As jy my kon volg
September 18, 2011 in Sonder kategorie
In die afgelope week het ek weer ‘n stille kis sit en aankyk wat voor in die kerk staan, terwyl bedroefde geliefdes met liedere en woorde hulle afskeid neem.
Ek betree nou ‘n ouderdomsgroep waar hierdie soort kerkgeleentheid meer en meer dikwels gebeur, na ‘n leeftyd van dope, aannemings en troues.
Ek het nogal gesit en mymer hoedat die lewe deur verskillende generasies van vleeswordings spoel, soos ‘n golf in die see dit regkry om verskillende seebamboese op sy pad strand toe op te rig, en as’t ware met lewe te inspireer. So kry ons elkeen ons kansie op ‘n deurspoel van die lewe – vir voel, vir droom, vir hoop en vir seerkry, voordat die golf na ons in ons kinders en hulle kinders voortgesit word.
Iets omtrent hierdie besondere begrafnis was egter anders.
In Die Burger was daar ‘n paar weke terug ‘n brief van ‘n vrou wat haarself as “eensaam en hartseer” beskryf. Sy sê daarin dat haar man sy geloof verloor het en dat sy nou verplig is om kerkdienste alleen by te woon, en dat sy die samesyn en saambidding mis.
My hart het uitgegaan na hierdie vrou. Ek onthou die koesterende warmte, as student, as jy onder die gebed in die kerk die hand van jou liefie kon vasdruk. Ek onthou die intense saambid as dit sleg gaan en die saam bly-wees as dit goed gaan. Ek kan dus die leemte verstaan as sy nie meer die warmte van haar man langs haar voel as sy haar diepste vrese en dankbaarhede teenoor haar geliefde God wil uitspreek nie.
Die saamwees spruit uit die bekende wêreld waarin ons grootgeword het, en dit is die soort van kameraadskap wat ons as vanselfsprekend leer aanvaar het.
In ‘n toenemend moderne omgewing, waar ou aannames bevraagteken word, waar nuwe werklikhede meeding met oue tekste, geskrifte en leringe, waar mense meer en meer ontnugter word deur die optrede van prinse en traumatiese belewenisse, gebeur dit soveel meer dat mense wegdraai van die sekerhede waarmee hulle grootgeword het. Mense verlaat die kerk, word kerkloos en word selfs aktiewe teenstanders van alles waarvoor die kerk staan.
Waar dit voorheen met “ander mense” gebeur het, gebeur dit nou met ons eie mense, met ons eie geliefdes en familie. Die vrou in Die Burger se hartseer is meer en meer ons eie hartseer.
Die hartseer is seker egter ook haar man se hartseer. Sy ou sekerhede is hom ontneem en die basis waarop ‘n groot deel van sy verhoudingslewe gebou is, is nou weg. Hy kan nie in iets bly glo bloot ter wille van sy liefde vir sy eie mense nie. Dit wat sy vrou in die kerk vind, moet hy nou op sy eie eensame wyse deurleef en sy eie vrede soek in die groot, meedoënlose siklus van lewe en dood.
Hierdie ellendige gedagtes het by my kom spook toe ek toevallig laasweek ‘n spesifieke liedjie van Koos du Plessis moes sing. Ek moet bely, ek het die woorde voorheen bloot meganies gesing omdat die melodie so mooi was, maar skielik het die blerrie woorde in my keel vasgesteek. Koos wil hê sy geliefde moet saamkom na sy eie soort hemel:
As jy my kon volg op die vleuels van die wind, na wêrelde bokant die maan
Sou jy my spoor in die melkweg vind, my tent tussen sterre sien staan
En vervolg dan:
As jy my kon liefhê tot alles vergaan en nooit oor die skeiding sou vrees
Sou ons die lewe kon leer verstaan, ‘n oomblik gelukkig kon wees
Maar ons is nog jonk en die wêreld is oud
En voor ons het almal gefaal
Neem nou my hand, want die nag word koud –
Dis dalk die heel laaste maal
Soos ek dit verstaan, bespiegel hy oor die moontlikheid dat ons mekaar na die dood nie weer sal sien nie. Hy sien die koue nag van verwydering en stilte. Ha, praat NOU van eensaam en hartseer!
En so sit ek toe ‘n begrafnisdiens en deurtob oor die ou-ou aantyging dat ‘n versugting na lewe na die dood bloot ons wyse is om af te reken met ‘n fisiese onafwendbaarheid.
En vrede dan vir hulle wat vrede daarin vind en sterkte vir die wat dit nie kan doen nie.
Onlangse kommentare