Vinger van die dood

Mei 9, 2010 in Sonder kategorie

My vriend H was ‘n gesondheidsinspekteur in sommige van ons land se mooiste dorpies. In die proses het hy heelwat interessante ervaringe op die lyf geloop.

Eendag laat hulle hom weet die begraafplaas by Pacaltsdorp het ‘n bedremmelde geur begin ontwikkel. Nou, dit kan toegeskryf word aan die bitter baie reën wat toe daar geval het – soms begin die grond gewoon vrot en swaelwaterstofgas vrystel, soos ek al by uitgrawings in Houtbaai se hawe en rondom die eiland by Sedgefield geruik het.

In hierdie geval was daar egter ‘n meer makabere moontlikheid. As ‘n kis te vlak begrawe word, kan dit in baie nat tye as’t ware begin dryf na die oppervlakte en die ontbindingsgasse ontsnap dan na bo. Vandaar die uitnodiging vir ‘n besoek.

Destyds is gevangenes vir sulke werk gebruik. Met so agt van hierdie ‘bandiete’ kom H toe by die terrein aan.

Ag, maanskyn en rose. Om die geur te verbloem, het iemand in sy wysheid iets soos gellings vol van een of ander roosgeurige middel daar uitgestort, probleem mos opgelos.

Of dalk nie. Eerder maar sekermaak.

Met die bandiete in ‘n tou agter hom aan, stap H na ‘n nuut-toegegooide graf, die waarskynlikste bron van die verdagte geur. Daar gaan staan hy, met hierdie halfmaan van geweldenare voor hom, op ‘n respekvolle afstand van die graf af.

Hier moet jy die prentjie mooi verstaan. Dis geharde manne hierdie. Hulle staan breed met die pik of graaf staangemaak voor hulle – tandelose monde, oorbelle, leë oë, gemarineer in harde tye, beplak met tatoëermerke soos die Huisgenoot se voorblad, maar met ‘n gedeelde ontsag vir hierdie Dinge van die Gees hier in hulle midde.

H kan sien dat harde woorde hier nodig is. “Begin hier grawe!” beveel hy.

Die manne loer vinnig deur skrefiesoë na mekaar, maar niemand verroer ‘n vinger nie. Kyk amper half anderpad, of hulle dalk wolkies van die see se kant af kan sien opkom.

H probeer ‘n meer meelewende aanslag, maar dit help ook nie. Nottendêm – die manne stáán.

Duidelik moet H hier ‘n ander strategie volg. Hy loop na die heining van die begraafplaas waar daar ‘n aantal wattelbome groei, sny ‘n láng loot af en verwyder die sytakkies van die loot met sy knipmes. Toe begin hy die skerp punt van die loot in die sagte grond druk, met die bedoeling om te probeer voel of die punt êrens teen ‘n te vlak kis vasdruk.

Hiervoor sien die manne bra kans, en hulle begin een-een huiwerig en taamlik nuuskierig naderstaan.

Die loot vorder goed en die manne konsentreer diep.

Meteens is daar ‘n luide skreeu hemelwaarts, en dadelik is die hele toneel ontruim. Kaal. Niemand. Nada. Niks. Die van julle wat al beleef het hoe duiwe kan opvlieg van ‘n hondebak af as Wagter hulle bestorm, sal die prentjie kan begryp. Net H staan nog daar, breed en bonkig van stuk, oorbluf met die dik punt van die loot nog in sy hande.

Dit het lank gevat om die bewende, bleek manne weer op te spoor en bymekaar te kry en te hoor wat dan nou gebeur het.

Blykbaar het hierdie slap loot, op sy pad na benede, teen iets vasgedruk, omgedraai en sy koers weer slu na bo begin vind. Daar het die punt bo die grond begin uitwurm en langs iemand se skoen verby, in sy broekspyp opgekruip.

Die eerste wat hierdie arme man gevoel het, was toe hierdie vreemde vinger vanuit die dieptes van die onderwêreld hier in sy onderste gewestes begin wink.

Kan jy ‘n man dan kwalik neem as hy op daardie tydstip eerder elders wil wees?

Hulle sê daardie man het geweier om die tronk te verlaat toe hy uiteindelik vrygelaat is.

24 antwoorde op Vinger van die dood

  1. pinkpolkadot het gesê op Mei 9, 2010

    LOL…. ek kan hom nie kwalik neem dat hy besluit het dat dit baie veiliger in die tronk is nie!! Jou kroos begin seker ook eersdaags met eksamens – baie sterkte en voorspoed aan hulle!

  2. loudavisi het gesê op Mei 9, 2010

    Bwhahahahaha!
    Ek kan my voorstel..

  3. monicahaddad het gesê op Mei 9, 2010

    Dis nou ‘n diep skrik daai! hahaha

  4. 🙂

  5. DallaSePa het gesê op Mei 9, 2010

    JK … jy skryf soos ‘n Champ!

  6. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    Ja, dankie, hulle sê so. Sterkte met joune ook!

  7. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    🙂

  8. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    Ek sien daai gesigte so voor my…

  9. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    Ses (of vyf!) voet diep!

  10. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    Haai Thomas!

  11. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    He he, dankie, maar dis H se goeie storie! Ek hoef dit omtrent net oor te geskryf het.

  12. Janklaas het gesê op Mei 9, 2010

    Janee. Dit moes aardig gevoel het.

  13. Janklaas het gesê op Mei 10, 2010

    Of daai ding van my nagmerries – jy hardloop, maar jou lyf staan stil.

  14. Janklaas het gesê op Mei 10, 2010

    Iesj, ja, hoe laat dit my nou ril.

  15. Miney het gesê op Mei 10, 2010

    LOL!
    Dink ek sou eerder ook in die tronk gebly het.

  16. dinkweer het gesê op Mei 10, 2010

    Grillerige verhaal, Jan Klaas!

  17. Janklaas het gesê op Mei 10, 2010

    Ek is seker hy het heeltemal ‘n ander verhaal aan sy tronkpelle vertel.

  18. Janklaas het gesê op Mei 10, 2010

    He he. Ja, nogal!

  19. ludwig.heuer het gesê op Mei 11, 2010

    Ek lees van die koffie drink en toe wil ek kom kyk waar bly julle … En toe lees ek nou die storie… Man dit is ‘n lekker oorvertel storie hierdie … Ek hou veral van die manier wat die manne beskryf word … ‘Gemarineer in harde tye…’ briljant …

    Ek het lekker gelag … Hierdie tipe stories is presies waarom ek hier op Litnet rondhang … Nice

  20. Janklaas het gesê op Mei 11, 2010

    Dis vir my ook lekker om hier oor die werwe rond te swerf. Elke dag struikel ‘n mens oor iets wat jou pootjie, roer of laat lag.

  21. Trakie het gesê op Mei 11, 2010

    Net die ding om mens se dag op te kikker! :-))

  22. Berwick het gesê op Mei 16, 2010

    :-)) Goed gaan, Jan Klaas.

  23. Janklaas het gesê op Mei 17, 2010

    Wat, so ‘n vinger wat jou voete kielie? 🙂

  24. Janklaas het gesê op Mei 17, 2010

    Hallo daar Berwick!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.