His master’s voice

Augustus 30, 2010 in Sonder kategorie

En daar lê hy. My getroue ou harlekyn-handpop. Effens verweer, die opstopsel peul so hier en daar uit, maar daar is ‘n tevrede blik in die half skeel oë.

Jan Klaas was my getroue ou spreekbuis, maar hy was op die ou einde so baie meer as net dit. Hy het my die vlerke gegee om saam met grotes te kan vlieg. Hy het my die geleentheid en die selfvertroue gegee om al die ou opgekropte stories, belewenisse, gevoelens en verse te kan deel.

Hy het my toegelaat om te skryf, skryf, skryf… Ek het soveel geskryf dat ek myself in die geledere van die kreatiewes begin tel het. Op my semi-oudag het ek myself in ‘n nuwe lig begin sien en het die lewe sommer ‘n nuwe dimensie bygekry.

Hy het my die vrymoedigheid gegee om met nuwe mense te skakel. Op sy pront en voorbarige manier kon hy indons waar ek self te lugtig is om te trap. Ek kon gesels en kosbare gedagtes deel met mense wat my normaalweg nie eers sou raaksien nie. Ek kon selfs, danksy hom, dierbare nuwe vriende maak en geesgenote ontdek omdat hy geen flenter omgee vir die beperkende etiket wat ons van vreemdes af weghou nie.

In net ‘n jaar se tyd het die ou karnallie ‘n deel van my geword. Ek betrap myself dat ek in sy terme dink en dinge volgens sy ritme en raamwerk fraseer.

Tog is dit asof ek in die laaste tyd begin swaarkry om hom aan die lewe te hou. Sy lewensbloed, die staaltjies, het haas opgeraak. Ek het my lewenslyn op en af voos gaan trap om te dink wat ek nog daaruit kan wurg wat darem tog vermaaklik genoeg is.

Ek kan nie, soos baie mense, hier ‘n dagboek onderhou nie – daarvoor is my dag-na-dag bestaan te saai. Ek het ook nie sulke sterk opinies oor dinge dat ek hier ‘n houding kan kom gooi nie – ek sal oor ‘n week vergeet wie se kant ek verdedig het!

Dalk het dit oplaas tyd geword om ander wêrelde te gaan ontdek. Dalk is die tyd ryp om ‘n eie storie te gaan skep, ‘n eie boek te skryf.

So, wat maak ek? Ek kan hom mos nie weggooi nie.

Ek dink ek gaan die ou hier langs my bed hou, en hom van tyd tot tyd inroep om weer namens my te praat, maar dan net wanneer ek regtig iets het om te sê. En, ek gaan darem nog getrou my vriende se blaaie bly besoek. Julle het ook deel van my geword.

30 antwoorde op His master’s voice

  1. “Dalk het dit oplaas tyd geword om ander wêrelde te gaan ontdek. Dalk is die tyd ryp om ‘n eie storie te gaan skep, ‘n eie boek te skryf.”
    Skryf daardie boek!

  2. More JK (en die Master daaragter)…van al die baie “verduidelikings” rondom blog en blogidentiteit, dink ek ek gaan hierdie een aanneem en onthou, want jy stel dit so reg, en boonop mooi.

  3. Jan Klaas, jou skrywes gaan ons nog lank bybly.
    Hoop ons lees nog baie van jou.

  4. Hanna Hoekom wou ook grênd stories skryf en toe kom sy agter maar die elke dag goed maak die beste stories, soos jy nou net hier gedoen het. Onthou wat vir jou saai is, is vir ons nuut en anders vanuit ons saai bestaan. So doet maar voort……..:-)

  5. Jy en Jan Klaas moet mooi reis.

  6. Ek beaam dit!

  7. Ek het al begin. Dis nogal lekker!

  8. Dankie, liewe Lisa.

  9. Ophou gaan ek gewis nie. Dankie vir die mooi woorde.

  10. Ek gaan nie weg nie. Ek sal hier rondhang soos ‘n droë hoes.

  11. Mmm. Ek wil net nie myself begin verveel nie!

  12. Dankie, shlwanjan. Ek sal hom aan die lewe probeer hou.

  13. Ek sal net kom sê as ek iets het om te sê. Anders sal ek julle paaie getrou volg.

  14. Dis een uitdaging wat ek nie kan misloop nie.

    Ek sal bietjie dink. Ek het ‘n paar sulke oomblikke gehad.

  15. Ek stem saam met die ander kommentare hieronder.. moet net nie verdwyn nie… al los jy net so af en toe ‘n ou lyntjie of 3 om te sê – jy’s nog met ons… is dit ook goed. Hou hom daar langs jou bed.. en die stem jou weer roep… xx

  16. Berwick het gesê op Augustus 30, 2010

    Ek hoor jou!

  17. Trakie het gesê op Augustus 30, 2010

    Jy moet lekker skryf aan daai boek.

  18. Dis wat my bangmaak!

  19. Ja, dis darem die plan. Ek gaan ou Jan op ‘n sagte plekkie laat lê tot ek hom weer nodig het.

  20. Ek maak so. En ek sal nog gereeld kom inloer en sekermaak julle dwaal nie af nie.

  21. Ek vermoed jy het ook al hierdie paadjie geloop.

  22. Ek dink die beste stuff uit voor ek aan die slaap raak. As ek wakker word, is dit gone!

  23. Dalk gebeur daar nog binnekort iets.

  24. 😀

  25. as ek daai harlekyn se gesiggie so kyk, lyk dit vir my of daar nog baie woorde daar binne is wat gehoor moet word. dit gaan dalk net tyd vat. ons wag rustig, rooiwyn in die hand.

  26. So afgespreek.

  27. zephur het gesê op September 1, 2010

    Heerlike Lentedag vir jou Jan

  28. Ja! Dankie, vir jou ook, Zep.

  29. ‘n lied in elke traan sit ek nou en dink aan iets heel anners

  30. Slim sin. Een stelling met sowat drie uitgange!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.