Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Troudag

April 6, 2010 in Sonder kategorie

Sy was ‘n deel van daardie somer

en ek ‘n eensaam digter-dromer…

Ek het haar op ‘n kerkkamp ontmoet, by Eiland, naby Letsitele.

Lekker windgat was ek op die kamp: nagraadse student, sangleier en algemene beroerder van sake.

Kamp-kosma was sy, wat die wanindruk kon skep dat sy kan kook. Maar dit terloops. Sterk persoonlikheid, mooi, vol attitude en ‘n skerp, skerp humorsin en glad nie bang om my op my plek te sit nie. Sing bietjie valserig, maar met oorgawe. Rooi hare. En ek bedoel rooi.

En verloof.

Ek was ‘n veteraan van verhoudinge. Al digby die vyftig keer verlief en pas uit twee, drie reekse laaang vaste slepe. Min of meer bitter en versoen met die gedagte van oujongkêrelskap.

Ons het aan die gesels geraak. Eers bietjie, toe al meer, en soveel aanklank gevind dat die tokkelokke op die kamp verplig gevoel het om haar aan te spreek. Sy het my vertel van ‘n ander wêreld, van swaar grootword en ‘n afwesige pa, deur ‘n ellendige skoolloopbaan tot waar sy haar nou kon uitleef, studenteleier en primaria van Madelief-koshuis.

Sy het my vertrou. Ek het by hierdie vrou geborge gevoel. Nooit die tiener-bruisende verliefdheid daar beleef nie, maar ‘n stille wete en ‘n groot kalmte dat sy vir my alles sou wees om my aan te vul. Met haar sou ek my vlerke kon strek en weet ek sal veilig land.

Ek het vir haar lief geword. Sy het haar verlowing gebreek en ons is uiteindelik getroud.

Ons is saam deur maer jare, deur hartseer tye, maar ook deur reënboë van geluk en vervulling.

Saam het ons drie pragtige kinders grootgemaak. Deur die jare het ons haar leer waardeer as ‘n gul gewer van haar tyd, haar moeite, haar alles, haar self. Sy was my klankbord, my troos, my kritikus en steun – met haar kon ek alles wees wat ek graag wou wees. Sy het my verdra, deur alles wat ek is, kon sê of doen.

Ek het steeds vir haar al liewer geword.

Tot hier waar ons vandag dertig jaar getroud is.

Baie dankie, my liewe vrou. Dit het te gou verbygegaan.

Op die walle

April 1, 2010 in Sonder kategorie

Dis of daar ‘n effense onvrede in Bokkie is vanoggend, so asof hy deur sy skrefiesogies ‘n bleker, gryser weergawe van hierdie pragtige oggendtoneel langs die rivier sien.

Die briesie speel deur sy yl, grys borshare en hy gee die visstok ‘n onverwagte, vies pluk na links. Stamp amper sy tupperfles met die whiskey om.

Ek weet hy wil hê ek moet verneem, maar ek is nie lus vir nog ‘n storie nie. Daarvoor is dit te lekker hier op die plat klip in die son, tussen die biesies. Die voëltjies sing hulle gebruiklike gatte af, die vissies spring, die helder wit wolkies kruip oor die donkerblou herfslug, die lug ruik na rivierklei en vars gras, maar hier langs my lê ‘n beneukte Bokkie en knies. Not fair.

Uiteindelik word die druk vir hom te hoog. Hy draai sy blou oë skelm na my om te kyk of daar nie nog ‘n greintjie medemenslikheid oor is nie, en begin toe maar vanself.

“Wat leer julle die kinders daar by die universiteit?” vra hy.

“Hoe bedoel jy?” vra ek behoedsaam. Ek kan die onheil sommer sien aankruip, soos Kakies oor die wal van die Modderrivier.

“Nee, ek vra jou mos nou. Wat bedoel jy ‘wat bedoel ek’? Wat leer julle die studente daar?”

Ek sug. Dis duidelik ‘n vraag wat nie ‘n antwoord wil hê nie.

Bokkie sit regop en vat ‘n laaste trek aan ‘n uitgerookte stompie. “Lyk my nie julle leer die kinders meer maniere nie.”

Ek bly maar stil. Daardie taak staan nie in my posbeskrywing nie, maar toemaar.

“Hulle het g’n maniere meer nie. Maak en doen soos hulle wil. Dink die plek behoort aan hulle.”

Stadigaan begin die liggie by my opgaan. Sy mooi matriekdogter het blykbaar ‘n student wat by haar vlerksleep, en dié is dalk net te perfek vir Bokkie se smaak.

“Maar kyk dan hoe ‘n oulike kêrel kuier dan nou daar by Chantel,” waag ek ondeund.

Dit lyk of Bokkie ‘n koronêr skiet. Hy spring op en spoeg ‘n bitter slympie in die Olifantsrivier. Nog ‘n vis dood. “Oulik? Oulik! Die vent is ‘n p***hol!”

Ek pols en paai. Ek skink vir hom ‘n dop. Ek sit vir hom nuwe aas aan sy lyn.

Stadigaan begin hy weer afblaas, maar die ligte, onvergenoegde fronsie bly aan sy voorkop kleef.

Blykbaar het dogter by haar ma gaan appeleer toe Bokkie haar verbied het om die vorige aand uit te gaan. Hulle kom toe eers laatnag terug, doodgelukkig, sonder enige sweem van berou.

Stywerig gaan lê ons weer op ons hengelplekkies. Ek verstaan nou. Dis genoeg om ‘n man op te pluk en die idille uit hengel te vis.

In die huis moet almal darem saamwerk om die skyn te behou dat ons daar baas is.