Waarom is my hoenertjie se hartjie dan so seer?

Julie 27, 2012 in Sonder kategorie

Depressie is iets wat ek van binne sowel as van buite leer ken het. Nié jou maat nie.

 

Die siekte van die moderne tyd. Die siekte wat sommiges sover dryf om eerder ‘n einde aan alles te probeer maak.

 

Dis nie depressie wat ek wil bespreek nie. Dis iets wat ander mense met wit jasse en dik brille in elk geval meer vloeiend as ek sal kan doen. Wat my eerder toenemend begin dronkslaan is die aard van sommige mense wat daaraan ly. Nie noodwendig jou bedrukte pessimiste wat almal se lewens loop en vergal nie, maar die sprankelmense, daardie tipes wat ons ander se lewens verryk, lig uitstraal en iets spesiaals bydra tot die ordinêre menswees.

 

Ek lees gister dat Bruce Springsteen ‘n lyer is. Ek het gehoor van Leonard Cohen, van Mariah Carey en Johannes Kerkorrel. Kosbare Lindie Stander. In my eie vriende- en familiekring is daar dierbare, begaafde mense wat swaarkry, wat dag na dag moet veg teen daardie swaar wolk wat alle vooruitsigte versomber.

 

Dis ook nie noodwendig selfbeeldkwessies nie. Dis eerder ‘n onvermoë om te cope met die daaglikse sleur en uitsigloosheid. Mens vra wat is die sin (en cos, en tan) van hierwees. Mense wat dalk oorbedeel is met die vermoë om te soek na iets blywends en ewigs in ons troostelose bestaan, in die onbillikhede van menseverhoudinge en omstandighede. In die liedjie Vincent sing hulle “this world was never meant for one as beautiful as you”. Soos pragtige, delikate en kleurvolle paradysvoëls in ‘n star ysterhok. Breyten in die tronk.

 

Hoe het dit gebeur?

 

Hoe het evolusie ons verby die punt geneem wat nodig is om effektief te oorleef? Het die oormaat van nuwe breinselle mekaar toevallig begin raaksien en onbedoelde skakelings bewerkstellig? Dieselfde skakelings wat kritiese denke moontlik maak, maar ook ‘n waardering vir die estetiese, kameraadskap, soeke na ‘n transendente goddelikheid – daardie selfde oorgroeide skakelings is dalk ons ingeboude padkaart na die belewenis van seer, berou en skuld. En depressie.

 

Soos ‘n beswaarde skrywer (oeps – ekself (bloos)) dit eenkeer, dekades terug gestel het:

 

Met ‘n hamergeklop

teen die sewende steen

is daar wesens gepleeg

van klip en molibdeen.

Hulle doen nog veel meer

as aanvanklik gemeen-

hulle vra “Waarvandaan?”

en soms selfs ook “Waarheen?”

Hulle’s gans onversoen

met die tyd hul verleen:

dis ‘n helse lawaai

tot hul terugkeer tot steen.

Ek bied hier nie veel van ‘n troos nie, ek weet. Ek los dit vir daardie slim mense wat brose strukture van binne af kan help herbou. Solank ons weet ons is nie alleen nie, ons is nie simpel nie – ons is reg, dis die wêreld wat verkeerd-om draai.

 

45 antwoorde op Waarom is my hoenertjie se hartjie dan so seer?

  1. Goeie & waar stuk.

  2. palamino het gesê op Julie 27, 2012

    Veral skeppende mense ly daaraan. Eric Maisel werp nogals lig op die hoekoms en waaroms in sy boek: The Van Gogh blues…

  3. zephur het gesê op Julie 27, 2012

    Ek het nog nie met daai donker ding te doen gehad nie…hopelik los hy my uit…ek skeer gek en lag seker te veel

    Party dae voel ek af…maar dis meer die omstandighede waaronder ek werk wat my laat kopskud

  4. postatdo het gesê op Julie 27, 2012

    Gorgeous writing

  5. ons kuikens lê ons na aan die hart

  6. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Dit vang my nogal veral in die winter.

  7. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Baie dankie, Planeet.

  8. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Ek weet nie of ek meer wil weet nie! 🙂

  9. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Thanks Jade! It is not customary to be that nice on this forum… 🙂

  10. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Hulle doen.

  11. postatdo het gesê op Julie 27, 2012

    …eee…I am not usually this nice…your writing is excellent, you choose your words with care and keep it simple so that it does not overshadow the message…I am also in a very good mood…it will probably not last…enjoy your weekend.

  12. Janklaas het gesê op Julie 27, 2012

    Thanks Jade. Hope the mood lasts forever. Enjoy your weekend.

  13. TS het gesê op Julie 27, 2012

    Gelukkig nie vir altyd nie …

  14. Dis nou inderdaad ‘n bekvol! Ek glo dat ons lewens-siklus ook bestaan uit dag en nag en somer en winter ens. Dis vandat hulle nag die naam depressie gegee het met ‘n aaklige konotasie daaraan geheg, dat dinge begin skeefloop het. Enige ou wat heeltyd met ‘n glimlag rondloop lieg, ek sou eerder sê dis abnormaal. Ons het die diep donker tye nodig om stil te raak om te kan hoor.
    As daar nou iets is waarvoor ek banger is as die duiwel vir ‘n slypsteen is dit die outjies in die witjasse met die botteltjies prozac in hulle jas-sakke.

  15. Leonard Cohen was genees deur Zen..wanneer jy eers Boeddhisme aangeneem het sal al jou probleme oor wees…

  16. loudavisi het gesê op Julie 27, 2012

    Gee vir jou hoendertjie net sewe pitte kos
    Dan word jou hoendertjie se skewe litte los!

    Ok – Lang storie, maar wees geduldig:
    Vandag het ‘n gr 9 dogtertjie in my arms geval en my skouer natgehuil. Hoekom? Sy is uitgebrand. Sy het Woensdag van Springbok af teruggekom nadat sy aan ‘n toneelfees deelgeneem het. Hulle moes jaag want haar danssessie was Wo aand hier by ons eisteddfod. Donderdag het sy aan 8 danse deelgeneem en vandag aan 8 items. Sy moet more-oggend 4u opstaan want die bus ry dan om hulle netbalspan Ceres toe te neem en sy het nog nie haar huiswerk vir Maandag begin doen nie.
    Wat doen ons aan ons kinders om hulle so te druk om te presteer? Af af af !!!

  17. Daar was ‘n antieke beskawing wat geglo het dat hulle die offers was aan die gode namens die hele mensdom, sodat die gode behae kan vind in hulle beauty en die mensdom sal seën.

  18. Uiters knap geskryf!

  19. HeavyHenry het gesê op Julie 28, 2012

    Nice stuk!

    Mens moet vrede maak.

  20. MEleroux het gesê op Julie 28, 2012

    UIttekende stuk, Diepsiel. Het ook al gewonder, maar kan dit nie so mooi verwoord nie. Dit is inderdaad dikwels meer bekende en begaafde mense wat hiermee worstel. Ek dink hulle gevoelsvlakke is dalk fyner ontwikkel. Lou, wat aan daai kind gedoen word is eintlik vreeslik – alles in die naam van prestasie

  21. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    Sjoe Tina, dis ‘n bloedstollende opmerking.

  22. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    SAD – seisoenale affektiewe sindroom. Ek wonder net soms of die feit dat die ding nou ‘n naam gekry het, dit nie dalk vir my nou gelegitimeer is nie – ek mag maar so voel want dis ‘n amptelike kwaal!

  23. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    Raait… Ek is seker hulle is almal heeltyd heppie.

  24. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    Asof hulle nog ons hulp ook nodig het om erger oor hulleself te voel!

  25. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    G ‘n wonder hulle het uitgsterf nie.

  26. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    Sjoe dankie, Thomas.

  27. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    True. Die ‘hoe’ is die bogger.

  28. Janklaas het gesê op Julie 29, 2012

    Nuwe tipe, rekenaargesteunde ‘fly-by-wire’ vliegtuie word doelbewus meer onstabiel ontwerp om hulle meer maneuvreerbaar te maak. Hulle leef dus ook altyd so op die rand van ‘n ramp, maar met veel meer potensiaal. Klink my na dieselfde soort ding met kreatiewe mense.

  29. TS het gesê op Julie 29, 2012

    Eish … sit ek met my voet in die mond. Ek bedoel dat daar altyd weer beter tye voorlê!

  30. HeavyHenry het gesê op Julie 29, 2012

    Jip!

  31. bloukaap het gesê op Julie 29, 2012

    treffend

  32. Die conquistadors het hulle uitgemoor maar wat. Behalwe nou dit.
    The beautiful ones always smash the picture.

  33. endlich het gesê op Julie 31, 2012

    Die wereld het begin wankel. Dis nie ons nie. ons voel dit net

  34. endlich het gesê op Julie 31, 2012

    Interessante stelling.

  35. endlich het gesê op Julie 31, 2012

    Dis bietjie rof!! Dankie dat daar onnies soos jy is op wie se skouers gehuil kan word.

  36. loudavisi het gesê op Julie 31, 2012

    Josfien, dis die skool se skuld…hulle moet vir twee jaar elk 5 goue toekennings kry om ‘n erekleure kultuur-balkie te kry. Hulle kompeteer seker met mekaar of iets…shame
    Wag ek blog gou my mening hieroor.

  37. endlich het gesê op Julie 31, 2012

    dis blerrie verkeerd. Die kompetisie ding in skole steek my dwars in die krop. Jy is of die beste of jy tel nie! Ek lees jou storie more. Ek gaan gou bietjie huis hou. Lekker aand!!

  38. Ek’s ook ‘n lyer. Jou stuk is uitstekend. Dankie!! Wat vir my uistaan is “Mense wat dalk oorbedeel is met die vermoë om te soek na iets blywends en ewigs in ons troostelose bestaan, in die onbillikhede van menseverhoudinge en omstandighede.” Ek’s ook ‘n opgewekte grapmaker – min mense sal raai wat werklik soms in my kop aangaan.

  39. “Ons het die diep donker tye nodig om stil te raak om te kan hoor.” Ja, miskien as jy die blues het en bietjie “down” is, maar al wat ek en meeste ander lyers hoor is selfvernietigende wanhoop. Voel of ‘n geraamtehand om my hart druk. Daar’s ‘n major verskil tussen normale oppe en awwe en depressie. Sekerlik is daar mense wat dit geniet om pilletjies te sluk en te kla, maar dis ‘n siekte soos enige ander. Seker die verskriklikste ding wat jy kan ervaar. Ek praat van ‘n verlammende gevoel wat alle fasette van jou lewe infiltreer, en ‘n depressielyer het GEEN beheer daaroor nie.

  40. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2012

    ‘…we are the movers and shakers
    of the world, forever, it seems… ‘

  41. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2012

    Oulik. Wens ons kan dit ophou voel.

  42. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2012

    Dankie, Pruimtwak.

  43. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2012

    David Cassidy se liedjie: see the funny-looking clown … but be careful not to feel if his funny face is real…

  44. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2012

    Sjoe, ek hoor wat jy sê. En voel saam met jou. Ek beleef soms so ‘n ietsie van dit waarvan jy praat en verstaan dit baie goed. Baie sterkte.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.