Liefde met gevoel

Oktober 14, 2010 in Sonder kategorie

Soms wonder ek.

Is daar ‘n korrekte balans tussen die liefde wat ‘n mens bloot teenoor ‘n ander mens het, en die geskenke wat ‘n mens op so ‘n persoon uitstort?

‘n Mens lees dikwels van afwesige vaders, met kinders wat in fênsie BMW’s rondry en alles kry wat hulle hartjies begeer. Dan kry ‘n mens weer die suinige dr*lle, wat nie ‘n oomblik sonder hulle geliefdes kan klaarkom nie, maar wat sal vrek voordat hulle vir daardie persoon selfs ‘n blommetjie of ‘n kaartjie sal koop.

Dalk kompliseer ek die argument deur suinigheid of ruimhartigheid by te sleep – dis seker maar ‘n persoonseienskap en nie ‘n maatstaf van hoe lief ‘n persoon ‘n ander het nie. Of is dit?

Punt is – jy kry ook mense wat hulle geliefdes met geskenke wil oorlaai, uit blote dankbaarheid vir die warmte wat hulle in hulle harte voel. Dan kry jy weer ander wat miskien fisiese geskenke beskou as aardse, leë manifestasies van hulle diepste gevoelens en wat dit liewer op ander wyses sal wil uitdruk.

Dan hang dit ook nog af hoe die ontvanger dit sien. As hy my nooit blomme gee nie – hoe kan hy nog sê hy is lief vir my? Of, sou ek eerder ware uitdrukkings, selfs woorde, van hom of haar se liefde verkies bo die stomme geskenke op die tafel?

Lyk my die balans sal op verskillende plekke lê vir verkillende mense. Twee mense sal in liefde oud word sonder om juis veel behoefte aan geskenke vir mekaar te hê – dalk lê hulle passie eerder elders, in ‘n soort gedeelde geskenk, soos ‘n liefde vir die natuur of in diens vir hulle kerk. ‘n Ander paartjie kan mekaar dalk weer gereeld verras met ‘n klein of groot geskenkie, as uitdrukking van hulle toegeneëntheid teenoor mekaar.

Die b*ggerop kom as daar ‘n mismatch kom – die een is by voorkeur ‘n gewer, of ‘n ontvanger, en die ander nie.

Wat my aan hierdie vraag laat dink het, was iets wat as jong dosent by die PUK met my gebeur het.

‘n Ietwat jonger kollega nader my met die versoek om ‘n kunsuitstalling in die dorp te gaan bywoon, en om daar ‘n skildery van ‘n sekere persoon te koop. Daarvoor stop hy my toe ‘n aansienlike bedrag in die hand.

Daar gekom, sien ek die prente is deur sy vrou geskilder. Toe verstaan ek.

Ek het een gekoop en dit het lank ‘n ereplek in die huis gehad. Hier was ‘n man wat sy pragtige vrou so liefgehad het dat hy nie kon verdra dat nie een van haar prente sou verkoop nie.

Ek het lank met hierdie mooi herinnering rondgeloop, totdat ek eendag gehoor het hulle huwelik het verbrokkel. Dit was vir my baie tragies.

Vandag koop ek vir my vrou ‘n bos blomme. Sommer net.

32 antwoorde op Liefde met gevoel

  1. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Dis eintlik baie ‘sweet’.

  2. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Dis pragtige voorbeelde wat jy noem. Ek dink dit werk ook, omdat ek kan agterkom jy sien daai dingetjies raak.

  3. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Jy’t my aan ‘n liedjie uit die sixties laat dink: It’s the loving things you do that make me grow so close to you…

  4. TS het gesê op Oktober 14, 2010

    ag hoe week maak jy nou my hart!

  5. ThinkFFS het gesê op Oktober 14, 2010

    Ek het my pa min gesien toe ek ‘n kind was.
    Hy’t hard gewerk, en goeie geld ingebring, wat vir ons gesin baie gekoop het. Onderandere, goeie geleenthede en goeie loopbane.

    Sou ek liewer ‘n armer lewe wou lei, maar saam my pa krieket op naweke speel?
    Nee, nooit!

    Ek’s dankbaar vir dit wat my ouers vir ons gegee het met hul harde werk. Ek sal niks verander nie. Nou dat hulle lewe darem al bietjie begin af-slack try ons om darem een naweek ‘n maand by hulle uittekom. En hulle verstaan ons is besig, en hulle moedig ons aan.

  6. TS het gesê op Oktober 14, 2010

    Wens jy kon my kop nou sien my kop skud op en af by elke paragraaf… Ja die hele geheim dink lê by die balans.

    Slim man wat soms ‘n blommetjie koop

  7. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    “Loving things” van The Marmalade (die ander Obladi Oblada-ouens)

  8. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    He he. Ek ploeg met ‘n ander se kalf, Tina.

  9. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Ek gaan daai les by jou probeer leer.

  10. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Dis ‘n baie interessante perspektief, Kwagga! Dankie!

  11. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Oukei. Van nou af…

  12. Trakie het gesê op Oktober 14, 2010

    Wederhelf oorlaai my nie juis met geskenke nie, maar sy hande staan vir absoluut niks verkeerd nie.

  13. Jou vrou waardeer so ‘n bos blomme

  14. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Dis sy manier om te gee.

  15. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Beslis. En dan kry jy nog verskillende bedoelings ook!

  16. Janklaas het gesê op Oktober 14, 2010

    Soos vanmiddag s’n.

  17. Mmmmm jy klink na ‘n romantiese stukkie mens en ek hoop jou vrou het jou sommer hope soene gegee.

  18. Janklaas het gesê op Oktober 15, 2010

    Ek was baie meer romanties toe ek jonger was. Nou wonder ek hoeveel daarvan nie maar manipulerend was nie! As ek weet ‘n ou veldblommetjie maak haar week, gebruik dit!

  19. Wat ‘n mooi pos! Ek het regtig nie sin daarin om ‘bederf’ te word met geskenke nie. Vir my beteken bederf om iemand se tyd te hê – onverdeeld en nie gejaagd nie. Blomme en sjokolade soms maak nie seer nie, maar daar moenie noodwendig ‘n rede voor wees nie. Sommer maar net vir sommer is doodreg. Oor ek aan jou gedink het. Oor ek lief is vir jou en jou bietjie wil bederf. Ek het al geleer dat mense te tyd die moeilikste geskenk is wat hulle gee. Want niemand wil dit deel nie. Koop jou liewer om met ‘n fancy ete by ‘n restaurant en skud jou af. Dit werk nie so nie.

    Dankie vir al die kuiers en kommentaar. Ek waardeer dit. En eendag is eendag dat ons nog tussen die sterre gaan dans.


    MySpace Thanks Thank You Graphics from SuperPimper.com

    MySpace Thanks Thank You Graphics

  20. Janklaas het gesê op Oktober 16, 2010

    Dis eintlik waar – al die fisiese geskenke beteken ook maar dat iemand tyd vir jou gemaak het, spesiaal aan jou gedink het. As mens dit met geld of geskenke kan doen, is dit jou goeie reg – ander kan dit weer doen met ‘n konsidererende gebaar of selfs net ‘n gedagte.

    Ek wil so graag hoop dat dinge vir jou mooi sal verloop.

  21. Moenie lag nie, maar ons het so paar jaar gelede by ons kerk ‘n kort kursussie gedoen “The Seven Languages of Love” Dan vul elke lid van die familie so ‘n vraelysie in, en jy kom nogal agter hoe elkeen geskenke/drukkies/mooi woorde/tyd in sy behoeftehiërargie rangskik. En hoeveel elkeen s’n verskil! Dit was waardevol…maar ek vermoed dis tyd dat ons klomp dit WEER doen…

  22. Janklaas het gesê op Oktober 18, 2010

    Dis uitstekend!
    Die probleem kom seker wanneer daar ‘n mismatch is by ‘n paartjie – sy het ‘n behoefte aan aanraking, hy nie. Hy gee, sy bra nie. En dis jammer as die een met die behoefte mettertyd afgestomp raak, want dis ‘n deel van dit wat haar/hom mens maak.

  23. Mense is maar eienaardige goed, maar dit is waar, ‘n mismatch kan ‘n groot probleem wees. Gelukkig het ek ook ‘n man wat graag vir my blomme koop, sommer net, al pluk hy net ‘n bos blomme vir my in die tuin, is dit ok o.k. Maar dit moet baie boring wees om nooit ‘n geskenkie te kry nie.

  24. Goed geblog!

  25. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2010

    Ek dink ‘n man moet met die troue ge-issue word met ‘n stel gebruiksaanwysings wat insluit om so nou en dan vir dierbaarstetjie minstens ‘n ou viooltjie te gee!

  26. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2010

    Hallo daar! Dankie vir die inloer!

  27. Uitstekend!!

  28. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2010

    Dankie Pinkie!

  29. FOXY1975 het gesê op Oktober 21, 2010

    Ek het die boek ‘Vyf tale van die liefde’ gekoop nadat ons ‘n ouerskap-kursus by die kerk gedoen het en die aanbieder ‘n paar keer daarna verwys het… Het dit nog nie begin lees nie, maar het nogal net uit die kort oefeningkie by die kerk gesien hoe sekere dinge in mens se lewe jou ook tot ‘n mate slyp om in ‘n sekere groep te val…
    Dit is vir my ook baie makliker om iets vir iemand anders te gee en dinge vir ander te doen as om dit vir myself te doen… en tog het my ou toetsie dit nie gewys nie, het ek meer in die manlike kategorie geval.. voorwaar vreemd hoe mens aanpas by jou omstandighede…x

  30. Janklaas het gesê op Oktober 21, 2010

    Dis regtig ‘n geval van “adapt or die”!

  31. FOXY1975 het gesê op Oktober 26, 2010

    Ek dink soms ek adapt eintlik hopeloos te veel en dit veroorsaak ook maar soms klein stukkies van jouself wat doodgaan in die proses… maar ek verskuif ook baie grense vir myself in baie van die veranderinge..x

  32. Janklaas het gesê op Oktober 27, 2010

    Ja, dit klink nie gesond nie. Ek dink mens moet kan gee en neem.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.