Die skooldebat
Mei 24, 2010 in Sonder kategorie
Met die voordeel van terugblik, en uit ervaring van altwee kante van die saak, kan ek nou lekker grinnik oor ‘n klein gebeurtenis lank, lank gelede.
Stel jou die situasie voor: dis ‘n hoërskooldebat. Die tema van die debat is of die matriekeksamen afgestel behoort te word of nie. Die tema is deur die bestuurtjie uitgesoek en geskikte slagordes is aan weerskante opgestel vir die aand se gebeure.
As voorprogram is ‘n voordrag of wat gelewer, ‘n liedjie of wat is gesing, die boereorkessie het gespeel en waarskynlik het ‘n klasgroepie ‘n heroïese groepsvoordrag gelewer uit Die Dieper Reg, of so iets.
Ouboet en ‘n paar ander het die debat ingelei met voor-of teenargumente, soos beplan. Daarna is die vloer oudergewoonte oopgestel en nog ‘n paar gewigtige argumente het vanuit die saal opgeklink.
Skielik, êrens in die tweede ry, steek ‘n seuntjie sy hand op. Geamuseerd kyk die voorsitter hom aan, en bied hom dan sportief ‘n geleentheid om ook sy sê te sê.
Die kêreltjie staan op, kyk ‘n paar keer om hom rond, skwiek iets onsamehangends en gaan dan half verleë sit.
Vir ‘n rukkie is dit stil. Dan begin die formidabele skoolhoof, Villiers Terblanche, met ‘n glimlag op sy gesig stadig sy hande klap. Spoedig dreun die handegeklap deur die hele saal, en daar sit die knapie, so rooi soos ‘n beet en wonder wat de hel het so pas gebeur.
Oukei, nou raait. Hier is ‘n standerd drie-laaitie, mooi gepoeier en afgestof om saam met sy ouboet, ousus en ouers na die hoërskooldebat toe te gaan. Daar aangekom, word Pa as skoolhoof van ‘n voedingskool, met sy gesin na die eregassitplekke voor in die saal gelei.
Van die weelde van hierdie sagte plek betrag die laaitie die vreemde tafereel wat so stadig voor hom afspeel.
Dan uiteindelik, die tyd vir die debat. Ouboet praat, sê die matriekeksamen is ‘n Goeie Ding. Maar, jou wragtag, is dit nie die buurseun, Paul Liebetrau, wat daar opstaan en ‘n lang argument téén die matriekeksamen voer nie? So ‘n bleddie verraaier! Nes jy dink jy ken ‘n man en kan hom vertrou, kom hy en wys homself uit as ‘n vyand van die volk en van die openbare orde.
Dankie tog, iemand anders staan op en ondersteun vir Ouboet. Wys jou, daar is nog regverdiges in Sodom en balsem in Gilead.
Maar. so deur die verdere verloop van die debat begin die knapie besef dat daar oor hierdie saak, die nodigheid al dan nie van die matriekeksamen, groot verwarring onder hierdie skool se leerlinge heers. Die een sê sus en die ander sê so. En dit, terwyl Ouboet tog duidelik die slaggate in ‘n lewe sonder matriekeksamens aan die volk uitgestippel het.
Duidelik moet hier ingegryp word.
Die laaitie steek sy hand op om ‘n spreekbeurt te vra. En sowaar, die voorsitter gee hom die geleentheid.
Toe laaitie opstaan, omdraai en ‘n see van helder, blink oë op hom gerig sien, besef hy dat hy hierdie saak miskien nie behoorlik deurdink het nie. Veral, dag hy, sou dit gehelp het as hy eers gedink het wat hy sou wil sê.
Skor piep hy iets in die lyn van: “As hulle nie eksamens skryf nie, sal hulle mos nie slim word nie!”, of iets banaals in dier voege.
Sy bene gee onder hom in en hy gaan sit. Skielik het hy tonnelvisie en sy ore dreun.
As hy op daardie oomblik gedink het die heelal kon hom heel insluk na ‘n ander dimensie toe, was hy diep verkeerd. Nee, eerder word hierdie laagtepunt in sy jong bestaan onderstreep en in dik letters geskryf toe die hele saal begin hande klap.
Op pad huis toe het niemand darem iets gesê nie. Net Pa het so half gesmaail.
Vandag verstaan ek daardie smaail so goed.
Onlangse kommentare