Sondagaand se houding

Oktober 28, 2012 in Uncategorized

Dis stil. Te stil.

Buite blaf ‘n groot hond beterweterig. Paddas tjilp agterdogtig in die groen swembad. Die enigste groen swembad in die Baai op ghoeghel earth. Die pomp is stukkend, oukei.

Dit is volmaan. Die son en aarde se prettige sirkeldans laat die maan nou soos ‘n ronde spieëltjie van agter blits, asof dit ons wil laat kyk of ons tevrede is met die uitkoms van die harekap aan die agterkant. Wat is dit dit in elk geval met haarkappers? Sonder my bril is alles ennieway ‘n blur, en teen daai tyd is die skade klaar gedoen – dis nie asof hulle die hare kan terugsit nie.

Van ons gesigpunt skuins bo agter Jan Klaas sien ons eerstens die lamplig blits van sy bles, en dan sy krom vinger waarmee hy sy kop ingedagte krap, hard dinkend aan welke kreatiewe, groot wyshede hy die volk mee kan oorbluf en bekoor. Sy ander hand tik-tik ongeduldig op sy knie, tot die groot ontsteltenis van die slap worshond op sy skoot. As daar getik-tik moet word, laat dit dan op haar rug of pensvelle wees, nie so ‘n futiele verspilling van troetelenergie nie.

Selfs die oorblywende skeel vis in die algerige visbak het ‘n houding vanaand. ‘n Mens kan sien aan die smalende manier waarop sy haar draai in die gesigsveld maak dat alles nie pluis is nie.

Sondagaande is nie vir sissies nie.

17 antwoorde op Sondagaand se houding

  1. adage het gesê op Oktober 28, 2012

    Toe ons swembad groen was het die eende hier kom swem

  2. Sondagaande is nie vir sissies nie!
    Ek sien die arme vissie…kan jy nie iets uitdink om hom te vermaak nie? Shamepies..
    🙂

  3. Arme vis…daar kort ‘n maatjie

    • Soos ons ou webwerf probeer ons die visbak uitfaseer. Nie een van ons het die hart om die vis in die toiletbak te gooi nie, nou moet hy maar vrek van ouderdom.

  4. murphy het gesê op Oktober 29, 2012

    Ja, Sondagaande is terrible, veral as jy alleen is. Eintlik begin dit mos hier teen die tyd wat die son lyk of dit wil water trek. dan kty ek daardie terug-koshuis-toe-gevoel.

  5. katrina het gesê op Oktober 29, 2012

    Ja, Sondagaande moet mens iets spesiaals kan doen om daardie gevoel hok te slaan 🙂

  6. Bruggie het gesê op Oktober 29, 2012

    Toemaar, Jan Klaas, jy laat smaail nog vir die eerste span

  7. Dis nogals ‘n kuns om niks te doen nie……

    • Daar is ‘n woord daarvoor wat my nou al lank ontwyk, vir om woes te hardloop net om op dieselfde plek te kan bly. Iets -stasis, soos hoemeostasis of metastasis, net anders…

  8. Herinner my om Desember vir julle ‘n paar oulike vissies te bring

  9. Sondagaande kan droefgeestig wees ja…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.