Swanesang?
September 11, 2012 in Sonder kategorie
In een van die woonbuurte in die Baai het ‘n groot boom die woonplek geword van al wat gevoëlte is. Dis ‘n aardigheid en ‘n geskater as hierdie klomp in die aand na hulle blyplek toe trek en hulle laaste ablusies maak voordat hulle brom-brom hulle lê kry.
Bedags is dit ook nie stil nie – elke nou en dan kom een van die kantoor af om miskien die kinders te kom groet of ‘n slap wurm na die spens toe te sleep. Dan is dit ‘n hele geroesemoes soos die aankoms en die gaan sit onder die gemeenskap bespreek en gekritiseer word.
Vir die mense in die omgewing het hierdie boom algaande sy aardigheidsglans begin verloor, tot waar dit later ‘n rêrige las begin word het. Buiten die aandgeraas is motors wat onder parkeer spierwit besprinkel, die boom het al kaler geword en die spulletjie het begin stink. Die saak het nou so ver gevorder dat die boom einde ten laaste uitgekap is en die hele gebroedsel moet nou noodwendig ‘n ander heenkome soek.
Oor die blou ruimtes van die hele Baai is daar nou klossies-klossies swewende voëls, slagoffers van hierdie gedwonge verskuiwing, wat sekerlik filosofeer of alles uiteindelik die moeite werd is.
Litnetblogs was my boom. Hier het ek myself skugter staangemaak, half gevlei oor die aura van digterlikheid waarmee die assosiasie met Litnet my toebedeel het.
Deur die jare het ek my nessie knus uitgevoer, ‘n gesonde hoop ghwano onder my eie tak opgebou, vriende gemaak met ‘n paar tintinkies, swane en dodo’s, ‘n paar kraaie afgeweer en in die algemeen heel tevrede gevoel met die daaglikse gekwetter en gekwaak.
Nou word my boom ook afgekap.
Ek is te slapgat en bang vir verandering om die alternatief behoorlik te ondersoek, nou sit ek maar benoud en piep en tjilp, seker tot die laaste tak afgesaag gaan word. Ek gaan my nessie mis.
Onlangse kommentare