I shall sing, sing my song

Augustus 11, 2010 in Sonder kategorie

Hoekom blog?

Ek weet ek het die saak al so ongeveer in ‘n toentertydse blog aangeroer, so ek is nie besig om heeltemal kjens te word nie. Dis net dat ek nou nuwe insigte oor die saak het.

Hoekom sing? Hoekom skryf? Hoekom dig? Hoekom enigiets kreatief doen as jy nie noodwendig ‘n skitterende sterretjie daarin is nie?

Die vraag kom gereeld by my op as ek iemand sien goed kitaar speel, of as ek ‘n asemrowende vers lees soos die onlangse een van Klarisabet, of as ek ‘n lied hoor met aangrypende lirieke. Dan twyfel ek oor my eie bydrae en is ek sommer ‘n ruk lank stil. Soms sien ek self die leemtes raak, ander kere help ander jou. Soos die baie netjiese, subtiele kommentaar eenkeer by ‘n blog van my waar ek ‘n vers geplaas het waarop ek taamlik trots was. Die kommentaar: “Nice foto!”

Ek moes lag. Die foto was ‘n klein bysaak.

En dan, die insig. Hoe ‘n troostelose wêreldjie sou dit nie gewees het as net die bestes toegelaat was om te skilder, om te dig en om te sing nie. Geen blomme nie – die mooistes staan in ‘n museum in Engeland. Ons hoor dieselfde musiek heeldag lank, gepleeg deur virtuose. Amateurskilders se verf en kwaste word gekonfiskeer – dis Rembrandt se domein. Slegs die meesters durf films maak of boeke skryf. Daar is ‘n stel verloopte Idols-beoordelaars wat sê wie mag sing en wie nie.

Dis soos die plant van monokulture – groot groen landerye van eenselwigheid, terwyl die ware rykdom juis in diversiteit lê, soos die ryke fynbos van die Kaap of die bome aan die Transkeise kus. Dit is die veelheid van invloede en insigte wat musiek, literatuur en gedigte verryk, sonder dat dit ‘n ‘n dwangbuis gedruk word deur eng opinies, modes en voorskrifte.

Dis die een kant van die saak, en dan is ek nog nie eers by my punt nie.

Ek reken ‘n mens leef net hierdie een keer op hierdie blougroen aardbol. En dat die meeste mense kan kies hoe hulle dit doen.

Ek kan kies om soos ‘n dun liggie aan die firmament verby te skuiwe, soos ‘n skaam satelliet, en net my eie dingetjie te doen wat ek glo ek goed kan doen.

Of, ek kan kies om soos ‘n manjifieke vuurbal verby te suis, met al die motore wat brand, met vingers, tone en hare wat suis en krap aan die omgewing soos ek al die moontlikhede ondersoek van wat ek kan en wil doen. Dan sal ek sing, ek sal skryf, ek sal dig, toneelspeel en alles probeer wat ek kan. Ek sal weier om te sit en tob oor al die halfvol talente en verspeelde geleenthede. Ek sal nou begin en probeer wat ek kan, bloot omdat ek kan.

Ek hoef nie om verskoning te vra as die vlam nou nie so danig helder skyn nie – dis my blerrie vlam en niemand anders kan presies op hierdie wyse skyn nie.

Dan sal ek nie eendag op my sterfbed lê en tob oor wat ek nog graag sou wou doen nie.

31 antwoorde op I shall sing, sing my song

  1. Go for it!

  2. Neander het gesê op Augustus 11, 2010

    Ja nee laat waai!

  3. louisna het gesê op Augustus 11, 2010

    Pragtig Jan. So jammer nie almal toon jou insig nie

  4. Laat waai, maar, Janklaas. Ek sal Sondagoggende om luister {-;

  5. Wat ‘n wonderlike inspirasie!

  6. Jy kan maar net nie self sien hoe helder jou vlammetjie werklik is nie

  7. En alles is relatief en subjektief. As ek maar kon suis soos jy.

  8. Kan ek maar “amen” sê op jou skrywe!
    Ek deel jou sentiment 100%!! As jy nie waag nie, sal jy nooit weet of jy dit kon doen en dalk nog flippen goed ook nie…Dit vat BAIE meer guts om jou hand aan iets nuuts te waag as om net heeltyd in jou comfort zone te bly…
    “Beproef alles en behou die goeie..” is wat dadelik in my gedagtes opkom.. verbeel jou net Rembrandt het nooit ‘n verfkwas opgetel nie?? Of Mozart het nooit agter die klawers ingeskuif nie omdat hulle bang was… die wêreld sou beslis uitgemis het.. net so is daar so baie talente hier in blogland.. elkeen uniek in sy of haar eie reg.. En dis wat dit lekker maak hier.

    Hier is digters, hier’s mense wat toor met woord en beeld, metafore word gebore en lank onthou ander sterf ‘n vinnige dood, hier’s mense wat jou ‘n kykie in hulle alledaagse wandel en handel gee en so ook jou eie horisonne verbreed, hier’s ‘n uitruil van kennis, idees..

    Hier word vriendskappe gesmee tussen mense wat mekaar in alle waarskynlikheid nooit in die lewe buite blogland sou ontmoet het nie..

    Ek skat wat ek seker eintlik wil sê met ‘n helse ompad 🙂 … is dat jy en jou bydrae gewaardeer word.. dat jou deel van jou menswees wat jy hier met ons deel, spesiaal is… dat jou bydrae nodig is…

    Ons doen of sê of skryf soms iets wat ons dink onbenullig is… maar weet jy… jou onbenullige bydrae in jou oë – is soms die keerpunt in ‘n ander lewe, red soms ‘n lewe, gee hoop waar daar nie meer hoop was nie, laat besef soms mense – ek is nie alleen in my ‘struggle’ nie…

    en daarom..

    HOU AAN BLOG!
    Nes jy is!
    Want jy’s uniek en spesiaal nes jy is!
    Hoe boring sou die lewe nie wees as ons almal dieselfde gedink, gedoen en gevoel het nie!
    x

  9. Watch my.

  10. Ek gaan. Verwoed.

  11. Dis die vars seelug wat dit vir my doen…:-)

  12. En self sing, natuurlik.

  13. En dankie vir ‘n geleentheid soos blogs! Waar anders sou mens kon skryf?

  14. Dankie, Monica.

  15. Hallo Tronkie. Baie dankie.

  16. Ja, dis ongelukkig so dat ‘n mens altyd vaskyk in die agterent van die persoon wat net beter is en dan wil moed verloor. Daar sal altyd mense wees wat mooier as ek sing en dig, maar wat my nou betref, is dit hulle probleem.

  17. Hallo, liewe San. Baie dankie vir die mooi woorde.

  18. Hallo Murphs! En ons gaan daai vlam hoog hou.

  19. Sjoe, Foxy. Baie mooi woorde, en baie dankie. Wee die een wat ophou!

  20. Hy kort net soms ‘n bietjie paraffien…

  21. louisna het gesê op Augustus 11, 2010

    Darem seker ook inspirasie op die strand

  22. O ja. Vir seker!

  23. 😀

  24. louisna het gesê op Augustus 11, 2010

    Man moet kyk

  25. Vir my is dit lekker om anoniem te kan gesels, oor dinge wat ek nie andersins sou kon doen nie.

  26. Berwick het gesê op Augustus 13, 2010

    Nice geskryf!

    🙂

  27. Is so. En so ontdek jy al meer van jouself.

  28. Ja, en dis kosbaar hoe lief mens vir al die vlammetjies raak.

  29. Baie dankie, Berwick.

  30. gidivet het gesê op Augustus 14, 2010

    Hoor-hoor! (Waar’s jou naais foto vandag?)

  31. Te lui om ‘n prentjie op te sit. Maar eerder stil van luigeit as skaamgeit!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.