Die moeder in

November 1, 2010 in Sonder kategorie

Medelye is vir my so ‘n mooi woord. Iets soos ‘n samesering, ‘n pyndeling. ‘n Gaan-haal-vir-jouself van die trane van ander.

Ek het so ‘n soort vrou. Ek moes dit gesien kom het toe ek uitvind sy het oorspronklik maatskaplike werk geswot, maar die seer het te veel by die eie agterdeur ingekom.

Op pad na haar eerste kuier by my ouers in Standerton het sy daar deuskant Roodebank skielik stil geraak. Toe ek ‘n hele ent verder kyk wat aangaan, is die ou gesiggie vol trane. Wil nie praat nie.

Ek het so ‘n stadige kykweer gedoen van alles wat ek gesê het, myself onskuldig bevind, maar toe onthou dat daar ‘n ent terug ‘n brak langs die pad by die doodgeryde lyk van sy maat gestaan het. En vandaar die trane. Ek het die ou se hand maar vasgehou tot sy beter begin voel het.

Een keer, op pad Kaap toe, selfde ding. Die kykweer toon toe ‘n skaaplammetjie wat op ‘n manier duskant die heining beland het met sy besorgde ma aan die ander kant. Kos my mooitjies omdraai om die donnerse ongedierte te gaan soek, kilometers terug. Alles vir niks – die klein twak het lankal teruggekruip.

Duidelik het hierdie saak nie by my dierbare kinders verbygegaan nie. Hulle kan staatmaak op ‘n onverdunde stroom simpatie as hulle die regte geluide maak, of bloot die regte stemtoon inklits.

Male sonder tal gebeur dit dat pa die kinders bel, met die bloedjie praat en opgeruimd oortuig word dat alles hunky-dory is, dat die disselbome klop en dat die lug netjies op sy plek is daarbo. Gee ek egter die gehoorstuk aan die moeder, verander die klimaat na bewolk en koud, word daar ingewande uitgeryg, klere geskeur, as oor die hoofde gestrooi en in die algemeen net gekla.

Hier sit pa ewe tevrede aan sy kant van die bed en purr, krap miskien ingedagte sy oor, en hier ontplof moeder met onheilspellende verhale van tweedrag, sektes, nood en muitery in sy linkeroor. Alles uit die selfde selfoon uit.

Eers het ek gedag sy verstaan die taal nie te waffers nie, totdat ek die kinders se agenda leer verstaan het. Onder die item “Pa:” staan daar “Algemene weerberigte en nuus. Onthou, hy is vlak.”. Onder die item “Ma:” staan geskryf: “Begin by die sondeval, beklemtoon die pyn van die erfsonde en die eie geboorte en let veral op die huidige ellende. Onthou, sy is diep.”

En sal julle my glo, ek het dit leer waardeer. Minstens word die ou bloedjies nou nie groot in ‘n woestyn van vergetelheid nie, met ‘n pa wat eintlik maar eers die volgende dag verstaan waaroor al die fuss gaan. Ek vermoed, so tussen my sistemiese onnoselheid en haar klein-klein hartjie, vorm ons ‘n redelik gemiddelde stel ouers wat darem nie te veel skade aan die volgende geslag sal aanbring nie.

 

Nota aan kinders: Dis net ‘n grappie, hoor. Hier is dit in elk geval blykbaar net die bloggers wat my glo. Bel gerus as julle ons nodig het!

 

28 antwoorde op Die moeder in

  1. lisabeth het gesê op November 1, 2010

    Ek sou 20 sterre gee as ek kon…bahahaaa! Hierdie is ons huis, van die skaaplam tot die sondeval!

  2. Neander het gesê op November 1, 2010

    Mooi so Jan.

  3. Ons wil nie die broodwinners ontstel nie.
    Hier gaan dit ook so. Enigste verskil is dat ons nie alles vir die pa sê nie, dan word die molshopie ‘n berg.

  4. TS het gesê op November 1, 2010

    Aha dis nou ‘n lekker blog om op ‘n Maandagoggend te lees. Dankie. En ja sê maar vir die kinders ek glo elke woord.

    Hoop hulle het van die slegte ondervinding bietjie herstel?

  5. nou kan ek nie met ‘n gunsvra kom nie, want dit gaan voel of ek die klein hartjie ( weet dit is so) uitbuit.

  6. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Ek kan my Lisa se klein hartjie voorstel!

  7. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Dankie, Neander.

  8. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    He he. Moenie sand in pa se olie gooi nie.

  9. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Die herstel is nie maklik nie. My skapies kry swaar.

    Die universiteit het ‘n wonderlike steunstelsel.

  10. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    🙂 So ‘n kinderboekweergawe?

  11. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Baie dankie, Eaven!

  12. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Snaakse is, my vrou se ma het nie nonsies gevat nie. Dit was ‘n geval van “Ruk jou reg en smaail…”

  13. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    O, daar is plek vir ‘n hele ANC-konvooi, blou ligte en al, in daardie klein hartjie.

  14. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    En snaaks, dit is vir hierdie ma baie moeilik om self troos te soek. Kleintyd al geleer om dit maar self te dra.

  15. Baie goed en met humor gestel, het geniet om dit te lees.

  16. Berwick het gesê op November 1, 2010

    :-))

    Lekker geskryf.

  17. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Baie dankie, Berwick.

  18. Janklaas het gesê op November 1, 2010

    Dankie, Trixie!

  19. FOXY1975 het gesê op November 2, 2010

    Ek’t nou hierdie inskrywing van jou geniet!
    Dit klink so tipies kind!

  20. Janklaas het gesê op November 2, 2010

    Janee, ek was seker maar selg so!

  21. MEleroux het gesê op November 2, 2010

    Hierdie situasie klink al te bekend en dit baie fyn beskryf! In ons gesin loop dinge ook amper só, behalwe dat die fokus meer is om wie se arm te draai vir wat jy wil bereik…. Pa of ma?

  22. Janklaas het gesê op November 3, 2010

    Hehe, ja, dikwels het ma die oor en pa die beursie…

  23. skaar my by die kinders…..

  24. “Die moeder in” … Skerp!

  25. LOL…ek dink alle moeders is “diep” en alle vaders “vlak”…jammer, maar ek dink dit is maar net soos hoe ons geskape is!

  26. Janklaas het gesê op November 4, 2010

    Ja, maar jy het maar self ‘n sagte ou hartjie…

  27. Janklaas het gesê op November 4, 2010

    Ek dink ek het dit al voorheen gesê: ek hou van jou!

  28. Janklaas het gesê op November 4, 2010

    Niemand soos die kinders om vinnig vir ‘n ou uit te wys hoe vlak jy eintlik is nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.