Uit die oog…

April 10, 2010 in Sonder kategorie

Te midde van al die mense hier wat regtig swaar kry, voel ek soos ‘n Fariseër om my eie klein private angs hier te kom blootlê. En, ek sal waarskynlik hierdie blog spoedig weer uitvee omdat dit te na aan die hart lê.

Maar dan, dis mos wat bloggers mag doen. Hier kan ek onbevange my sê sê. Aan die een kant kan mens op blogland voorgee asof jy die wonderlikste, mees belese en dierbaarste kêrel in die land is, en aan die ander kant kan jy verblindend eerlik wees. Hier kan jy mos anoniem jou bose swere wys, en nie soos arme ID du Plessis vrees oor die konsekwensies nie van “as ek my vreemde liefde bloot moes lê”…

Boonop voel ek ook asof ek met die witbrood onder die arm kla, as julle sien wat my klagte is.

Ek is eensaam.

Ja, ek is eensaam al het ek ‘n dierbare vrou vir wie ek baie lief is, pragtige kinders en ‘n wonderlike, vervullende werk.

Dis bra my eie toedoen. Ek het myself stelselmatig van my ou vriende en my familie vervreem deur mettertyd vanuit al daardie kringe ver weg te verhuis. ‘n Mens moet seker saamleef met die konsekwensies van jou keuses. Spekbek sê mos dat alleenwees ‘n gekose toestand is soos jy ouer word. I beg to differ.

‘n Man moet ‘n vriend hê. Iemand by wie jy ongenooid kan inval en woordeloos saam na ‘n vuurtjie se vlamme sit en staar.

Ek het verskeie sulke vriende gehad, maar nou is hulle ver en elkeen het mettertyd aangegaan met sy eie lewe. Nou en dan sien ons mekaar nog, dan is ons bly en ons gesels dik stukke. Dan gaan elkeen maar weer terug op sy eie paadjie en ons stuur weer ‘n paar e-posse, vir ‘n ruk.

Kennisse het ek baie. Nuwe pelle het ek heelwat. ‘n Geesgenoot het ek nie meer nie. Met ouer word is vriende maak moeiliker en op die een of ander wyse het ek in ‘n dorp beland met dierbare mense, maar wat ou klieke vorm. Dan het mens ook nog altyd die ding dat die manne wat jy beter wil leer ken, se vroue nie met jou wederhelf akkordeer nie, en andersom.

Dit het my baie lank geneem om ook te besef dat ek nie die familie se nommer een witbroodjie is nie. Die Baai is ver, maar nie oorkant die see nie, maar bitter min van hulle het nog ooit sover gekom om by ons te kom kuier. Dit stam dalk van die dae wat ons finansieel gesukkel het, of omdat ek die jongste in die gesin was, maar ek besef nou dat ek die enigste een is wat ooit kuier!

Met die les nou geleer, sal ek hulle ook nie meer soveel bodder nie.

So, nou is dit ook van my gemoed af. More kan ek weer oor Malema en Jan Klaas skryf en die wêreld se toestand in die algemeen verbeter. Verskoon my tirade.

14 antwoorde op Uit die oog…

  1. Berwick het gesê op April 10, 2010

    Ja – die sleutelwoord is “geesgenoot”.
    My broer is tans so iemand.
    Net jammer dat hy in Londen sit.

    (Dit lees glad nie soos ‘n tirade nie.)

  2. Janklaas het gesê op April 10, 2010

    Ek het nie sulke geesgenote wat nader woon as agt uur se ry nie.

    Dit voel maar soos ‘n tirade – dis vir my swaar om oor sulke intieme dinge te skryf.

  3. Janklaas het gesê op April 10, 2010

    Lekker slaap, Modderkoekie.

    Ek voel nog nie bra ge’cleanse’ nie. Sal seker maar more die blog uitvee…

  4. Janklaas het gesê op April 10, 2010

    Is so. Dis lekker om soms daar te kan wees vir ander, maar ander kere weer te weet hier is tog geesgenote. Mens kan jou verbeel hulle het ‘n pols.

  5. Dis nie ‘n tirade nie. Ek dink jy het baie van ons se gevoelens verwoord.

  6. Janklaas het gesê op April 10, 2010

    Dis half hartseer om te hoor! Dankie vir die inloer, Thomas. Dis dalk hoekom ons blog…

  7. Trakie het gesê op April 10, 2010

    Ek’s bly ek kon hierdie een vang voor jy dit uitvee.

    Op hierdie oomblik sit ek en ‘n geesgenoot oorkant mekaar by die kombuistafel, elkeen besig op sy/haar eie laptop. So nou en dan maak een van ons ‘n opmerking of vertel iets. Gelukkig is my man nie van die jaloerse tipe nie en werskaf hy doodtevrede in sy garage. My geesgenoot is bloot net dit: ‘n geesgenoot. Geen bymotiewe nie.

  8. Janklaas het gesê op April 11, 2010

    Jy is so bevoorreg. ‘n Geesgenoot kan ‘n mens genoeg vertrou om volkome jouself te wees. En dit het ‘n mens ook nodig.

  9. Janklaas het gesê op April 11, 2010

    Is so. Maar dit bly nog ‘n surrogaat van die werklike ding. Iemand by wie ‘n mens net kan inval as die wêreld druk, of jou nuwe polshorlosie voor kan gaan wys.

    Maar dank die vader vir blogvriende.

  10. Janklaas het gesê op April 11, 2010

    Haai, dankie vir die inloer!

  11. FOXY1975 het gesê op April 12, 2010

    Hi jy,
    Ek seker ook maar net be-aam wat baie hieronder reeds gesê het… en moenie sleg voel, of voel jy kla met ‘n witbrood onder die arm nie! Ook ek verstaan presies hoe jy voel… het nie regtig familie by wie ons kuier nie en die by wie ek graag sou wou kuier sit in die TVL… vriende die is ook maar yl gesaai en kan op een hand getel word… en dan is hulle ook nog wydverspreid.. die enigste vriendin by wie ek sommer gou na werk oppad huistoe sou inval en vinnig by koffiedrink terwyl die kinders ‘n vinnige speelsessie inpas het seker ook so jaar of 3 gelede ‘n paar uur se ry weggetrek agter werk en ‘n rustiger plattelandse bestaan (ek mis hulle geweldig!)… so jy is glad nie alleen nie… Maar ek is bly jy’t ook my maatjie geraak! Sterkte daar… en kry dit van jou bors af – eerder uit as in het Shrek gesê!x

  12. Janklaas het gesê op April 12, 2010

    Nou is ek bly ek het dit geskryf. My laaste nabyvriend het ook twee jaar terug Kaap toe getrek.

    Miskien moet ons ‘n alliansie van eensames vorm! Of, dalk is ons dit alreeds.

  13. FOXY1975 het gesê op April 12, 2010

    Ek dink jy slaan die spyker alreeds op sy kop! 🙂
    Mooi dag vir jou!

Los ’n antwoord vir Trakie. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.