Ongenooide disseksie

Julie 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek is seker besonder stadig van begrip.

Dit het my ‘n leeftyd geneem om tot op hierdie punt te kom. Terwyl dit vir my lyk asof ander mense hierdie punt soveel vroeër in hulle lewens bereik het.

Daar is ‘n ou Moody Blues liedjie, ek kan nie die strekking meer mooi onthou nie, maar op ‘n stadium kulmineer die verhaal in “..and he understood. He understood himself.”

Dis asof ek net een môre, so vier, vyf jaar gelede wakker geword het en die groot patroon raakgesien het, die raamwerk waarom dinge gebou is.

Vir die eerste keer kon ek myself helder sien, met al my futiele ambisies, vrese, ydele selfsug en tekortkominge. Die prentjie was darem ook nie heeltemal negatief nie – ek kon darem die dinge wat ek wel kan doen, in beter perspektief sien.

Dit het my visie van die werklikheid ook verander. Dis asof ek deur die illusies kon dring, verby die waandenkbeelde waarmee ons onsself omring. Om my het net die harde werklikheid oorgebly, met sy eie dryfvere maar tog met sy eie mooi.

Al die patrone het skielik by mekaar ingepas en sin gemaak. Ek het hierdie nuwe wêreld ontgin en opgelees met ‘n gierige aptyt, soos een wat al die jare in ‘n donker kerker vasgekluister was. Heeltyd het dit vir my gevoel asof die lig al helderder skyn, asof ek skielik die ou, antieke storielyne by mekaar kon inpas, en asof ek al beter kon verstaan hoekom mense dit wat hulle doen, aan mekaar doen.

Dit voel vir my asof hierdie wêreld alreeds lankal hier was, asof die res vir my gewag het om by te kom.

Ek wil dit nie laat klink asof ek skielik alles weet nie, en asof ek die antwoord op alles het nie. Dis net asof hierdie vrede met wat ek is, my skielik bevry het om op ‘n hoër spits te kan staan en verder te sien as ooit voorheen. Om daar te kon kom, het dit sekerlik gehelp dat ek die meeste van my ambisies kon bereik, dat ek ‘n vol lewe gehad het, dat ek met mense omring is wat ek hartstogtelik liefhet en dat ek bevoorreg is om nog te kan lees en luister.

Noudat ek kan terugdink daaroor, moet ek ook erken dat die proses ernstige gevolge op myself gehad het. Dis wel asof ek nou meer empatie met mense kan hê, omdat ek beter verstaan waar hul seer en ambisies vandaan kom, maar dis asof ek minder geduld het met dwaasheid en met die spoke waarmee mense hulleself kan omring. Ek word banger oor dinge waarvan ek die gevolge kan voorsien, soos finansiële ruïnering, vernietiging van die natuur, aanblaas van haat en vrese, verwydering tussen geliefdes, die wegslyting van beskaafdheid…

Ek vermoed dit het ook my persoonlikheid verander. Wat is ‘n mens meer as jou dryfvere, jou knorrighede, jou geite en voorkeure? Al daardie dinge het nou vir my relatief geword. Dit voel of ek soos glas geword het wat al die kleure deurlaat, sonder om ‘n eie kleur te gee. As ek dink met hoeveel passie ek my lewe lank sinlose argumente kon ondersteun en lei, kan ek net lag daaroor en hoop dat die betrokkenes my vergewe, of vergeet het. En, ek is nie seker of daar genoeg van my willigheid oorgebly het om my herkenbaar te maak nie!

Sondagoggende is ‘n bogger. Die spieël waarin dit jou laat kyk, is te helder.

27 antwoorde op Ongenooide disseksie

  1. louisna het gesê op Julie 11, 2010

    Mooi Jan.

    Die spieël bars

    Die spieël bars
    Glasstukke herontplooi
    tot ‘n uitspansel wat nooit was nie
    nooit sal wees nie
    Hibernering as opsie is dus
    uitgedefinieer

    Elke plooi getuig van val
    en opstaan
    Geruisloos wag ons
    raak ons verstrengel
    in die uur van lig
    en duisternis

    As die uurglas eindelik praat
    so skuins voor middernag
    is die helder kolle uit voorraad
    en blessings suiwer disguise

  2. HeavyHenry het gesê op Julie 11, 2010

    Nice pos dié.

  3. pasella het gesê op Julie 11, 2010

    Lig in die duisternis, ek dink nie dis almal beskore nie.

  4. Ek kon dit al lankal deur jou blogs sien, en ek hou daarvan, en die beste van alles jy kan hierdie nuwe kennis van jou nooit ooit weer verloor nie! Jy kan wel met tye baie alleen voel….

  5. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    He he, briljant.

    Ek is mal oor die laaste vers.

  6. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Dankie, Henry!

  7. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Is so. Ek vermoed net ek het vervelig geword.

  8. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Voel half verleë. Die bedoeling was beskeie, ek wou nie brêg nie.

  9. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Ek weet nie, jong. So gou as wat ek voor verower, kerf amnesie dit van agter af uit.

  10. louisna het gesê op Julie 11, 2010

    Thanks Jan. Vanaand is die Kaap weer Hollands, ofskoon ek nie veel van sokker weet nie.

  11. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Mmm, ek het klaar die biltong en nartjies gekoop.

  12. Uitstekende skrywe. Dis wonderlik as mens daardie punt in mens se lewe bereik!

  13. louisna het gesê op Julie 11, 2010

    En ons gaan ‘n vleisie braai, al is dit winter

  14. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Dalk voel dit net so, en dis eintlik omdat ek als vergeet het!

  15. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Ek het beslis darem die grysheid…

  16. Janklaas het gesê op Julie 11, 2010

    Ja, sou ook maar ek is nog steeds alleen. Vrou het dogter in Stellenbosch gaan aflaai.

  17. louisna het gesê op Julie 11, 2010

    Biltong, nartjies en ‘n glasie met ietsie ligs in die hand kan eensaamheid soms lekker maak

  18. Janklaas het gesê op Julie 12, 2010

    Amen, brother!

  19. Janklaas het gesê op Julie 12, 2010

    Ja, dit was toe heel prettig. Sien net nie uit na die alleen koue bed nie…

  20. Berwick het gesê op Julie 12, 2010

    Mooi geskryf, Jan.

  21. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    Baie dankie, Berwick.

  22. Janklaas het gesê op Julie 13, 2010

    Dit maak my net verleë as ek sien hoe voortvarend en naïef ek was. Ek sou nie van myself gehou het nie.

  23. Uitstekende pos!!

  24. wynvdm het gesê op Julie 13, 2010

    Baie mense kom eers op hul sterfbed hierby uit. Of selfs nooit. Respek!

  25. Janklaas het gesê op Julie 14, 2010

    Bekommerd meet ek nou my eie pols…

  26. Die ou Grieke het gemeen n mens se lewe het drie vaste dele: tot op dertig moet jy leer en luister en reis en ontdek; daarna moet jy werk en n gesin begin en n lojale burger wees; en eers na sewentig mag jy oor ander mense heers en oordeel en n leermeester word want dan eers het jy wysheid!

  27. Janklaas het gesê op Augustus 1, 2010

    Sjoe, ek weet nie eers of ek daardie ryp ouderdom gaan maak nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.