Klitsgras in blogveld
Maart 24, 2010 in Sonder kategorie
Sommige blogs behoort deur wit en pienk lint afgesper te word.
Gisteraand, toe ek so op die ‘interweb’ ronddwaal, struikel ek toe oor ‘n blog wat my erg seer krap. Bietjie te na aan die been.
Almal met oë kan sien dat daar so baie mense met erg gebrande vlerke is wat hier rond blog. Hier kry hulle die geleentheid om darem te kan kommunikeer en uit te reik. Aan die ander kant is dit vir my wonderlik hoe die bloggemeenskap hulle harte oopmaak vir sulke mense en aan hulle ‘n sagte kussing van troos en omgee verskaf. Lewe op hierdie blou planeet is so dikwels wreed en eensaam, en blog is ‘n verrassende nuwe soort uitweg om jou leed anoniem aan die wêreld te kan uitsing, en te weet iemand luister en gee om.
Sulke tye wens ek altyd ek het die regte woorde gehad, die regte oplossing, die regte raad om so iemand weer te kon laat opkyk en hoop te gee. In Vereeniging was daar ‘n dominee Scott wat so ‘n gawe het. Hy kon sy growwe hande so deur die doringtakke druk en sagte, koel vingers op die rou kwesplek in jou hart neersit. Hy is iemand wat regtig kon omgee en troos, ‘n baie rare gawe.
Wat erger is as seer, is daardie lang weë, daardie seer wat bly en nie weggaan nie. Dan help vandag se troos nie, want more word jy weer met die seer wakker, en elke hier en daar in die gang van dae val jy oor goedjies wat jou daaraan herinner. Dan word gewone gebeurtenisse geleenthede wat gemis is, beelde van wat-kon-gewees-het wat jou wrede brein ongenooid voor jou laat afspeel.
Ek het beleef dat mense op verskillende wyses uit verhoudings kom. Vir party was dit net nog ‘n ervaring, vir ander ietwat seerder. Dan kry jy die soort wat ‘n lewe neem om van weg te kom, asof jy ‘n onsigbare, erg afwesige lewensmaat saam met jou bly dra. Ek vermoed dit gebeur veral as ‘n mens in die verhouding besonder intieme oomblikke gedeel het, wanneer jy jouself gegee het in die vertroue dat die ander een jou kosbaarste sal bly koester en oppas. Dit sal ook makliker gebeur in ‘n meer behoudende gemeenskap, waar daar nie so los en vas met verhoudinge gespeel word nie.
Wat kan ek sê? Ek wens ek was wys, ek wens ek kon ander se laste saam met my eie hoop selfsugte en kwellinge inpas. Ek wens ek was twaalf dominee Scotte.
Ek wens almal se seer voel vandag ‘n bietjie beter. Buite sing die arme voëltjies hulle gatte af.
zephur het gesê op Maart 24, 2010
Ek is sommer bly vir 10 man gelyk…smile awhile
Ja Jan daar is baie seer en partykeer te min pleisters.
zephur het gesê op Maart 24, 2010
Ag damn kan net 5 sterre gee.
eiewys-gekkigheid het gesê op Maart 24, 2010
Jirder laat jy my nou erg huil Jan Klaas ek dink jy het iewers hierin my tevolle beskryf sonder dat jy weet. Dankie vir die asemrowende en rakende skrywe.
maryke-anne het gesê op Maart 24, 2010
Ek wens ook partykeer dat ek almal se seer kan regmaak, maar dis nie moontlik nie.
Wat ‘n wonderlike pos!
I-like-silly het gesê op Maart 24, 2010
volpunte vir die een!!!
Neander het gesê op Maart 24, 2010
Toemaar Jan jy kan ook troos.
Groetnis.
Doubtingthomas het gesê op Maart 24, 2010
11/10!
VozSola het gesê op Maart 24, 2010
ek wil sommer vyf keer jou sterre druk…
…mmm…
en hier sing die voëltjies saggies vandag, soos die tiktikkiereën hier buite…
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Te min pleisters, inderdaad… 🙂
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Baie dankie, Zep.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Ai, Tweeling.
So deel ons almal ‘n universele leed. Sterkte.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Is so, mens wil help terwyl jy self kan. Maar ek gaan aanhou probeer!
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Baie dankie, ILS!
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Vir seker. Vir seker. Ons moet meer dankbaar wees vir hulle.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Ek probeer, maar soms was ek die oorsaak, Neander. Tot my innige spyt.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Baie dankie, Thomas!
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Mooi gesê.
Hier buite is ‘n jong bokmakierie besig om te leer sing. Nog nie bra nootvas nie.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Ai, dankie Murph!
zette het gesê op Maart 24, 2010
Jy het ‘n mooi hart..
zette het gesê op Maart 24, 2010
Ons almal was maar soms die oorsaak jong.
monicahaddad het gesê op Maart 24, 2010
Jy was nounet twaalf dominee Scotte……
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Baie dankie, Ffion.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Dis wonderlik om dit te hoor.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Baie dankie, Annabelle. Wens dit was altyd waar.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Weereens, dis wonderlik om dit te hoor. Wens ek kon dit bly wees.
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Maar dis hoekom ek lank gewroeg het voordat ek self so iets kon skryf. Wie de hel is ek om troos uit te mag deel? Amper asof die ploeg ‘n plantertjie agter hom aansleep!
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
🙂 Lekker dag vir jou ook, SoNel.
wynvdm het gesê op Maart 24, 2010
Inspirerend!
Berwick het gesê op Maart 24, 2010
Goed gesê, Jan Klaas.
Hoe gaan dit met die pa in die Mafia, die dogter en die vermeende hartebreker?
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Dankie, Rooiwyn!
Janklaas het gesê op Maart 24, 2010
Lyk my ek moet my uit vrouesake uithou. Die twee het al weer opgemaak. Lyk my hulle roep my net in as hulle kwaad is.
Ek is my dogters se militêre vleuel.
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Baie dankie, Flenters.
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Baie dankie, liewe Theriens.
zette het gesê op Maart 25, 2010
Sjoe, maar jy is HARD op jouself! Ek is seker jy het meer goed in jou as sleg…
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Dankie! Ek hoop so!
FOXY1975 het gesê op Maart 25, 2010
Dankie dat jy kom ‘sê’ het van jou pos! Sou graag ook vir jou meer as 5*tjies wou gee! Wil nou meer sê maar dan sê ek dalk te veel in die openbaar so ek stuur maar vir jou ‘n privaat boodskappie.
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
My pleidooi is dat ons van onsself kan ontsnap en die gesing kan hoor.
Natuurlik makliker gesê as gedaan, maar dit keer ons nie om te probeer nie!
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Dis seker waar die Kübler-Ross-model van hartseer geld: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding. Die probleem kom as ‘n mens vassteek in een van hulle voordat mens by aanvaarding kom. Soms is tyd nie ‘n voldoende middel om daar deur te werk nie en moet mens hulp kry.
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Hulle reken darem mens hoef nie deur presies al die stappe te gaan nie, of eers in daardie volgorde nie. Maar, vir my klink so ‘n onderliggende depressie nogal na ‘n kenmerk van die proses.
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
En nee, daar is geen voorgeskrewe duurtydperk vir elke stap nie.
lisabeth het gesê op Maart 25, 2010
Ek hou van die woord “klitsgras” en van “blogveld” ipv blogland en ek hou van “die pienk en wit lint afbaken storie”, en ek hou van die volgende sin, en die volgende en die volgende…tot aan die einde! Ek het niemand nog ‘n hartjie in plaas van ‘n smile sien stuur nie – maar die een is uit die hart!
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Ek dink so! 🙂
Janklaas het gesê op Maart 25, 2010
Sjoe, dankie Lisa!
FOXY1975 het gesê op Maart 26, 2010
Gedink ek sê sommer vir jou ook dankie daar op my bladjie!
Janklaas het gesê op Maart 26, 2010
Dis baie mooi.
Janklaas het gesê op Maart 28, 2010
Ek, vir een, sal dit verwelkom. Want dan mag ek ook.
MarianaF het gesê op Maart 30, 2010
Ek moet se dat “blogging” help om ‘n hele paar goed van die hart af te kry! “Nice” inskrywing!
Janklaas het gesê op Maart 31, 2010
Ek het een keer, lank terug, oor my eie verse geskryf dat dit eintlik maar net ‘n goue kruiwa is om die poefies mee af te laai.