Ek en die see

Oktober 12, 2012 in Sonder kategorie

My hele lewe lank wou ek by die see woon. Vakansies by die Suidkus, so tussen die hoëveldse winters, was vir my die toppunt van vryheid, romanse en jonkwees.

Ek onthou daardie eerste wakkerword by die see, as die oggendsonnetjie al warm skyn, die koel seebriesie wulps by die venster inbeur en die branders se dreun meng met die gekrys van seemeeue. Dan, later, die reuk van gebakte ontbyteiers en die kokosneutgeur van sonsalf. Die inpak van die emmertjies, grafies, vlieërs en reusagtige handdoeke. Die opwinding van die nat, warm, prettige dag wat voorlê.

In die storm-en-drangjare van tienerwees was die see vir my die vergestalting van die begeertes, onsekerhede en woedes wat deur my brose gemoedjie gespoel het. Ek kon my sit en verkyk aan die krag van ‘n brander wat skuimend op die rotse bars en dan ontplof in ‘n wit pluim wat hoog stoot en stadig grond toe val. Die mooiste was die spel tussen brander en wind, as die sproei hoog terugwaai en die golf frustreer om so woedend te breek soos wat dit hulle betaam.

Maansopkoms op die see was vir my omtrent die hoogtepunt van geestelike uitdrukking en ek het ook weer menige foto’s van rooi horisonne wat in die breë vlaktepluim van uitspoelbranders weerkaats as ek vroeg opgestaan het vir die sonsopkoms.

Later het ek ander juwele ontdek – die woelige lewe tussen rotse, die kleurige visse en groeisels onder die water.

Soos wat ek meer en meer van die fisika van golwe en ander natuurverskynsels verstaan het, het heelwat van die mistiek van die werking van golwe en getye vir my verlore gegaan. Ek kon nog kyk, maar kon nie meer die effense rilling van mooi teen my rug af beleef nie.

Ek moes ‘n nuwe soort vrede maak met die see. Hier waar ek tog nou by die see woon, geniet ek nou weer, maar op ‘n rustiger manier, die geweld van springgety, ek adem die sout geur van seewees op die klam aandlug en ek kies die kuspaadjie werk toe om die weerkaatsing van die lae oggendsonnetjie op die mistige plat brandertjies te beleef.

Dis ‘n voorreg waarvoor ek baie ander dinge moes prysgee. Maar, dalk was dit die moeite werd.

20 antwoorde op Ek en die see

  1. TS het gesê op Oktober 12, 2012

    Klink lekker… maar alles is nat in die winter! 🙂

  2. frikve het gesê op Oktober 12, 2012

    Hierdie is ‘n baie mooi skrywe – dankie. Dit neem my ook terug na die eerste keer wat ek die see beleef het. Ek was toe 15 jaar oud en omdat ons armgatte was, het ek eers op daardie ouderdom saam met my ouers kon see toe gaan.
    Die Kaapse kus, die weskus, ens. – het almal hul eie unieke bekoring, maar die KZN-noordkus van Umhlanga tot Ballito, is my idee van see. Tropiese lekkerte.
    Groetnis

  3. Perdebytjie het gesê op Oktober 12, 2012

    Mooi geskryf!

  4. So lank laas by jou ingeloer!! Ek is mal oor die see!!

    Ek wil jou graag laat weet dat daar ‘n nuwe tv reeks more-oggend om 08:30 op SABC2 begin! Die naam is Dinner Divas en dit is ‘n program om te sien wie die beste kosblogger vir 2012 is! ‘n Paar mense op die vertoning is Sous Chef (Supa Gran), Nina Timm…. en natuurlik PinkPolkaDot!! Probeer kyk asb!!

  5. HeavyHenry het gesê op Oktober 12, 2012

    Lekker!

  6. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2012

    Erg ook, soms. Hierdie was die natste winter hier ooit!

  7. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2012

    Ja, dis daai tropiese lug met die geur van piesangs en blou-apiemis…

  8. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2012

    Dankie Bytjie!

  9. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2012

    Ek het gesien jy is so aan’t beroemdraak. Kan ek vir jou stem êrens?

  10. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2012

    Hallo Henry! Lekker om jou weer te sien.

  11. loudavisi het gesê op Oktober 12, 2012

    Die Weskus se see het sy eie betowering, maar die yskoue water sit my af. Ek wil nog eendag voor ek dooi in die warmer see in die branders baljaar.

  12. bloukaap het gesê op Oktober 12, 2012

    ek sal like om jou die branners te wys sister! oppas net virrie palings. hehehehehe!!!!!

  13. bloukaap het gesê op Oktober 12, 2012

    weereens treffend gestel. jou skrywes bly my by

  14. frandr het gesê op Oktober 12, 2012

    Sjoe, hoe laat jy my nou see-toe verlannnng met jou helder beskrywings…

  15. @PPD, Ai ek wens ek kon dit sien!

  16. verlang ek nou om daar langs hobie te kan afstap

  17. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2012

    Hier kom ‘n ding!

    Ja, die Weskus is fraai maar daai yswater verander palings in erdwurms. Mens kan in die lou Ooskusbranders swem tot jy poegaai is.

  18. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2012

    Dis nogal ‘n eer om so iets van jou te hoor. Dankie.

  19. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2012

    Dan hoort jy ook hier!

  20. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2012

    Ja, dit bly darem spesiaal. En, Natal se lekker lou watertjies…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.