Sondagaand se houding
Oktober 28, 2012 in Uncategorized
Dis stil. Te stil.
Buite blaf ‘n groot hond beterweterig. Paddas tjilp agterdogtig in die groen swembad. Die enigste groen swembad in die Baai op ghoeghel earth. Die pomp is stukkend, oukei.
Dit is volmaan. Die son en aarde se prettige sirkeldans laat die maan nou soos ‘n ronde spieëltjie van agter blits, asof dit ons wil laat kyk of ons tevrede is met die uitkoms van die harekap aan die agterkant. Wat is dit dit in elk geval met haarkappers? Sonder my bril is alles ennieway ‘n blur, en teen daai tyd is die skade klaar gedoen – dis nie asof hulle die hare kan terugsit nie.
Van ons gesigpunt skuins bo agter Jan Klaas sien ons eerstens die lamplig blits van sy bles, en dan sy krom vinger waarmee hy sy kop ingedagte krap, hard dinkend aan welke kreatiewe, groot wyshede hy die volk mee kan oorbluf en bekoor. Sy ander hand tik-tik ongeduldig op sy knie, tot die groot ontsteltenis van die slap worshond op sy skoot. As daar getik-tik moet word, laat dit dan op haar rug of pensvelle wees, nie so ‘n futiele verspilling van troetelenergie nie.
Selfs die oorblywende skeel vis in die algerige visbak het ‘n houding vanaand. ‘n Mens kan sien aan die smalende manier waarop sy haar draai in die gesigsveld maak dat alles nie pluis is nie.
Sondagaande is nie vir sissies nie.
adage het gesê op Oktober 28, 2012
Toe ons swembad groen was het die eende hier kom swem
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Ons het ‘n kormorant. Hy vang darem nog nie visse nie. Miskien moet ek my bakvissie aan hom voorstel.
loudavisi het gesê op Oktober 29, 2012
Sondagaande is nie vir sissies nie!
Ek sien die arme vissie…kan jy nie iets uitdink om hom te vermaak nie? Shamepies..
🙂
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Ek het al probeer gedigte voorlees. Dit werk nie.
Zeppie - @zephur het gesê op Oktober 29, 2012
Arme vis…daar kort ‘n maatjie
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Soos ons ou webwerf probeer ons die visbak uitfaseer. Nie een van ons het die hart om die vis in die toiletbak te gooi nie, nou moet hy maar vrek van ouderdom.
murphy het gesê op Oktober 29, 2012
Ja, Sondagaande is terrible, veral as jy alleen is. Eintlik begin dit mos hier teen die tyd wat die son lyk of dit wil water trek. dan kty ek daardie terug-koshuis-toe-gevoel.
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Dis presies dit. En Maandagoggend is nie veel beter nie.
katrina het gesê op Oktober 29, 2012
Ja, Sondagaande moet mens iets spesiaals kan doen om daardie gevoel hok te slaan 🙂
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Dit is waar. Dit werk vir my, ‘n kuier of so iets.
Bruggie het gesê op Oktober 29, 2012
Toemaar, Jan Klaas, jy laat smaail nog vir die eerste span
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Hallo Bruggie!
Sies, ek probeer ernstig wees….
monicahaddad het gesê op Oktober 29, 2012
Dis nogals ‘n kuns om niks te doen nie……
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Daar is ‘n woord daarvoor wat my nou al lank ontwyk, vir om woes te hardloop net om op dieselfde plek te kan bly. Iets -stasis, soos hoemeostasis of metastasis, net anders…
rosiemetdorings het gesê op Oktober 29, 2012
Herinner my om Desember vir julle ‘n paar oulike vissies te bring
Jan Klaas het gesê op Oktober 29, 2012
Ja! Snoek uit die Kaap!
modderkoekie het gesê op Oktober 29, 2012
Sondagaande kan droefgeestig wees ja…