Op die walle

April 1, 2010 in Sonder kategorie

Dis of daar ‘n effense onvrede in Bokkie is vanoggend, so asof hy deur sy skrefiesogies ‘n bleker, gryser weergawe van hierdie pragtige oggendtoneel langs die rivier sien.

Die briesie speel deur sy yl, grys borshare en hy gee die visstok ‘n onverwagte, vies pluk na links. Stamp amper sy tupperfles met die whiskey om.

Ek weet hy wil hê ek moet verneem, maar ek is nie lus vir nog ‘n storie nie. Daarvoor is dit te lekker hier op die plat klip in die son, tussen die biesies. Die voëltjies sing hulle gebruiklike gatte af, die vissies spring, die helder wit wolkies kruip oor die donkerblou herfslug, die lug ruik na rivierklei en vars gras, maar hier langs my lê ‘n beneukte Bokkie en knies. Not fair.

Uiteindelik word die druk vir hom te hoog. Hy draai sy blou oë skelm na my om te kyk of daar nie nog ‘n greintjie medemenslikheid oor is nie, en begin toe maar vanself.

“Wat leer julle die kinders daar by die universiteit?” vra hy.

“Hoe bedoel jy?” vra ek behoedsaam. Ek kan die onheil sommer sien aankruip, soos Kakies oor die wal van die Modderrivier.

“Nee, ek vra jou mos nou. Wat bedoel jy ‘wat bedoel ek’? Wat leer julle die studente daar?”

Ek sug. Dis duidelik ‘n vraag wat nie ‘n antwoord wil hê nie.

Bokkie sit regop en vat ‘n laaste trek aan ‘n uitgerookte stompie. “Lyk my nie julle leer die kinders meer maniere nie.”

Ek bly maar stil. Daardie taak staan nie in my posbeskrywing nie, maar toemaar.

“Hulle het g’n maniere meer nie. Maak en doen soos hulle wil. Dink die plek behoort aan hulle.”

Stadigaan begin die liggie by my opgaan. Sy mooi matriekdogter het blykbaar ‘n student wat by haar vlerksleep, en dié is dalk net te perfek vir Bokkie se smaak.

“Maar kyk dan hoe ‘n oulike kêrel kuier dan nou daar by Chantel,” waag ek ondeund.

Dit lyk of Bokkie ‘n koronêr skiet. Hy spring op en spoeg ‘n bitter slympie in die Olifantsrivier. Nog ‘n vis dood. “Oulik? Oulik! Die vent is ‘n p***hol!”

Ek pols en paai. Ek skink vir hom ‘n dop. Ek sit vir hom nuwe aas aan sy lyn.

Stadigaan begin hy weer afblaas, maar die ligte, onvergenoegde fronsie bly aan sy voorkop kleef.

Blykbaar het dogter by haar ma gaan appeleer toe Bokkie haar verbied het om die vorige aand uit te gaan. Hulle kom toe eers laatnag terug, doodgelukkig, sonder enige sweem van berou.

Stywerig gaan lê ons weer op ons hengelplekkies. Ek verstaan nou. Dis genoeg om ‘n man op te pluk en die idille uit hengel te vis.

In die huis moet almal darem saamwerk om die skyn te behou dat ons daar baas is.

4 antwoorde op Op die walle

  1. Trakie het gesê op April 4, 2010

    Van die walle afgevalle.

    Ek weet, ek weet, waar val ek uit? Dit het sommer in my kop opgekom.

  2. Janklaas het gesê op April 6, 2010

    Jy laat my goed voel!

  3. Janklaas het gesê op April 6, 2010

    Glo my, dit is baie waar.

  4. Janklaas het gesê op April 6, 2010

    Jy’s lus vir sing! Wonderlik.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.