

    The devil in the detail. Net soos alle Afrikaners nie vergelykbaar is met die bedremelde 4 wat glo die Anc wou opblaas nie. 5OO pendelaars is kwaad oor n stukkende trein, 3 steek dit aan die brand. n Rewulusionêr soos Erhrenreich wil alles afbrand sodat n sosialistiese utopie kan herreis. Hy is n roekelose frats. Die meerderheid in die middel moet kop hou.

  6. Goeie punt. Wat my van daardie ‘meerderheid’ kwel is hulle geneigdheid om soos die kudde, die bloedbande te volg al is dit tot hulle uiteindelike nadeel. Hulle sal Ehrenreich, Zuma, Mugabe volg teen hulle eie beterwete bloot om ‘n ideologiese punt te maak. Ding is, as die punt gemaak is, is die sin dikwels nie eers meer daar nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.