Medelye is vir my so ‘n mooi woord. Iets soos ‘n samesering, ‘n pyndeling. ‘n Gaan-haal-vir-jouself van die trane van ander.
Ek het so ‘n soort vrou. Ek moes dit gesien kom het toe ek uitvind sy het oorspronklik maatskaplike werk geswot, maar die seer het te veel by die eie agterdeur ingekom.
Op pad na haar eerste kuier by my ouers in Standerton het sy daar deuskant Roodebank skielik stil geraak. Toe ek ‘n hele ent verder kyk wat aangaan, is die ou gesiggie vol trane. Wil nie praat nie.
Ek het so ‘n stadige kykweer gedoen van alles wat ek gesê het, myself onskuldig bevind, maar toe onthou dat daar ‘n ent terug ‘n brak langs die pad by die doodgeryde lyk van sy maat gestaan het. En vandaar die trane. Ek het die ou se hand maar vasgehou tot sy beter begin voel het.
Een keer, op pad Kaap toe, selfde ding. Die kykweer toon toe ‘n skaaplammetjie wat op ‘n manier duskant die heining beland het met sy besorgde ma aan die ander kant. Kos my mooitjies omdraai om die donnerse ongedierte te gaan soek, kilometers terug. Alles vir niks – die klein twak het lankal teruggekruip.
Duidelik het hierdie saak nie by my dierbare kinders verbygegaan nie. Hulle kan staatmaak op ‘n onverdunde stroom simpatie as hulle die regte geluide maak, of bloot die regte stemtoon inklits.
Male sonder tal gebeur dit dat pa die kinders bel, met die bloedjie praat en opgeruimd oortuig word dat alles hunky-dory is, dat die disselbome klop en dat die lug netjies op sy plek is daarbo. Gee ek egter die gehoorstuk aan die moeder, verander die klimaat na bewolk en koud, word daar ingewande uitgeryg, klere geskeur, as oor die hoofde gestrooi en in die algemeen net gekla.
Hier sit pa ewe tevrede aan sy kant van die bed en purr, krap miskien ingedagte sy oor, en hier ontplof moeder met onheilspellende verhale van tweedrag, sektes, nood en muitery in sy linkeroor. Alles uit die selfde selfoon uit.
Eers het ek gedag sy verstaan die taal nie te waffers nie, totdat ek die kinders se agenda leer verstaan het. Onder die item “Pa:” staan daar “Algemene weerberigte en nuus. Onthou, hy is vlak.”. Onder die item “Ma:” staan geskryf: “Begin by die sondeval, beklemtoon die pyn van die erfsonde en die eie geboorte en let veral op die huidige ellende. Onthou, sy is diep.”
En sal julle my glo, ek het dit leer waardeer. Minstens word die ou bloedjies nou nie groot in ‘n woestyn van vergetelheid nie, met ‘n pa wat eintlik maar eers die volgende dag verstaan waaroor al die fuss gaan. Ek vermoed, so tussen my sistemiese onnoselheid en haar klein-klein hartjie, vorm ons ‘n redelik gemiddelde stel ouers wat darem nie te veel skade aan die volgende geslag sal aanbring nie.
Nota aan kinders: Dis net ‘n grappie, hoor. Hier is dit in elk geval blykbaar net die bloggers wat my glo. Bel gerus as julle ons nodig het!
Onlangse kommentare