Ek is baie lief vir sing.
Moenie my vra waar dit vandaan kom nie – dalk het die Klaas-voorouers mekaar aandete toe geroep oor die hol vlaktes van Holland. Dalk was dit deel van die paringsritueel van my hariger oerouers, maar sing, sing ons graag.
Moet nou nie dink dat ek met ‘n wondersoete stem bedeel is nie, like the sound of a great Amen… My stem is by uitstek ‘n koorstem, die garden variety plekhouer – bestendig en ferm van voet, maar nie die soort stem wat pragtige vroue se oë wasig maak nie. Nee, eerder die soort hysbakstem wat dien as agtergrond terwyl die mensdom aangaan met hul dagtaak om wêreldvrede te bewerkstellig.
Wat effens tragies is, want Vader Klaas had ‘n Stem Van Formaat. Kleinjan het menige familietroue bygewoon waar die resonante, sonore klanke van Vader Klaas se sang die volk betower en besiel het.
Daar was, natuurlik, die odd geleentheid waar ambisie en oormoed die oorhand gekry het, waar ek van vroeëre vernedering en pyn vergeet het en myself beskikbaar gestel het om ‘n solo, of duet te sing.
Toneel: Familietroue. Ek het ‘n vrind omgepraat om saam “God sal u veilig lei” vir die mooi paartjie te sing.
Voor die tyd was alles so reg en mooi. Ons stemme het elke holtetjie en hoekie van die kerk gevul. Ons was die helde van Hartbeeshoek, ‘n soet geur en ‘n toonbeeld van hoop. ‘n Tonikum vir die gees.
Toe ons beurt kom en ek opstaan, gryp die hele situasie my aan die hart. Daar staan die pragtige paartjie – hulle kyk op na ons, hulle plaas hulle hoop, hulle drome in hierdie kosbare oomblik op ons.
En net daar trek my keel mos toe. Ons begin sing, maar my bewerige geskwiek ontstig my sangmaat so dat hy verbaas na my toe kyk. Algaande wroeg ons die lied darem deur, en daar is selfs ‘n mate van herstel, maar my oomblik is verby. Aan die einde het die bruidspaartjie vir oulaas so effens oorbluf teruggekyk en die diens het voortgegaan.
Agterna is ons nou nie juis met lof oorval nie. Sorrie, Doempie.
Toneel verskuif na ‘n paar jaar later, in die Baai. My kinders sing in die Oos-Kaapse jeugkoor, ek is daar voorsitter. Hulle oefen vir ‘n Kersdiens by ‘n ouetehuis. Soek ‘n solis vir “Jerusalem”. Kollig val op my wat daar rondstaan. Ek willig in. Blykbaar vergeet vroue ook van die pyn van vorige geboortes, anders sou hulle nooit weer kinders hê nie.
Ennieway. Aand daag op. Ons stel op, ek word met ‘n glimlag nadergewink, ek haal diep asem en wag vir die pragtige inleiding.
En toe. En toe.
Hier voor my sit ‘n klompie verwese oumense, uitgeleef, eensaam, wag die dood af. Beleef Kersmusiek wat moontlik van hulle laaste Kersfees ooit sal wees. Kersmusiek wat hulle dalk voorheen saam met hulle kinders gesing het, kinders wat nou oor die wêreld versprei is.
Al hierdie dinge maak my gemene verstand my wys terwyl my inleiding wegsterf deur die saal. En net daar trek my keel mos toe.
Die res hoef ek nie eers te vertel nie. My arme kinders…
Blykbaar is ek ‘n ou softie. ‘n Willose dryfhout in die emosionele branders van die lewe. ‘n Handpop van die pyn en die lag van die draaiinge van die heelal.
Ek moes dit lankal sien kom het. In die army kon ek nie die laaste taptoe by begrafnisse op die trompet blaas nie – wildvreemde grafte het my so ontstig dat ek net ‘n fwaap-fwaap-klank kon uitkry.
Behalwe nou die keer toe my maag omgekrap was. Dit moes so min of meer die mees pianissimo-weergawe van die laaste taptoe gewees het wat nog in Potch se begraafplaas weerklink het. Familie het met opgetrekte bolippe, hand-agter-die-oor nadergestaan om my te hoor. My oë was groter as die trompet se gat.
Deeskedae ken ek my plek. Ek brom bedees saam met die koor en droom van ‘n keer wat my stem dalk die ruimtes sal vul.
Onlangse kommentare