‘n Ridder

Augustus 10, 2010 in Sonder kategorie

“Onthou jy toe Peet…”

Terwyl sy dit sê is daar ‘n klammerige glans in haar blou oë.

Laetitia is ‘n mooi vrou. Sy was nog altyd mooi.

Op skool was sy so min of meer ons almal se droom, maar met haar markwaarde was haar ambisies eerder by die manne in die ouer standerds. Tot haar opsies in die matriekjaar ’n bietjie uitgedun geraak het en sy en Peet begin uitgaan het.

Dis nou Hoërskool Dr Malan se 50-jaar herdenkingsfunksie. Ons sit ou foto’s en deurkyk en lag soms half verleë.

Haar woorde gaan oor ‘n daad van ridderlikheid wat amper veertig jaar gelede met haar gebeur het, maar wat nog steeds haar oë kan laat traan. Ten spyte van al die trane, lag, droom en bitter wat intussen met haar gebeur het.

Ek moes die woord “ridderlikheid” omtrent in die woordeboek gaan opsoek, so argaïes het dit geword. Selfopoffering, ja wel, dit hoor jy baie van, soos ‘n by wat sy lewetjie opoffer ter wille van die bynes. Mense wat hulle eie lewens op die spel plaas om ander te red, al is dit vreemdelinge. Eienaardige manifestasies van menswees, en tog sien ‘n mens dit dikwels.

Ridderlikheid is iets bra anders. Iets van ‘n ouwêreldse grasie, waar iemand homself minder ag as ‘n ander, waar ‘n man sy baadjie in die modder sal gooi sodat madame uit die koets kan klim. Iets met ‘n element van respek en van agting, veral van ‘n man teenoor ‘n vrou.

Dis die Biologieklas, naby die einde van die dag. Almal is maar moegerig en knorrig.

Meneer Strachan is besig om die huiswerk na te gaan en die nodige lyfstraf uit te deel.

Hy kon goed slaan en het geredelik hierdie gawe met ons gedeel. Die seuns het eerste deurgeloop, die uwe ook, en dit was die dogters se beurt. As hulle werk nie gedoen is nie, het hulle ‘n paar houe op die hande gekry.

Laetitia se beurt. Sy weet sommer hy hoef nie eers in haar boek te kyk nie, en staan op vir die houe. En toe, Peet se woorde: “Ek sal haar pak vat, Meneer!”

Doodse stilte. Dít is woorde wat nie een van ons al ooit gebesig of gehoor het nie. Meneer Strachan se oë knip-knip.

“Wat sê jy?”

“Ek sal haar pak vat, Meneer.”

Sonder enige verdere woorde stap Meneer na Peet toe en gee hom sy tweede stel houe vir die middag.

Ons ander het verstom bly sit.

Hier het iets groots gebeur. Te groot vir ons om te verstaan.

28 antwoorde op ‘n Ridder

  1. louisna het gesê op Augustus 10, 2010

    Dit is inderdaad ridderlikheid Jan. Pragtig.

  2. En daar wens elke enkele meisie in die klas hulle was Leatitia.

  3. Voorwaar ‘n ridder op ‘n wit perd!
    Dit laat my terugdink aan ons straf… Ons heel eerste Biologietoets in Std.8
    Niemand het geweet wat om te verwag nie en omtrent 2 derdes van die klas het die minimum van 70% voorafgestelde vereiste nie gemaak nie… as straf moes ons mekaar pak gee! Ook ek was nie een van die gelukkiges nie en ek het aan die grens gegaan – nie oor die hou wat ek moes kry nie maar oor die hou wat ek moes uitdeel! want as dit nie hard genoeg was nie, moes jy dit weer gee!

    Kom ons sê maar net – ek het nooit weer vir ‘n biologie-toets onder 80% gehad nie!
    x

  4. Dit is fantasties! En veral op daardie ouderdom wat die ego so broos is en jou aansien by die tydsgenote ten alle koste beskerm moet word.

  5. Ek sou ‘n paar maal kon doen met ‘n Peet in my lewe.
    Skoolslae grens aan kindermishandeling

  6. Volpunte vir Peet!

  7. Berwick het gesê op Augustus 10, 2010

    Respekte vir Peet!

  8. Goeie ou dae toe mans nog mans was, nè?

  9. Tja. Ou Peet. Wonder waar is hy vandag.

  10. Dan het elkeen ‘n verhaal gehad om te koester.

  11. Dankie, Charlene.

  12. Hy het. Hy het vir Peet sy moment gegun.

  13. Jy’t ook maar ‘n klein hartjie! 🙂

  14. louisna het gesê op Augustus 10, 2010

    Mens wonder of die man na waarde vir sy heldedaad beloon is

  15. Ja, ek het maar bitter min daarvan in my lewe teegekom.

  16. Is so. Tensy ‘n mens dink watse kompensasie hy verwag het!

  17. Jis, ja. Ek dink ek sou baie dinge anders gedoen het as daar nie pak was nie.

    Dalk was dit dan maar ‘n goeie ding…

  18. Janee wragtig.

  19. Definitief meer as waartoe ek bereid was!

  20. Ja, dit is seker so…

  21. Ek wil graag so hoop. En nou gaan ek vir Peet op Bakkiesboek soek.

  22. louisna het gesê op Augustus 10, 2010

    Mag die lus ons nooit verlaat nie

  23. Mmm… te klein al probeer ek hom met hakiesdraad toespan!
    Hoop jy slaap heerlik.. ek gaan nou die bed opsoek..x

  24. Lekker doedies.

  25. Sjoe – ek sien jy’t ook die middernagolie gebrand! En dankie – ek het..welliswaar nie sonder onderbreking maar wanneer ek geslaap het was dit sooo lekker! Mooi dag daar!

  26. Ja.

    Ek wens die storie het ‘n gelukkige einde gehad.

  27. Onvergeetlik…

  28. Nogal waar. Ek dink mens onthou so iets tot by jou graf.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.