Hier kiep-kiep

Julie 13, 2010 in Sonder kategorie

Die sensuele geur van die sappige geskenkte koejawel wat deur my kantoor vloei, herinner my so taks aan hoe ek Sondag kwylend voor die oond in die kombuis gestaan en wag het. Die uitdrukking op my gesig wat vanuit die donker oondglas teruggestaar het was so min of meer dieselfde as die een waarmee ek Baywatch kyk.

 

Dit was soos om Pinkpolkadot se blogblad te besoek – die heerlikste geregte word sommerso daar uitgestal, in so ‘n mate dat ek net soontoe gaan as ek lekker versadig geëet is, anders is daar kortsluitings op my sleutelbord.

 

In die oond was ons herontdekte gesinsgereg, naamlik bomskokhoender. Jy dons sommer die hoenderonderdele in ‘n pot, gesmeer met ‘n bietjie sout, en dan gesnyde aartappelstukke, gesmeer met ‘n bietjie olie en sout. Bo-op dit gooi jy so ‘n klompie naeltjies en dan laat jy die goed bak. Sommer lank.

 

Maklik.

 

Die reuk wat daar uitkom is om van te jubel. Hierdie bederfde dorpshoender vergeet sommer sy wilde geite en ruik pure plaas. Net soos die trotse Leghornhoender wat Ma destyds regop in die Sondagpot staangemaak het met sy stywe nekkie soos ‘n baken na bo. Daar het hy uitgekom sout en geurig, sodat jy die beentjies agterna kon loop en lek soos suigstokkies.

 

Ek het eers baie later besef dat hulle my met ‘n slap riem gevang het deur my, jongstetjie, te laat verstaan dat die nek en magie eintlik die lekkernye is, terwyl hulle weglê aan die geurige lewertjie en bo-boudjies. Hulle het al met die perskes en jellie begin dan suig ek nog nekwerwels uit.

 

Wat het van die lewertjie geword? Het hulle dit ook nou skoon uit die arme goed uitgeteel? Ek het eenkeer die fout gemaak om by so ‘n hoender-broeisaal in te stap. Vir my, turftoon, plotseling, semi-plaaskind was dit ‘n arige skok om die geveerde gediertes te sien wat hulle lewens daar omtrap. Leë oë, ambisieloos, nie soos die windgat Leghorns van De Deur wat gereken het die erf behoort aan hulle nie. En, met sulke regte gul Bisho-boude, spesiaal geteel vir die pot.

 

Ennieway. Ons ander hoenderresep is om die stukke te bak in ‘n mengsel van blatjang, mayonnaise en uiesop. Heerlik.

 

En nou het ek agtergekom hoe stjoepid dit is om oor kos te tik twee-uur in die middag as jou maag rommel.

29 antwoorde op Hier kiep-kiep

  1. FOXY1975 het gesê op Julie 13, 2010

    Amen broer! Dis dom… ek is ook honger.. en nou noodsaak jy dat ek tog maar vinnig gou ietsie gaan kry om te eet!

  2. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    …en skaapboud!

  3. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    Vanmiddag loop ek ekstra vroeg.

  4. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    Ek kry so ewe nou-nou ‘n besoeker. Hoop nie my maag raas te veel nie.

  5. zephur het gesê op Julie 13, 2010

    Daai ander resep…met blatjang, uiesop en mayonnaise…ons doen hom ook so.

    De Deur…daar by Meyerton ?

  6. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    Net daar. Deesdae tuisland.

  7. zephur het gesê op Julie 13, 2010

    Het jy daar groot geword…skool gegaan ?

  8. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    My pa was die hoof van die laerskooltjie. Meyerton Hoërskool. Sus hou nog steeds daar skool.

  9. Berwick het gesê op Julie 13, 2010

    Hallo, Jan.

    🙂

  10. Klink lekker…..sad oor die hoenders!

  11. Hoender in enige vorm is reg!

  12. Aan kiepie kan ons nog voor sy geboorte en na sy dood smul.

  13. wynvdm het gesê op Julie 13, 2010

    🙂

  14. bloukaap het gesê op Julie 13, 2010

    honger is die hoener se einde, et al ….

  15. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Haai daar, Berwick.

  16. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Die een se dood…

  17. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    ‘n Vrou met waarde ver bo korale…

  18. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Behalwe in uniform. Dan proe hulle te sout.

  19. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Net nie gelyk nie!

  20. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Hei, dankie virrie inloer.

  21. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Ja, hoekom moet mens sleg eet as mens goedkoop lekker kan eet?

  22. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    …en ‘n voël draai bowe in eensame vlug…

  23. zephur het gesê op Julie 14, 2010

    Laerskool Verwoerd

    ek was in Dr Malan gewees

  24. UNPOCO het gesê op Julie 14, 2010

    Daai mengsel van Mayonaise, Blatjang en uisesop werk vir baie resepte.

  25. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Dis weird! Lekker om nog ‘n Dokkie hier te sien! Ek wou mos sê daar is ‘n sekere ‘class’ aan jou skrywes…:-)

    Omtrent wanneer was jy daar? As jy nie hier wil sê nie, kan jy dit Spaces toe stuur. Dan kan ons familie uitlê!

  26. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Ek het in die begin gesnyde aartappels so geëet.

    En hier begin ek al weer honger raak…

  27. iets soos gekookte eiers gevul moet hoenderlewer patee

  28. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Sowaar, dit kan werk!

  29. zephur het gesê op Julie 15, 2010

    Klein wêreld die

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.