Xenofobie?

September 5, 2011 in Sonder kategorie

“Vorm my en maak my net soos U wil”, het ek vroom gesing.

En so lank was ek die slagoffer daarvan. Dis eers hier aan die grense van my oudag dat ek my nou begin vervies vir die mate waarin ek gekonformeer het om na ander se pype te dans. Juis omdat hulle my “kon vormeer”.

Wat is dit met ons dat ons so graag almal wil inpas in hokkies wat vir onsself gerusstellend is? Hier sit ek my weer en vervies vir almal wat ‘n eiertjie te legge gehad het oor Frans Steyn, omdat sy hare dan kwansuis te lank sou wees vir ‘n Springbok. “Lyk soos ‘n hippie”, knor ‘n vies tannie in die Burger, en dit word ge-eggo deur ‘n horde sms’e van goeie mense wat instemmend kuberkopknik oor haar Groot Insig. Volksvreemd, seker.

Ek veronderstel haar perfekte Springbokspan sal almal mooi eenvormig short back ‘n sides dra, met ‘n effense olietjie op die kort stukkie kuif.

Dieselfde soort debat is ook gevoer omdat daar spelers is wat dit hoegenaamd waag om met ‘n ander kleur skoene te speel. Dit pas mos nie in by ons patroon nie – hoe durf hulle daarvan afwyk?

Hoewel daar baie andere is wat oneindig meer rede as ek het om hieroor opgewerk te raak, is ek buite verhouding gevoelig oor die onderwerp. So graag sou ek ook lang hare wou gedra het (toe ek nog kon!), so graag ek ekself wou wees as ek eerder soet, met voetjies bymekaar moes sit. Soveel klein, wanhopige pogings net om by ander mense se strakke patroon in te pas van hoe ‘n goeie Afrikaner-‘kristinmens’ moet lyk en optree.

En ai, dan is daar dié mense wat ewig geroepe is om daardie reëls toe te pas. Luister as jy saam met ‘n groep mense televisie kyk: “Kyk daai man se hare”, “Watse broek het sy aan?”, “Sy oë sit darem te naby aan mekaar”…

Self was ek nie altyd die wafferse grootste ligdraer van vernuwing en waagmoed nie. Deur die jare het ek maar my Woolliesbroeke en broederbondhemde gedra, selfs ‘n safaripak, was ek ouderling, het ek Die Transvaler getrou gelees en die vuil Witsies beskinder as hulle dan weer sou betoog – dit het my bitter lank geneem om myself te ontdek, en te begin om op te hou om andere se handpop te wees.

Ek is so moeg daarvoor, ook in myself. Dit is dieselfde onverdraagsaamheid wat veroorsaak dat ons andere verstoot wat anders dink, wat anders klink. Ons wil so graag hê die ganse mensdom moet soos ons lyk, hulle hare dra soos ons, hulle woorde uitspreek soos ons, nie lelik praat nie, ons musiek luister, heteroseksueel wees, ons geloof aanhang, nie te vet wees nie, dieselfde skoene dra…

Watse vervelige wêreld sal dit nie wees nie? Hoe ellendig sal dit nie wees as almal dieselfde lyk, soos vlaktes en vlaktes mielielande nie?

Ek het die voorreg gehad om ‘n paar jaar in Knysna te woon. Wat ‘n wonderlike fees van kleure en geure was dit nie. Daar is ryk boemelaars en arm glitterati. Daar is kunstenaars, malles, vrolikes, beswaardes, mooies en lelikes, digters, bouers, luies en skelms. ‘n Malse verskeidenheid, soos fynbos in die Kaap. Daar is ruimte vir almal en tongklik vir min.

Dis asof die stadslewe, veral, geneig is om al die interessante andersheid uit mense uit te bleik. In die stad kry jy nie sommer daardie groot karakters van die platteland nie – Oom Swartjan, Oom Langmaans, Tannie Bes…

Voorstelle het ek nie. Self moes ek omtrent ‘n lewe lank aan my eie geite afslyt om dinge beter te verstaan. En, dan is dit asof ek deesdae ‘n heeltemal nuwe klomp geite wil aanleer – ek is dan juis onverdraagsaam teenoor onverdraagsames!

27 antwoorde op Xenofobie?

  1. Neander het gesê op September 5, 2011

    Jip, ‘n malse verskeidenheid.
    Slaap jy nie?

  2. Each to his own, né?

  3. wesnwew het gesê op September 5, 2011

    wat ‘n stunning pos!
    Ek hou van andersgeit

  4. TS het gesê op September 5, 2011

    mmmmm skerp

  5. Hierdie dominee stem saam met jou!

  6. Na daai hartuitstort was ek so pê, ek moes gaan slaap!

  7. Dankie Thomas!

  8. So verkies ons dit mos.

  9. En ek hou dan van jou!

  10. mmmm dankie, Tina!

  11. Ek waardeer dit.

  12. Neander, en JY vra om 03:44??

  13. voel ek nou soos die jellietjie, gegiet in die vorm wat ander meen dit is hoe jellie moet lyk, so kleine monumentjie.

  14. zephur het gesê op September 5, 2011

    Ag wat die Bokke gaan goed doen…indien nie moer ons hulle…hehehe

    Hallo Jan hoe lyk dinge

  15. avega het gesê op September 5, 2011

    Dit is seker die ding waaroor ek die spytste is dat ek nie lankal daaraan gewerk het; om as ek iets van iemand sê, dat dit iets goed sal wees.

  16. Jellie is darem kleurvol!

  17. Haai daar Zep! Solank dit nie in “n rumoerdery ontaard nie..

  18. Daai is nogal ‘n baie moeilike ding. En ‘n goeie ding.

  19. Ongelooflik hoe graag ons dit al hoe komplekser wil maak. En hoe gou dit ontaard in ‘n uiterlike vertoon.

  20. Hi daar, ek vang nou eers gou jou laaste 4 inskrywings op.. jammer om te hoor van jou MTN drama… hulle is uiters onbehulpsaam waar dit enige vorm van naverkoopdiens aangaan… het self ook daardie sim-kaart paadjie gestop – genadiglik het die bogger nie kans gehad om my rekening so hoog op te jaag nie, maar in n paar uur was die rekening amper R2000.

    Ek is self maar baie ligtig om my opinie te veel en te openlik uit te spreek want “onthou dat jy met dieselfde oordeel veroordeel gaan word as waarmee jy ander veroordeel” lê maar altyd in my gedagtes… xx

  21. Jou kommentaar by Flenters laat my nou sommer dink aan my dogtertjie se weergawe van ‘n kinder-bybel-liedjie.. die woorde sê:
    “My God is so groot, so sterk en so magtig daar’s niks wat my God nie kan doen.”

    Haar weergawe daarvan:
    “My God is so groot, so sterk en so maklik, daar’s niks wat my God nie kan doen.” en al het ons haar soveel keer probeer oortuig dat maklik eintlik magtig moet wees, het die betekenis van wat sy sing my uiteindelik ‘n paar uur later getref… want eintlik is sy reg… Hy is so maklik.. dit is ons wat Hom kompliseer met al ons eie intrepetasies en rituele wat ons aanhang.. laat my baie dae dink dat die Woord nie verniet sê dat ons geloof soos ‘n kind aan die dag moet lê nie.
    xx

  22. LinFlin het gesê op September 6, 2011

    Ek verwys hier na jou vorige blog posts… hoop hulle word sowaar swaar gestraf!!!!!!! Grrrrr. Sulke dinge maak my ontsettend boos. Mag reg en geregtigheid geskied!

  23. Ek het danksy die Rapport-verbruikersdiens ‘n respons gekry. Of dit na iets gaan lei weet ek nie. Ek bly maar hoop.

    Die oordeel is waar. Aan die ander kant is dit swaar om altyd nice te wees!

  24. Dankie Linfin!

    Soms wens ek die hof se oordeel kan by die skuldige dieselfde soort wroeging en pyn veroorsaak.

  25. Lyk my as jy mense aan hulleself oorlaat sal hulle hulle godsdiens al hoe meer ornaat wil bedryf. Die hoogtepunt is vir my daardie Russiese en Griekse predikers met die swaar goue klede en krone, of katedrale vol kuns en sieraad. Dan eerder daardie arm monnike wat pap en rys eet!

  26. Ek haat dit dat almal in dieslefde “boksie” moet inpas!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.