Poedelpastei

Oktober 30, 2012 in Uncategorized

Waar jy staan, hang af van waar jy sit.

Hierdie is ‘n erg onderskatte waarheid. As ‘n mens die volle konsekwensies daarvan deurdink, dan klink al die hewige debatte oor die ligging van kernkragsentrales, die Belhar-getuienis, geloof, “fracking” en rykdomsbelasting maar bra ydel.

Die stelling beweer dat dit as’t ware vir jou vooruitbepaal is wat jou standpunt gaan wees in ‘n bepaalde situasie. As jy ‘n ingesetene is in ‘n bepaalde toestand of ligging, sal dit waarskynlik ook die toestand wees wat jy hand en tand sal verdedig. As ek ‘n mooi duur aftreeplekkie langs die kus gekoop het, sal ek tot die dood toe veg om dit nie ontsier te kry deur ‘n luglyn vol windlaaiers nie. Om die waarheid te sê, ek sal allerande ware-, en selfs drogargumente gaan versamel wat dalk my saak kan versterk, ter uitsluiting van die argumente vir die teendeel. Ek sou die Belhargetuienis makliker steun as ek van ‘n bepaalde volksgroep was, of as ek grootgeword het in ‘n gebied waar daar meer vryelike wisselwerking tussen bepaalde volksgroepe was.

Afhanklik van waar ek gebore is en grootgeword het, sou ek waarskynlik Islam, Buddhisme of Christenskap aangehang het. Ek sal “fracking” moeilik ondersteun as ek ‘n plaas of ‘n aftreeplekkie in die Karoo het, en vir seker sal ek nie rykdomsbelasting ondersteun as ek, uhm, ryk was nie.

Dalk sal die protesteerders teen die tolhekstelsel ook agterkom dat die steun vir die protes vanuit die res van die land stadigaan besig is om te taan namate die besef tot daardie mense deurdring dat dit eintlik net die arme Gautengers is wat vir daardie trippies gaan betaal. Ha, totdat SANRAL sy visier op ‘n pad in hulle eie omgewing sit, dan sal hulle gou op hulle se perdjies wees.

As ek dus ‘n protesbrief in die koerant sien, is dit vir my heel prettig om te sien waarom die persoon juis beswaard is, en meeste van die tyd is dit maar ‘n gevolg van “waar jy sit”.

Hierdie hele gedagtegang is eintlik gesneller deur ‘n berig in die koerant, dat ‘n man in die Kaap wat ‘n hond afgeslag en geëet het, aangekla was en toe skotvry daarvan afgekom het. Soos te verwagte was daar ‘n koor en ‘n storm van protes en afgryse oor sodanige wandaad. Sekerlik verdien so ‘n wreedaard om die hoogste tol te betaal?

Dan ry hierdie selfde verontregtes by Spar aan, en koop ‘n hoendertjie of ‘n tjoppie om tuis te gaan geniet. ‘n Mens wonder of hulle al die kyk op ‘n skapie se gesig gesien het as hy besef hy gaan in faktore ontbind word om op beskaafde mense se borde bedien te word as ‘n lekkerny. Die gesig wys vrees, ‘n wil om te lewe!

In sommige kulture is ‘n hond nogal ‘n lekkerny. So ‘n poedelribbetjie gaan goed af met aspersies en mosterd. Soms is mense bloot erg honger.

Gewoonlik beskou ons kulture wat katte of honde eet as barbaars en wreed, en besef nie dat ons eie eetvoorkeure dalk vir ander walglik kan wees nie. As ‘n mens die saak probeer deurdink om regverdiging vir jou eie afgryse te kry, beland ‘n mens baie gou in ‘n morele mynveld. Vegetariërs eet byvoorbeeld ook vorme van lewe, en dit is ‘n dun lyn om te wil argumenteer dat daardie soort lewe nie ‘n wil het nie – party bome skei eteengas af as ‘n bok daaraan eet, om hulleself te verdedig, en so is daar baie ander voorbeelde van ge”wil”de optrede in die planteryk..

Dalk sou argumentering meer logies, makliker gewees het as ons ons eie vooroordele en voorkeure opsy kon plaas en bloot nugter oor die feite redeneer.

Dream on, Jan Klaas.

 

3 antwoorde op Poedelpastei

  1. hoop onse honde is nog daar as ek by die huis kom. :-O
    Nou die dag heel aardig gevoel toe ek vir die konyn karkassies op die vleisrak kyk

  2. Tja, op die ou einde is dit seker maar omdat ons so lief vir die goedjies is dat die etery so aardig klink. Tog, ek verstaan in Nieu Seeland raak hulle heel geheg aan hulle skape…

  3. Wou eers nie lees toe ek die opskrif sien nie, maar het toe nou maar deur gedruk. Ons wil nou die boere aanvat omdat hulle ons lug so vol gif spuit 😉

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.