Te midde van al die mense hier wat regtig swaar kry, voel ek soos ‘n Fariseër om my eie klein private angs hier te kom blootlê. En, ek sal waarskynlik hierdie blog spoedig weer uitvee omdat dit te na aan die hart lê.
Maar dan, dis mos wat bloggers mag doen. Hier kan ek onbevange my sê sê. Aan die een kant kan mens op blogland voorgee asof jy die wonderlikste, mees belese en dierbaarste kêrel in die land is, en aan die ander kant kan jy verblindend eerlik wees. Hier kan jy mos anoniem jou bose swere wys, en nie soos arme ID du Plessis vrees oor die konsekwensies nie van “as ek my vreemde liefde bloot moes lê”…
Boonop voel ek ook asof ek met die witbrood onder die arm kla, as julle sien wat my klagte is.
Ek is eensaam.
Ja, ek is eensaam al het ek ‘n dierbare vrou vir wie ek baie lief is, pragtige kinders en ‘n wonderlike, vervullende werk.
Dis bra my eie toedoen. Ek het myself stelselmatig van my ou vriende en my familie vervreem deur mettertyd vanuit al daardie kringe ver weg te verhuis. ‘n Mens moet seker saamleef met die konsekwensies van jou keuses. Spekbek sê mos dat alleenwees ‘n gekose toestand is soos jy ouer word. I beg to differ.
‘n Man moet ‘n vriend hê. Iemand by wie jy ongenooid kan inval en woordeloos saam na ‘n vuurtjie se vlamme sit en staar.
Ek het verskeie sulke vriende gehad, maar nou is hulle ver en elkeen het mettertyd aangegaan met sy eie lewe. Nou en dan sien ons mekaar nog, dan is ons bly en ons gesels dik stukke. Dan gaan elkeen maar weer terug op sy eie paadjie en ons stuur weer ‘n paar e-posse, vir ‘n ruk.
Kennisse het ek baie. Nuwe pelle het ek heelwat. ‘n Geesgenoot het ek nie meer nie. Met ouer word is vriende maak moeiliker en op die een of ander wyse het ek in ‘n dorp beland met dierbare mense, maar wat ou klieke vorm. Dan het mens ook nog altyd die ding dat die manne wat jy beter wil leer ken, se vroue nie met jou wederhelf akkordeer nie, en andersom.
Dit het my baie lank geneem om ook te besef dat ek nie die familie se nommer een witbroodjie is nie. Die Baai is ver, maar nie oorkant die see nie, maar bitter min van hulle het nog ooit sover gekom om by ons te kom kuier. Dit stam dalk van die dae wat ons finansieel gesukkel het, of omdat ek die jongste in die gesin was, maar ek besef nou dat ek die enigste een is wat ooit kuier!
Met die les nou geleer, sal ek hulle ook nie meer soveel bodder nie.
So, nou is dit ook van my gemoed af. More kan ek weer oor Malema en Jan Klaas skryf en die wêreld se toestand in die algemeen verbeter. Verskoon my tirade.
Onlangse kommentare