Om te knierts

Julie 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek het geknierts.

En, nou voor jy jou bril en die HAT gaan soek – daar is nie so ‘n woord nie. Nog nie.

Ek voel net daar moet een wees, vir die Ingelse woord om te ‘cringe’. Dis net nie dieselfde om te sê ek het ‘ineengekrimp’ nie – dis te teatraal en dan weer nie kras genoeg nie.

Voor ek by my punt kom, eers ‘n bietjie agtergrond. En, as jy die haastige soort is, kan jy dalk solank vir jou ‘n bier gaan haal terwyl ek hier afgaan.

Vir my kry woorde ‘n al hoe dieper betekenis namate ‘n mens vorder van gewone teks, via gedigte tot by lirieke. As ek ‘n stuk teks lees, is dit soos ‘n gewone gesprek, ongefiltreerd, iets wat ‘n mens maar so terloops kan optel terwyl jy die blaarslaai uit jou hamburger uit vis.

As ek ‘n vers lees, is dit die essensie van die betekenis, of bedoeling wat vir my oorbly. Dan raak elke woord goud en kosbaar. Met verse moet ek oplet, want hier word iets groter en dieper waarskynlik bedoel. Dan is hier ook heeltyd ‘n gevaar dat ‘n ou met louter twak kan wegkom, onder die dekmantel van obskuriteit, omdat hy/sy dalk bloot sukkel om rym te maak.

Sover niks snaaks nie, en ek sien hier jou gereelde Litnetlesers se bolip meerderwaardig krul terwyl hy/sy ‘n lui rookwolkie uitblaas.

Wanneer ek egter lirieke hoor, is dit asof die woorde summier in marmer uitgekap is. Dan aanvaar ek sommer blindelings dat daar groot skeppende kragte betrokke was en dat die bedoeling van die woorde noodwendig Diep en Waar sal wees. So shoot me, dis hoe ek aanmekaargesit is.

In die verlede het dit my keer op keer gepootjie. Ek het betekenis probeer sien in ‘Mamy Blue’, ‘The third of May’ en selfs ‘Jennifer Juniper’, terwyl daar blykbaar nie betekenis was nie. Maar so is dit vir my – ‘n liefdeswoord wat gesing is, sny regdeur my verdediging en gaan lê direk op my hart, bloot omdat dit gedra is op die sluwe vlerke van ‘n melodie. ‘n Wysie kan ‘n pretensieuse pedanterie* soos die destydse desiderata* na wyse spreuke laat klink. ‘n Musiekvideo kan my gees in ‘n drillende hoop slobberende jellie verander, of dit jubelend, soos ‘n afkophonder oor die vlaktes laat huppel. ‘n Wysie is die skede wat die teks reguit in jou gevoel in stuur.

Ja, lag maar. Jou beurt sal kom.

Ennieway, dis die inleiding. Nou my punt.

Ek ry in my kar in Marine Drive en kyk verveeld na die klein, plassende, spierwit brandertjies op die donkerblou moresee. Ek skakel die radio aan – RSG.

Dis Lianie May. Nou kyk, ek het ‘n sagte plekkie vir die girl. Toe sy laas daardie stadige “Ek sal by jou staan” begin sing het, het ek geweet ek wil haar kind hê. Ek was voor in die tou om haar CD te koop, wetende sy sal by my staan.

Wel, sy het nie. Hier trek sy los met “Ek het gedroom van ‘n plek waar die son nooit gaan set”. Net so. Gaan set, sodat sy hom (nie die son nie, die held) blykbaar kan gaan red.

Die knierts was hier nog net halfpad. Wie weet, dalk het hulle gesette sonne in die Vrystaat. Maar, toe noem sy die held haar by-hybie. ‘n Moerse groot man met ‘n baard is haar by-hybie, petieterige klein dingetjie wat sy is. Knierts hier volkome. Waar praat mense so?

Ek weet zef is nou ‘n genre, maar kommen val nog êrens tussenin.

Dit het ook nie gehelp om die musiekvideo te sien nie – dis ‘n man met ‘n perd, baie ander perde, fraaie Lianie en ‘n dam. G’n enkele by-hybie in sig nie. Net perde. En ‘n dam.

Daar is troos – in Oom Bles se jare was elke liedjie kniertskapabel, nou is daar darem weer hier en daar marmerwoorde, so tussen al die stamp, rugby en bokkies.

*Let hier op die outeur se subtiele aanwending van alliterasie…

23 antwoorde op Om te knierts

  1. elgado het gesê op Julie 26, 2010

    brilliant geskryf! Ek stem, “knierts” moet ‘n woord word.

    Ek moet se, van die Afrikaanse lirieke skrywers is Koos du Plessis onomstrede vir my die meester.

    “En iewers skyn die somerson op die velde van Transvaal…”

  2. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Yes! En Gert Vlok Nel en darem nog ‘n paar ander.

  3. gidivet het gesê op Julie 26, 2010

    Uitstekend! Maar ek kom uit ‘n generasie waar ba-hybies knieserig kon raak en grootmense ‘n knertsie by die koffie kon gooi. Ek dink ons moet dalk maar aanhou cringe.

  4. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Smaak my in daai video gooi hulle ‘n knertsie by die bybie se koffie.

  5. Ek drink ‘n kniertsie op hierdie skrywe van jou. Ek was ook mal oor Liani in die begin, maar daai byhyby song van haar gee my die ritteltits.

  6. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Ek hoop sy ruk haar reg.

  7. Is dit nie sy wat ook so aanmekaar van Hannie, hannie sing nie.
    Gly ook op my skaal.

  8. Sy probeer wegkom met ‘n cute lyfie en gesiggie.

  9. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Normaalweg sou die lyfie vir my genoeg wees…

  10. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Waaa kom hulle in elk geval aan die bybie-storie?

  11. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Daai kind het insig ver bo sy jare. Voer hom genoeg groente en vleis.

  12. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Skaroemba!

  13. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Sies. Nou’s daai Edenliedjie weer in my kop. My dogter speel hom aanmekaar!

  14. FOXY1975 het gesê op Julie 26, 2010

    Mmm..jy werf ook my stem! op vele punte in jou skrywe… maar jy weet dit mos maar eintlik alreeds 😀

    Mooi week!

  15. Janklaas het gesê op Julie 26, 2010

    Lekker week, Foxy.

  16. shlwanjan het gesê op Julie 26, 2010

    Het jy gekyk? Is jy SEKER die woord ‘bybie’ (*gril*) is nog nie in die HAT opgeneem nie???

  17. Janklaas het gesê op Julie 27, 2010

    Nee! Ek is bang vir wat ek mag vind!

  18. Trakie het gesê op Julie 28, 2010

    As dit nie was dat haar son kan set nie, sou sy nóóit haar held kon gaar red nie. Nes niemand anders as De la Rey, die Boerevolk ooit sou kon lei.

  19. Janklaas het gesê op Julie 28, 2010

    Janee, as die son sou ondergaan, sou sy moes ‘huis-toe gaan’.

  20. KNIERTS WAT ‘N LEKKE WOORD ….

  21. zephur het gesê op Augustus 2, 2010

    Ek weet ook nie hoekom elke 2de song(liedjie) vandag by-hybie in die lirieke moet hê nie.

  22. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2010

    Ek gaan hom aanhou gebruik!

  23. Janklaas het gesê op Augustus 2, 2010

    Dit irriteer die teer uit my uit.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.