As jy my kon volg

September 18, 2011 in Sonder kategorie

In die afgelope week het ek weer ‘n stille kis sit en aankyk wat voor in die kerk staan, terwyl bedroefde geliefdes met liedere en woorde hulle afskeid neem.

Ek betree nou ‘n ouderdomsgroep waar hierdie soort kerkgeleentheid meer en meer dikwels gebeur, na ‘n leeftyd van dope, aannemings en troues.

Ek het nogal gesit en mymer hoedat die lewe deur verskillende generasies van vleeswordings spoel, soos ‘n golf in die see dit regkry om verskillende seebamboese op sy pad strand toe op te rig, en as’t ware met lewe te inspireer. So kry ons elkeen ons kansie op ‘n deurspoel van die lewe – vir voel, vir droom, vir hoop en vir seerkry, voordat die golf na ons in ons kinders en hulle kinders voortgesit word.

Iets omtrent hierdie besondere begrafnis was egter anders.

In Die Burger was daar ‘n paar weke terug ‘n brief van ‘n vrou wat haarself as “eensaam en hartseer” beskryf. Sy sê daarin dat haar man sy geloof verloor het en dat sy nou verplig is om kerkdienste alleen by te woon, en dat sy die samesyn en saambidding mis.

My hart het uitgegaan na hierdie vrou. Ek onthou die koesterende warmte, as student, as jy onder die gebed in die kerk die hand van jou liefie kon vasdruk. Ek onthou die intense saambid as dit sleg gaan en die saam bly-wees as dit goed gaan. Ek kan dus die leemte verstaan as sy nie meer die warmte van haar man langs haar voel as sy haar diepste vrese en dankbaarhede teenoor haar geliefde God wil uitspreek nie.

Die saamwees spruit uit die bekende wêreld waarin ons grootgeword het, en dit is die soort van kameraadskap wat ons as vanselfsprekend leer aanvaar het.

In ‘n toenemend moderne omgewing, waar ou aannames bevraagteken word, waar nuwe werklikhede meeding met oue tekste, geskrifte en leringe, waar mense meer en meer ontnugter word deur die optrede van prinse en traumatiese belewenisse, gebeur dit soveel meer dat mense wegdraai van die sekerhede waarmee hulle grootgeword het. Mense verlaat die kerk, word kerkloos en word selfs aktiewe teenstanders van alles waarvoor die kerk staan.

Waar dit voorheen met “ander mense” gebeur het, gebeur dit nou met ons eie mense, met ons eie geliefdes en familie. Die vrou in Die Burger se hartseer is meer en meer ons eie hartseer.

Die hartseer is seker egter ook haar man se hartseer. Sy ou sekerhede is hom ontneem en die basis waarop ‘n groot deel van sy verhoudingslewe gebou is, is nou weg. Hy kan nie in iets bly glo bloot ter wille van sy liefde vir sy eie mense nie. Dit wat sy vrou in die kerk vind, moet hy nou op sy eie eensame wyse deurleef en sy eie vrede soek in die groot, meedoënlose siklus van lewe en dood.

Hierdie ellendige gedagtes het by my kom spook toe ek toevallig laasweek ‘n spesifieke liedjie van Koos du Plessis moes sing. Ek moet bely, ek het die woorde voorheen bloot meganies gesing omdat die melodie so mooi was, maar skielik het die blerrie woorde in my keel vasgesteek. Koos wil hê sy geliefde moet saamkom na sy eie soort hemel:

As jy my kon volg op die vleuels van die wind, na wêrelde bokant die maan

Sou jy my spoor in die melkweg vind, my tent tussen sterre sien staan

En vervolg dan:

As jy my kon liefhê tot alles vergaan en nooit oor die skeiding sou vrees

Sou ons die lewe kon leer verstaan, ‘n oomblik gelukkig kon wees

Maar ons is nog jonk en die wêreld is oud

En voor ons het almal gefaal

Neem nou my hand, want die nag word koud –

Dis dalk die heel laaste maal

Soos ek dit verstaan, bespiegel hy oor die moontlikheid dat ons mekaar na die dood nie weer sal sien nie. Hy sien die koue nag van verwydering en stilte. Ha, praat NOU van eensaam en hartseer!

En so sit ek toe ‘n begrafnisdiens en deurtob oor die ou-ou aantyging dat ‘n versugting na lewe na die dood bloot ons wyse is om af te reken met ‘n fisiese onafwendbaarheid.

En vrede dan vir hulle wat vrede daarin vind en sterkte vir die wat dit nie kan doen nie.

27 antwoorde op As jy my kon volg

  1. Daai fisiese onafwendbaarheid!

    Hou van jou prinse wat snaaks optree.

  2. TS het gesê op September 19, 2011

    alleen is nie altyd eensaam nie

  3. Wens ek kon jou daai liedjie hoor sing.
    Klein Ezra het noudiedag my mond toegedruk toe ek vir hom sing. Dink daai kleintjie het smaak.

    Dis hartseer as mense deur die lewe geskei word.

  4. Ek het ook al gedink oor daai nooit weer sien nie–dis die alleenste alleen wat ek my kan indink.

  5. Ai, ek het so baie van daai prinse geken. En ek dink ek sou ook een gewees het.

  6. Hei, baie dankie Thomas!

  7. Dis gelukkig baie waar. O, en eensaam is nie altyd alleen nie!

  8. 🙂 Hou aan sing.

    Sonder verhoudinge sou die dood baie draagliker gewees het.

  9. Is so. En, as ‘n mens soms dink dis makliker om eerder pad te gee, dink mens aan die dierbares wat nou alleen gaan wees. Dan is dood sommer selfsug.

  10. Ek kan my indink jy verstaan presies waarvan ek praat, liewe Flenters. Jy’t daai kis ook al ‘n hele paar keer sien staan.

  11. Lou, weet jy dat JanKlaas ‘n baie mooi sangstem het

  12. dit bly maar die raaisel in die spieël

  13. Goed gaan.

  14. Hartseer, maar waar en ek stem saam met jou antwoord hieronder: “aleen” is nie altyd “eensaam” nie, EN “eensaam” is nie altyd “alleen” nie!! Goed gaan Janklaas!

  15. Pragtig geskryf. Jy verwoord die neiging tot bevraagtekening van ou aannames uitstekend.

  16. Een van die meisies in my seun se klas,se ma, is 3 jaar gelede oorlede en haar pa is vroeër die week oorlede in ‘n motorongeluk… die kinders is so hartseer! Begrafnis is vandag en my seun en ‘n groep van die kinders gaan om die meisie by te staan… het my weereeens laat besef hoe vinnig die lewe kan verander!

  17. Issie.

  18. 🙂 Is so.

  19. Dankie vir die inloer, Pinkpolkadot!

  20. Hallo Woefkwadraat. Klink my ek en jy sou lekker kon gesels.

  21. Sjoe, dis nogal rof. Ek verkies half om glad nie te dink aan die implikasies van wat van geliefdes sal word nie.
    Dalk is dit nie ‘n slegte idee om sulke beplanning te doen nie! Nie oor geld nie, maar oor die soort lewe wat hulle sal hê. Bietjie morbied, though.

  22. bloukaap het gesê op Oktober 4, 2011

    eina eina

  23. Hi Jan Klaas, hoe gaan dit? Jy is maar skaars hier op die blogs?

  24. Ek hang nog hier rond, maar dis half of ek eers ‘n paar ander draaie moet gooi. Ek hoop om weer terug te kom.

  25. Hi daar,
    ek was self maar baie skaars in blogland gewees… het nou die vorige en hierdie possie gelees… jy verwoord baie dinge wat ek self ook in die laaste jaar by hierdie geleenthede ervaar het… die ergste was egter om by ‘n ‘begrafnis’ te wees van iemand wat nie aan ‘n kerk behoort het nie en waar niemand seker was of die persoon ooit ‘n lewende verhouding met die Here gehad het nie… waar daar nie eens ‘n stukkie Skrif vir bemoediging gelees is nie, nie eens gebid is nie… Dit was sommer net ‘weird’… dit is dan wanneer ek dankie sê omdat ek weet waarheen ek gaan en ek weet dat daar daarin ook vir my kinders en geliefdes vrede en berusting kan lê sou my dag en uur aanbreek. xx

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.