Die skooldebat

Mei 24, 2010 in Sonder kategorie

Met die voordeel van terugblik, en uit ervaring van altwee kante van die saak, kan ek nou lekker grinnik oor ‘n klein gebeurtenis lank, lank gelede.

Stel jou die situasie voor: dis ‘n hoërskooldebat. Die tema van die debat is of die matriekeksamen afgestel behoort te word of nie. Die tema is deur die bestuurtjie uitgesoek en geskikte slagordes is aan weerskante opgestel vir die aand se gebeure.

As voorprogram is ‘n voordrag of wat gelewer, ‘n liedjie of wat is gesing, die boereorkessie het gespeel en waarskynlik het ‘n klasgroepie ‘n heroïese groepsvoordrag gelewer uit Die Dieper Reg, of so iets.

Ouboet en ‘n paar ander het die debat ingelei met voor-of teenargumente, soos beplan. Daarna is die vloer oudergewoonte oopgestel en nog ‘n paar gewigtige argumente het vanuit die saal opgeklink.

Skielik, êrens in die tweede ry, steek ‘n seuntjie sy hand op. Geamuseerd kyk die voorsitter hom aan, en bied hom dan sportief ‘n geleentheid om ook sy sê te sê.

Die kêreltjie staan op, kyk ‘n paar keer om hom rond, skwiek iets onsamehangends en gaan dan half verleë sit.

Vir ‘n rukkie is dit stil. Dan begin die formidabele skoolhoof, Villiers Terblanche, met ‘n glimlag op sy gesig stadig sy hande klap. Spoedig dreun die handegeklap deur die hele saal, en daar sit die knapie, so rooi soos ‘n beet en wonder wat de hel het so pas gebeur.

Oukei, nou raait. Hier is ‘n standerd drie-laaitie, mooi gepoeier en afgestof om saam met sy ouboet, ousus en ouers na die hoërskooldebat toe te gaan. Daar aangekom, word Pa as skoolhoof van ‘n voedingskool, met sy gesin na die eregassitplekke voor in die saal gelei.

Van die weelde van hierdie sagte plek betrag die laaitie die vreemde tafereel wat so stadig voor hom afspeel.

Dan uiteindelik, die tyd vir die debat. Ouboet praat, sê die matriekeksamen is ‘n Goeie Ding. Maar, jou wragtag, is dit nie die buurseun, Paul Liebetrau, wat daar opstaan en ‘n lang argument téén die matriekeksamen voer nie? So ‘n bleddie verraaier! Nes jy dink jy ken ‘n man en kan hom vertrou, kom hy en wys homself uit as ‘n vyand van die volk en van die openbare orde.

Dankie tog, iemand anders staan op en ondersteun vir Ouboet. Wys jou, daar is nog regverdiges in Sodom en balsem in Gilead.

Maar. so deur die verdere verloop van die debat begin die knapie besef dat daar oor hierdie saak, die nodigheid al dan nie van die matriekeksamen, groot verwarring onder hierdie skool se leerlinge heers. Die een sê sus en die ander sê so. En dit, terwyl Ouboet tog duidelik die slaggate in ‘n lewe sonder matriekeksamens aan die volk uitgestippel het.

Duidelik moet hier ingegryp word.

Die laaitie steek sy hand op om ‘n spreekbeurt te vra. En sowaar, die voorsitter gee hom die geleentheid.

Toe laaitie opstaan, omdraai en ‘n see van helder, blink oë op hom gerig sien, besef hy dat hy hierdie saak miskien nie behoorlik deurdink het nie. Veral, dag hy, sou dit gehelp het as hy eers gedink het wat hy sou wil sê.

Skor piep hy iets in die lyn van: “As hulle nie eksamens skryf nie, sal hulle mos nie slim word nie!”, of iets banaals in dier voege.

Sy bene gee onder hom in en hy gaan sit. Skielik het hy tonnelvisie en sy ore dreun.

As hy op daardie oomblik gedink het die heelal kon hom heel insluk na ‘n ander dimensie toe, was hy diep verkeerd. Nee, eerder word hierdie laagtepunt in sy jong bestaan onderstreep en in dik letters geskryf toe die hele saal begin hande klap.

Op pad huis toe het niemand darem iets gesê nie. Net Pa het so half gesmaail.

Vandag verstaan ek daardie smaail so goed.

42 antwoorde op Die skooldebat

  1. gidivet het gesê op Mei 24, 2010

    So ‘n bek kort jem. En die skoolhoof staan reg agter Salamo.

  2. elgado het gesê op Mei 24, 2010

    Bravo!!!

  3. loudavisi het gesê op Mei 24, 2010

    Ek het net debat toe gegaan as David Kramer vir ons tussen die redenasies deur vermaak het met sy kitaar en beatle voorkoms. Dit was so lekker!

  4. Trakie het gesê op Mei 24, 2010

    Uit die mond van ‘n suigeling.

  5. Neander het gesê op Mei 24, 2010

    Ons debatte was ook groot sports. Eenkeer chaos oor die onderwerp, ‘aan jou vriende sal jy geken word’ en eenkeer het ons matriekseuns as ballerinas opgetree.
    Fopdossers rule!

  6. Sanseveria het gesê op Mei 24, 2010

    Ek ken die skoolhoof en dit is so sprekend van die man!

  7. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Eintlik Sal Volatile…

  8. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Meer bek as breins was ek, ja.

  9. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Liewe land. Julle was diep bevoorreg!

  10. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Net so!

  11. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Ons was eenkeer verplig om te debatteer oor “Help advertensies vir padveiligheid?”. Doodse stilte, niemand kon iets sê nie, hoedehel moes ons weet?

  12. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    “Licensed to teach”! Die vrees vir daai oë moes ek te bowe kom.

  13. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    In sy vroeër jare by ons was ons doodbang vir hom. Later, by Affies, het hy kalmer geword en was selfs Direkteur van Onderwys.

  14. Dit is te kostelik dat jy op daardie ouderdom reeds ‘n standpunt ingeneem het!

  15. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Het ek maar liewer so gesê…

  16. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Gmf… 😉

  17. Berwick het gesê op Mei 24, 2010

    :-)) Mooi, Jan Klaas.

  18. Janklaas het gesê op Mei 25, 2010

    Dalk het ek maar nog net dieselfde onnoselheid as toe.

  19. Janklaas het gesê op Mei 25, 2010

    Sies. Dit het my amper geknak!

  20. Janklaas het gesê op Mei 25, 2010

    Hei dankie, Berwick.

  21. Janklaas het gesê op Mei 25, 2010

    Dankie Flenters!

  22. FOXY1975 het gesê op Mei 27, 2010

    Niks onnosel aan jou nie! Net die waagmoed (al is dit ook met ‘n broek wat bewe) om sy eerlike oortuiging met ander te deel!
    Mooi middag vir jou!
    x

  23. ludwig.heuer het gesê op Mei 31, 2010

    Die waarheid moes uit. Nice gedoen.

  24. dinkweer het gesê op Junie 1, 2010

    Goed beskryf!

  25. hacjones het gesê op Junie 4, 2010

    Eish! Lekker storie. Dit sny baie naby aan die lewe!

  26. Sanseveria het gesê op Junie 10, 2010

    Ek het vir jou ‘n Spaces-boodskap gestuur.

  27. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Ek was daai std. 3-laaitie. En dalk is ek nog hy.

  28. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Nee jong, hoe meer ek daaroor dink, hoe stupider klink dit.

  29. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Dankie, Ludwig.

  30. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Dankie, Dinkweer!

  31. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Hallo HJ. Ja, dis lekker om op ‘n veilige ouderdom nou daaroor te kan skrywe…

  32. Janklaas het gesê op Junie 10, 2010

    Haai San. Ek probeer my bes om te antwoord, maar die net skop dit terug. Jy is baie welkom, jy kan maar my eie naam gebruik – ek dink darem nie die skrywes is te inkriminerend nie.

    Sal weer probeer ‘space’.

  33. FOXY1975 het gesê op Junie 11, 2010

    Hulle mails is alweer op die koffie! Jy kan nie antwoord op ‘n boodskap as jy direk van jou blog af antwoord nie, net as jy op spaces in’log’… al manier is om maar vir die persoon ‘n nuwe boodskap te skep en te stuur. x

  34. Janklaas het gesê op Junie 11, 2010

    Ja, op ‘n stadium wou niks werk nie. Dalk is dit ook maar FIFA se skuld!

  35. …waar is jy???

  36. Janklaas het gesê op Junie 15, 2010

    Eksie weggie. Ek is besig om ‘n handboek persklaar te maak – ek moet die vak al in Julie aanbied!

  37. Janklaas het gesê op Junie 15, 2010

    Nee, ek glo nie ek sal sommer hier weggaan nie. Ek het julle te nodig. Watch this space.

  38. UNPOCO het gesê op Junie 15, 2010

    Jan Klaas, jy word gemis!

  39. Janklaas het gesê op Junie 16, 2010

    Ai dankie, UNPOCO! Ek sal hierdie naweek my batterye bietjie herlaai.

  40. Waar is jy, jong??? Mis jou!

  41. Janklaas het gesê op Junie 24, 2010

    Dankie, Ghaap. Ek is op pad terug. Moes net eers ‘n padda afsluk.

  42. Janklaas het gesê op Junie 24, 2010

    Watch this space. Ek het nou weer tyd, kort net inspirasie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.