Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Oor ape en klippe

Oktober 10, 2010 in Sonder kategorie

Soms voel ek ietwat soos die Lappop. Vieserig.

Wat sal die mense van my dink, want soort, jy weet, soek soort?

Vanoggend lees ek ‘n derde  skrywer se brief in Die Burger met die strekking dat die briefskrywer boeke van ‘n, um, wetenskaplike van Pretoria by skole wil uitdeel wat die leuen van ‘evolusie’ ontbloot en weerlê.

Die een jafel gaan voort om sy monumentale wanbegrip van die hele konsep te demonstreer deur te vra hoe dit dan moontlik is dat daar nog ape ook bestaan, as die mens dan die uitkoms van die hele proses is, of dat wolwe ook tans nog bestaan al is daar poedels.

Dis swaar om stil te bly, maar die alternatief is dat ‘n mens in ‘n futiele, eindelose kruisvuurdery van woorde betrokke raak wat kennelik geen effek het nie, en dit boonop met professionele kermgatte wat hulle lewensvermaak vind in die daaglikse skryf van eindelose bitterbriewe op die publieke forums. Hierdie les het ek op Sênet geleer – hulle sal altyd die laaste sê hê.

Ennieway. Ek het so pas een van die mees vervullende aktiwiteite van hierdie jaar afgehandel. Dit kom al ‘n lang pad – dis by my ‘n passie om die ontstaan en verloop van dinge te begryp.

Die aarde het my nog altyd dronkgeslaan – hoekom is minerale so oneweredig versprei? Wanneer het die groot meteoriete die aarde getref, hoe het die maan ontstaan en so aan. Ook, in watter van hierdie geologiese tydperke het watter lewensvorme ontstaan en gedy?

Ek kon nêrens ‘n boek kry wat vir my die spulletjie verstaanbaar kon uitlê nie. Om die een of ander rede is ‘n geoloog, wanneer hy agter ‘n tikmasjien inskuif, nog meer hoogdrawend as ‘n poliesman op televisie. Sommer van die eerste paragraaf af versmoor hy jou in vakterme. Waddehel? As ek ‘n boek oor Japan wil lees moet dit tog nie in Japannees geskryf wees nie.

So gefrustreerd was ek dat ek later self met so ‘n boek begin het. Ek het, waar ek die inligting ookal kan opspoor, die tydlyn van dinge begin boekstaaf en opsom. Tot ek ‘n week gelede, toe ek ‘n kursus in Durban moes aanbied, op die lughawe op ‘n boek afgekom het wat al my vrae beantwoord. Regtig almal.

Die flippen boek is al in 2005 gepubliseer en ek vind dit nou eers. Dink net hoeveel jare terug sou ek al vir die kinders landmerke kon uitwys en in die algemeen beterweterig kon voorkom.

Die boek, ‘The story of earth and life (a Southern African perspective of a 4,6 billion year journey)’ is geskryf deur ‘n klomp dosente by Wits en nog ‘n paar ander. Dit is regtig begaafde mense wat dit regkry om daardie komplekse begrippe en terme uit te lê dat dit in ‘n mens se hande lewend word. Die herkoms van land se bekendste landmerke en fossiele word in ‘n heerlike verteltrant in perspektief geplaas en verduidelik, met ‘n horde sketse en foto’s. In die proses word ‘n paar asemrowende feite en verskynsels ook beskryf, en ek kan nie wag om nou deur die land te gaan toer met my nuwe insigte nie.

Nou kan ek oplaas daardie hoofstuk afsluit – ek voel ek verstaan dit. Ek wens ek kon iemand anders ook aansteek om so te wil weet. Mag ek sodoende iets regkry om daardie paar eng Burgerlesers se skadelike veldtog bietjie te neutraliseer!

Transformasie in perspektief

Oktober 7, 2010 in Sonder kategorie

Dis glo lente, maar die Baai is taai om warmer te word. Die weerberig sê 30 grade, die wind sê aikôna. So, hier sit ek met ‘n dun hempie in my kantoor en bibber.

Die eerste diederikkie het darem Sondag sy liedjie hier begin sing, moeg van sy lang reis. Ietwat later as ander jare – ek vermoed die stywe suidwester het hom dae lank op een plek laat flap êrens in die karoo.

Vanoggend weer ‘n storie gehoor oor my ou koshuis, Kollegehuis by Tuks – daardie vesting van bedenklike besigheid, ongehude vaders en gure gedrag.

Die transformasiejare het nie te voorspoedig daar afgegaan nie. Gelukkig was die nasionale media toe nog nie so gaande oor sulke sake nie. In daardie tye is Kollegehuis se residensiële huisvark byvoorbeeld groen geverf, sodat die manne aan kleurverskeidenhede kon gewoond raak. Moenie eers vra oor die filosofiese implikasies van daardie stap nie – daar was genoeg moeilikheid met die DBV oor die ‘loodbesoedelde’ swyn.

Die ander verhaal is dalk apokrief.

Drie van die huiskomiteelede is voor die studentedekaan gedaag omdat hulle twee swart eerstejaars wit geverf het. Imagine.

Toe die eerste man gevra word om sy pleitverduideliking te gee, seg hy: “Maar Prof, ons wou hulle net ontgroen.”

Sin in sinne

Oktober 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag ‘n tema aanroer wat my na aan die hart lê. Die doel is nie om iemand af te piepie nie, maar om soort van my siening oor ‘n paar groot vrae op skrif te stel

 

In ’n jonger era, toe ek self in ’n sinsoekende see rondgedobber het, het ek die volgende versie gepleeg:

 

raison d’être

 

Met ‘n hamergeklop

teen die sewende steen

is daar wesens gepleeg

van klip en molibdeen.

Hulle doen nog veel meer

as aanvanklik gemeen-

hulle vra “Waarvandaan?”

en soms selfs ook “Waarheen?”

Hulle’s gans onversoen

met die tyd hul verleen:

dis ‘n helse lawaai

tot hul terugkeer tot steen.

 

In weerwraak teister my eie nageslag my soms met vrae soos: hoe sal ek weet of ek my regte sin en doel in die lewe gevind het? Watter loopbaan moet ek kies?

 

Natuurlik het ek nie absolute antwoorde nie. Wens ek het gehad.

 

Met my wetenskaplike agtergrond, en dalk is ek bra dommer as jou gemiddelde homo sapiens, dink ek in taamlik reguit lyne en probeer ek altyd dinge vereenvoudig. So, mettertyd het ek dinge vir myself op ’n tipe ’n skaal uitgewerk, beginnende by volle oorgawe. En, gegewe my herkoms, bespreek ek dit aanvanklik vanuit ’n Christenoogpunt. Daar is ‘n horde ander moontlike benaderings.

 

Met volle oorgawe bedoel ek dat ’n mens jou bestemming plaas in ’n hoër hand en kinderlik vertrou dat elke tree vir jou beskik is en dat elke aksie, elke gedagte en gebeurtenis meewerk tot ’n uiteindelike groter doel, wat vir jou voorafbepaal is. Jy is dus letterlik die willose klei, en die goed en die sleg wat met jou gebeur is daar om jou te vorm tot die groter doel.

 

Prakties beteken dit dat jy jou nis moet soek tot jy oortuig is jy het dit gevind, en dat jy die voor- en die teëspoed eweneens kan verreken as gegewe wegwysers op die pad, om jou te vorm en te louter. Dit sal dus beteken dat God die smarte en die seer berekend op jou pad geplaas het om jou te beproef en te suiwer. Dit sal ook beteken dat jy elke enkele aksie wat jy wil onderneem in sy hand sal plaas en blindelings vertrou dat Hy die stuur sal oorneem tot jou voordeel, tot sy eer en tot uitbouing van sy Koninkryk. Of dit nou goed of sleg gaan, sal jy dus rede hê om Hom te dank. Gebede kan Hom nie van plan laat verander nie, want alles is vooraf uitgewerk (tensy die gebed natuurlik deel is van die meesterplan).

 

’n Ander siening is van ’n God wat die wêreld geskep het en nou in ’n mate terugstaan, sodat dinge hulle gang kan gaan. ’n Weerstandige mensdom het Hom teleurgestel met die sondeval en nou leef ons met die konsekwensies van die sonde. Nou het ons ’n vrye keuse om die regte of die verkeerde te doen. Fisiese wette, natuurrampe en sosiale noodwendigheide gaan hulle gang en ons moet tussen dit alles deur sin en vrede probeer vind. Nietemin bly Hy ons Vader en kan ons ons sorge en wense aan Hom opdra – Hy kan ingryp en dinge verander. As dit sy wil is, kan hy dinge nog vir ons ten goede, maar ook ten slegte laat verloop. Gebed het dus krag en kan God van plan laat verander, soos wat die ou Israeliete dikwels geïllustreer het.

 

In die praktyk beteken dit dat daar nie vir jou ’n uitgestippelde pad is wat jy net moet vind en by inval nie – jy het vryheid van keuse en jy moet self met die konsekwensies daarvan saamleef. Jy kan self beplan en sin maak. Jy kan vervulling vind in die doen van goeie werk, hetsy of jy ’n loodgieter is, predikant of ’n soldaat. Jy kan van loopbaan verander sonder om te voel dat jy jou lewensdoel verraai, al was jy eers ’n sendeling wat nou polisse verkoop. Jy vind jou sin op ander weë, soos erkenning, liefde, jou kinders laat studeer, roem, uitnemendheid, medelye, welsyn of wat ook al, want daar is nie voorskrifte wat sê dat jou doel iets anders moet wees nie, behalwe dat dit darem tot sy eer sal strek.

 

’n Derde roete is dat jy die lewe sien as ’n natuurlike gegewe, die uitkoms van ’n groeiproses van miljarde jare, waar die mens ontwikkel het van ‘n bakterie tot ’n denkende, sinsoekende wese. Ons het histories, en miskien geneties ’n behoefte ontwikkel aan ’n transendente mag, aan wie ons ons vrese en drome kan toevertrou. Dit verklaar die wonderlike verskeidenheid manifestasies van aanbidding wat in die menswêreld ontstaan het sedert ons begin dermiljoene jare gelede.

 

In die praktyk is die uitkoms sowat dieselfde as bo – dis op jou rekening om vir jou sin te skep en ’n doel te vind wat jou bestaan sal bevestig. Sowat niemand anders sal dit vir jou doen nie. Jy sal jouself dus aan die hare moet optel, ’n bosberaad hou van wat en wie jy wil wees, ’n strategie beplan en dan self werk om dit te bereik.

 

Dit klink verskriklik koud en eensaam, maar dit kan die wonderlikste, vervullende ervaring wees om self die verantwoordelikheid vir jou doen en late oor te neem, self die teenslae te verreken en die suksesse te waardeer. Dit hoef ook nie ’n selfsugtige doelwit te wees nie – jy kan jou volkome uitleef in die diens van ander, in die verspreiding van vrede en geluk.

 

Self val ek seker êrens tussen al hierdie opsies. Wat ek wel vas in glo, is dat ek self verantwoordelik is vir my doen en late, my kom en my gaan. Hoe ek teenslae hanteer, bepaal die effek daarvan op my lewe.

 

Sjoe, ’n bekvol. Maar dis my blog se naam.

Kontreistorie

Oktober 5, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraand hoor ek ‘n storie wat my vanoggend heeltyd binne laat grinnik.

Tant Soesen woon alleen op die plaas naby Oudtshoorn.

Die nuwe domineetjie het die woord laat versprei dat hy in daardie week in die wyk gaan aandoen om kennis te maak.

Haar dogter het intussen ook gereël dat die dorp se nuwe jong dokter Tant Soesen sommer daar op die plaas sal gaan ondersoek, punte en plugs en so aan, om darem te sien of alles nog oukei werk. Ligdag was hy daar, en hy is toe weer terug dorp toe.

Later die dag bel Tant Maryna van die buurplaas: “En so, wat dink jy van die nuwe domineetjie?”

Tant Soesen is ‘n rukkie stil. “Gawe mannetjie,” sê sy. “‘n Bietjie eie.”

‘n Bek vol tanne

Oktober 1, 2010 in Sonder kategorie

Iewers in die laerskool het ek ‘n versie geleer oor Haasbekkies:

“Sussie sleep haar tongetjie

en Boetie se woordjies fluit…”

 

Min het ek geweet dit was die prelude tot ’n lewenslange verhouding met die bene in my bek en met die teisteraars daarvan.

 

’n Ou grappie lui dat ’n tandarts iemand is wat lood in jou tande druk en goud uit jou sak haal. Die eerste tandarts wat ek geken het, was oom Chris Blignaut se seun in Vereeniging (Ou Ryperd!). As jy by hom stilsit, het jy dalk agterna ’n miniatuurbuisie Kolynos of Ipana gekry. Ousus het ’n gips- Disneybeeldjie gekry – ek skat sy sit stiller as ek.

 

Tussenin onthou ek nie veel nie, so vir ’n paar jaar het ek nie veel sonde met die tannemanne gehad nie, behalwe seker vir die toevallige stopsel hier en daar.

 

Tot ek in Standerd nege een nag wakker word met die lywige lyf van Dokter Kleyn wat bo-op my sit en my besorg betrag. Om my was ’n kring van bekommerde gesinsgesigte.

 

Blykbaar het ek in die nag omgedraai en met my voete in die beddegoed verstrengel geraak. My bolyf het afgerol en ek het myself disnis geval op die gladde blokkiesvloer. Dit was ’n bra bloederige spul, en in die proses het een van my voortande middeldeur gebreek.

 

Groot Klaas het hierdie dinge aangesien en my in sy hart jammergekry. As ’n ligte suidwestewind opsteek, was ek pragtig, soos ’n orrelpyp, ingestem op die noot A-mol wat deur die gat in my bobek waai. Op die atletiekbaan was daar, tydens die wedloop, ’n helder periodieke fluitgeluid soos wat Jan Klaas ventileer deur die genoemde gaping, soos ’n nagkarfluitjie.

 

In Vereeniging was daar ’n Slim Tandarts wat bekend was met die weë van tandgapings. Dit was sy besluit om die gat met ’n stuk goud te vul wat so groot soos ’n waenhuisdeur was.

 

Ek is deur my jaar in die army met hierdie tand. Snags moes ek wakkerlê en die goud beskerm. Mense moes wagdiensbeurte om my bed staan. Bedags kon ek g’n terroris bekruip nie want die goud het geblink soos ’n soeklig. Ek het ’n permanente krom houding ontwikkel weens die gewig van my bobek.

 

Eers op universiteit kon ons die tand laat kroon. Dit was eenvoudig te gevaarlik om so ’n groot stuk goud te laat rondlê tussen die klas Kollegehuismanne wat hulleself bereid vertoon het om ’n bergkanon van Meintjieskop af te gaan steel.

 

’n Ander ervaring met ’n tandarts was in Eldoraigne, toe ek ’n wortelkanaalbehandeling moes kry. Ek het geweet dis ’n pynlike affêre en het myself dus ingeboek by ’n sagte vroutjie wat die operasie met die nodige deernis en teerheid sou volvoer. Ek het in Vereeniging al geleer dat vrouetandartse pyn verstaan, sag aan jou wange vat en dat hulle in die algemeen lekker ruik.

 

Ek het myself tuisgemaak in die stoel en begin droom van blommetjies, bytjies en stuff. Skielik kom daar ‘n groot, harige dier met helder oë ingebons – haar man. Waar de donner het jy al gesien dat ’n man en ’n vrou albei tandartse is in dieselfde praktyk? Niemand het my vertel dat die tandartse in hierdie streek as broeipare aangetref word nie.

 

Hierdie man het in my mond rondgehuppel soos ’n begeesterde ginekoloog. Sy harige vingers het my neus gekielie (so effens my skuld – ek het ’n taamlik duidelike neus. As die wind waai, draai my gesig saam met die wind. Ek kan ’n sigaret onder ’n stort rook…) en sy armspiere het my ore verdraai (nou dis heeltemal sy skuld).

 

Sedertdien pas ek die beentjies in my mond op asof dit wel goud is. Hulle is al half deurskynend van slytasie, en soms laat ek die kinders die droëperskes vir my kou, maar hou gaan hulle hou.