Weer eie

Oktober 12, 2010 in Sonder kategorie

Soos ek dinge ervaar, gaan mens met verskillende mense om in verskillende grade van familiariteit. Ek besluit self, soms heel onwillekeurig, hoeveel van myself ek bereid is om aan verskillende mense bloot te stel.

Die heel binneste, SNLR, 18 beperk weergawe, sal ek miskien aan my heel naastes wys. Dis eintlik bra ironies, want hulle is juis die mense wat die meeste deur my aard gekwes kan word!

So is ek seker soos ’n ui in verskillende lae van beskaafdheid toegepak. Afhangende saam met wie ek is, is ek verskillende personae met verskillende karaktertrekke en gewoontes.

Soms is ek die stil luisteraar, kuis toegebind met fyn maniertjies, soos met my bejaarde medekoorlede of verfynde familie. Hier sal ek geskok saamlag oor die gewaagde grappie of hoflik hul lang relase deurluister.

Soms is ek die siel van die partytjie, die luidrugtige, singende nar met skuinse verwysings en dubbele betekenisse. En dan is ek soms die bedonnerde, haastige ekke wat teësinnig op pad is in ’n statiese middagverkeer, wat vurig ’n swenkende taxi agterna kan swets en weeklaag oor die onregverdigheid van dit alles.

Soms weer, is ek Jan Klaas die Rustige wat leiding uitdeel aan bekommerde studente – ’n toonbeeld van waardigheid. I am the very model of a modern major general.

Dit irriteer die teer uit my uit. I want to break free, ek wil ek wees, ek wil Klaas wys (!), ek wil wees wat ek is en waaraan ek glo, maar dit sal ’n verwoesting van vriende en verhoudinge agter my laat, soos ’n Boeing wat in ’n mielieland neerstryk.

En dit alles was inleiding! Ek kom nou eers by my punt.

By wie is ek wat? Hierdie vraag het onlangs vir my interessanter geword.

Dit smaak my ’n mens is natuurlik bereid om meer van jouself te wys by die mense wat jou die langste ken. Eerstens dus jou nabyfamilie – daar is wragtag niks wat hulle nog nie van jou gesien het nie. Dis hoekom dit so maklik is om by hulle uit te span, uit te praat, want hulle ken jou ingang en jou uitgang, jou lag en jou seer. Dis ook hoekom dit kosbaar is om hulle te koester en naby jou te hou.

Volgende op my lys is jou skoolvrinne. Saam met hulle het jy ook ’n verskeidenheid dinge deurgemaak – hulle weet waar jy kanse gevat het en waar jy presteer het. Kyk net hoe maklik dit is om weer ’n gesprek met hulle aan te knoop, want daar was genoeg gedeelde hartseer en bly in die gedeelde tye. Verder lyk dit my, ’n mens bly nog min of meer jouself, dieselfde ou dude wat jy op skool was, maar nou net met ‘n paar nuwe medaljes en gelapte skeurplekke.

Die vrinne op varsitie is al ’n bietjie verder van die lyf, tensy jy jou kuiers diep, innig en deeglik gedoen het. So ook die ou kollegas en vriende in die nuwer dorpe of betrekkings – hulle kan ek nog bluf, want hulle ken nie die dieper Klaas daar binne nie.

Wat my eintlik aan die dink gesit het, was my ervaring van die vreemde ‘eienheid’ waarmee ’n mens blogvriende hier kan benader as ’n mens hulle in lewende lywe of op Facebook ontmoet. Dit is asof ’n mens kopstukke kan gesels, soos ou skoolvriende – geheime kan deel, skinder en gerus voel om jouself te wees.

Ek vermoed dit is omdat die ontmoeting op so ’n eienaardige, verkeerd-om manier gebeur. Hier laat jy mense eers agter jou skanse toe, wys hulle al jou verdedigingswapens, lei hulle na jou familie, eetsale en plekke van aanbidding, terwyl hulle nog eintlik gewapend in linies buite jou kasteel staan!

As hulle dan uiteindelik binnekom, kan hulle glimlag oor al die bekende gesigte, en kan hulle die bekende paadjies loop asof hulle dit al jare ken.

Dankie vir almal wat my agter hulle skanse toegelaat het.

14 antwoorde op Weer eie

  1. In my kop kom daar nou ‘n liedjie; mense kom, mense gaan……. hoe gaan dit nou weer verder

    maar soort soek maar soort? 🙂

  2. Het dit vandag weer ervaar met Eaven wat by my kom kuier het

  3. Berwick het gesê op Oktober 12, 2010

    Goed gestel. Ek ervaar dit ook soms so.

    Groete, Jan Klaas.

  4. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2010

    Ja, dis natuurlik ‘n ander rede hoekom mens lekker kliek!

  5. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2010

    Lekker dag Kokomo.

    Moet nie verdwyn nie!

  6. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2010

    Lekker warm vuur hier om by te sit.

  7. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2010

    Ek beny jou jou MOB’s!

  8. Janklaas het gesê op Oktober 12, 2010

    Groete daar, Berwick!

  9. Janklaas het gesê op Oktober 13, 2010

    Dis te spannend. Ek gaan bly sit.

  10. Janklaas het gesê op Oktober 13, 2010

    Snaakse, kunsmatige wêreld, die bloggery. Snaaks ook hoe gou ‘n mens daarby aanpas.

  11. Janklaas het gesê op Oktober 13, 2010

    Ons deel dalk meer as wat ons dink.

  12. FOXY1975 het gesê op Oktober 21, 2010

    Ek vang nou eers meer as ‘n week se uitmis op lees in blogland op….

    Dit is nogal eienaardig hoe dit uitwerk nè! En dis soooo waar… hier in my ‘normale’ lewe is die mure stewig in plek en word niemand eintlik te na aan my toegelaat nie en weinig mense maak dit verby die ‘voordeur’… en tog… hier in blogland het ek al meer ‘gepraat’ as wat ek in 10jaar met iemand hier kon praat… dalk het dit te doen met mens se ‘vulnerability’ wat soms van tyd tot tyd hier in geskrewe woord sy weg deurvind en ander wat daarby aanklank vind.. soms lees jy dele van jouself raak in ander se verhale, soms skryf iemand hier iets wat ek net so wel self kon geskryf het…
    Blogland is ‘n snaakse plek… maar ek is eintlik baie dankbaar ek’t ook hier ‘n holtetjie gevind..
    Dink ek het ook so ‘n bietjie Shrek in my…x

  13. Janklaas het gesê op Oktober 21, 2010

    Ek dink dis terapeuties om jouself so te spieël en te leer ken.

  14. FOXY1975 het gesê op Oktober 26, 2010

    😀

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.