Sunday morning coming down

September 9, 2012 in Sonder kategorie

Hulle sê ‘n hond kan vrees ruik. Ek kan nie juis hiervoor instaan nie – dit hang seker af hoe groot jy geskrik het. Mind you, in so ‘n uiterste geval sal enigiemand my seker kan ruik.

Iets waaraan ek wel begin glo, is dat vroue vrede kan ruik. En sommer van ver af.

Neem nou vanoggend. Pragtige Sondagoggend – die son skyn deur die liggroen lenteblare, ‘n lui warm seeluggie streel deur my hare, ‘n geur van soet jasmyn hang in die lug, die worshond lek my lui-lui voordat sy weer insluimer.

Dus, vrede. Met ‘n SABS stempel.

Ek moes dit sien kom het en toepaslik besorg buite rondgedraal het, asof die tuin eintlik ‘n diepe bron van kommer is. My tong geklik het en my kop ontsteld geskud het terwyl ek ‘n los vloerlysie met my toon stamp-stamp…

My waaksaamheid was dus maar slapperig, en toe vroulief soetjies oorkant my kom sit het ek haar liefderik toegeglimlag, ‘n toonbeeld van vrede en toegeneëntheid.

Sy het ook deur die jare geleer, het sy. Sy begin met ‘n inleiding oor hoe pragtig die oggend is, en, en…

Toe begin sy so stadigaan by haar eie agenda uitkom. Saggies en teer, maar meedoënloos verskuif die onderwerp na sake wat effens minder sprankel, totdat ons by haar gewilde Sondag-tema, ons geldsake uitkom.

Namate sy vir my die volle implikasies van ons nabye en verre toekoms begin ontplooi, voel ek hoedat die koue vingers van angs by my warm ribbetjies verby tot by my hart begin strek. Ek voel hoedat die bloed my kop verlaat en hoedat my hart in my spreekwoordelike keel begin klop. My oë raak al groter en die paar orige hare op my bles probeer regop staan.

Ek probeer flou protesteer, maar die vrou is op ‘n missie. Sy het duidelik die hele nag oor hierdie sake getob en toe sy my warmgebakte lyf so argeloos in die sonkamersonnetjie sien lê, was dit vir haar ‘n persoonlike affront en ‘n saak wat terstond reggestel moes word.

Einde ten laaste gee sy ‘n halwe glimlaggie, rek haar rug so effentjies en staan op. “Nou ja, jy wil seker ‘n bietjie rus,” of so iets, sê sy.

Asof. Hier sit ek toe met ‘n troostelose toekoms en ‘n dag wat skielik grys geword het, soos ‘n ou oorlogfliek.

Nooit gedink ek sal uitsien na Maandag nie.

15 antwoorde op Sunday morning coming down

  1. vroue wat vrede kan ruik……
    nee, nou verstaan ek nie …..

  2. Ons vroue het ook gewoonlik ‘n boks of twee vol planne. As plan A nie werk nie, dan gaan ons op die lys af.

    Ons weet ook net wanneer en waar om ons planne bekend te maak.

  3. TS het gesê op September 10, 2012

    Siestog… kom jy tweede

  4. Die Sondaggesprekke gee diepe insigte.

  5. Jy moet by Andy Capp gaan kers opsteek.

  6. Dis amper asof die goed dit nie kan vat as ‘n man druk besig is om niks te doen nie…

  7. Sug,,,, jaaa swaer.

  8. Dis vir my weer ‘n vreemde gedagte om die woorde “vroue” en “verstaan” in een paragraaf saam te sien.

  9. En dis natuurlik totaal uit fase met die gewone siklusse van die heelal.

  10. Erg man, erg.

  11. Mmm, ook nie almal nie. Sommiges veroorsaak meer vrae.

  12. Sowaar! Hoor die roepstem van ‘n lyder…

  13. Ja, dit verg toewyding om sinloos leeg te lê.

  14. Swaar, man.

  15. endlich het gesê op Oktober 1, 2012

    kostelik…Sondag. Die dag wat mens die lewe wil regruk

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.