Vir masochiste
Desember 1, 2009 in Sonder kategorie
Vir die soveelste keer in sy lewe smoor Jan Klaas ‘n skeldwoord wat sidderend oor ons ver verlate vlaktes sou weergalm. En, vir die soveelste keer suig hy die bloed teer uit ‘n swaar verwonde linkerduim.
Agter Janklaas se gepynigde uitdrukking skuil die sware besef van sy aandeel aan ‘n skat van gebroke werklikhede, van koddige skeppinge wat krom en skeef, soos ‘n tapisserie oor die landskap van Suid-Afrika gepleister is.
Skewe mure, portrette, rakke, geute en gordynrelings; lekkende dakke en pype; gesmeerde verf- en plakwerk; teleurgestelde supermodelle – alles getuienis van ‘n sekere onderbedeeldheid in die gebied van handvaardighede. ‘n Leemte met groot noukeurigheid en sorg uitgewys deur ‘n geslag kunsvlyt- en houtwerkonderwysers; deur ‘n skoonma, ‘n vrou en deur drie kinders en ‘n bediende.
Van die onderwysers was dapper onder die indruk dat hulle daardie vaardighede met geweld en ‘n kweperlat via Jan Klaas se sitvlak sou kon indwing. Andere was meer subtiel en het hulle beperk tot smalende kommentare of ‘n kopskuddende, meewarige tonggeklik.
En so verskyn daar ‘n wyle terug ‘n boek “Doen dit jouself”, geskryf deur die immergewillige mnr. Garforth-Nureyev, of so iets. Nou, behalwe vir die klaarblyklike seksuele konnotasies aan so ‘n boeknaam, het ek ook ‘n paar voorstelle vir die skrywer wat hy aan homself kan gaan doen.
Dis die einste man wat eens trots oor die televisieskerms van die nasie gedans het met ‘n wavrag van klaargesnyde planke wat hy dan nonchalant, borrelend en soetjies aanmekaar geheg het om ‘n katedraal te vorm, asof enigeen dit kan doen. Vir my was daar amper ‘n element van honendheid in die siniese genot waarmee hy ‘n spyker reguit sou inslaan – duidelik ‘n pas-ontwikkelde soort spyker wat nie buig nie.
Die boek is gevul met die gewone propaganda wat die leser sal oortuig dat hy ook wonderwerke kan pleeg, gewapen met ‘n spyker tussen die tande en ‘n hamer in die gordel. Min of meer soos daai seepsepies soggens op tv, wat jou ‘n Schabir Shaik herrysenis belowe as jy net twee keer ‘n dag slakekstrak oor jou wange sou streel.
Wel, ba. En bollie. Wat my betref is dit een lang en duur bemarkingsbrosjure vir Build-it (jor partna ien ol bieldieng) wat verbied behoort te word. Dit skep verwagtinge. En wek pynvolle herinneringe. En is waarskynlik rassisties.
Jan Klaas het agtergekom dat daardie boek ‘n goeie vuuraansteker maak as ‘n mens dit vir ‘n paar uur marineer in paraffien. Moenie nalaat om die effens oorblufte uitdrukking op die skrywer se gesig te geniet in die laaste oomblikke voordat die voorblad in swart koolstof verander nie.
ludibotha het gesê op Desember 1, 2009
EK ken daardie boeke. Die persoon wat die demonstrasie doen gebruik ‘n oorpluisie en ‘n knipmes, en daarmee bou hy ‘n Mall. Net om ons te laat sleg lyk. Ek koop nie sulke boeke nie, en is besig om petisies op te stel dat hulle die boeke strenger moet sensuur, of self heeltemal verban.
Janklaas het gesê op Desember 1, 2009
Duidelik ‘n wyse, wyse man.
Sanseveria het gesê op Desember 1, 2009
Uitstekend geskryf Janklaas! En ek’s seker jou onderwysers en skoonma en vrou en jou kinders en die bediende stem saam. Hahaha!!
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
Hulle lees nie graag nie. Geen manier om hulle te beïndruk nie.
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
Dis waar. Ek het so ‘n buitelig. Hy werk nou nog net halfpad. Deur skrefiesoë.
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
Jou gelukkige man.
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
Alles propaganda. En misleiding. En ‘n bietjie wreed.
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
En moenie die plaaslike kliniek vergeet nie. En die huweliksberader. En die uiteindelike handyman.
Ek kan my voorstel hoe jou beelde sou gelyk het onder die sorg van Jan Klaas. Eina.
net myself het gesê op Desember 2, 2009
ai, gelukkig is daar ‘n legio winkels wat klaargemaakte goed verkoop, en gelukkig kies mensvrouens nie soos vinkwyfies ‘n maat gebaseer op sy huisbou-vernuf nie. jou laaste paragraaf is histeries snaaks.
Janklaas het gesê op Desember 2, 2009
Ek het darem taamlik suksesvol leer kook. Anders sal ek in my lewe nooit afval kry om te eet nie.
hippieheart het gesê op Desember 3, 2009
LOL! niemand kan jou beskuldig dat jy nie probeer het nie ;D
Berwick het gesê op Desember 3, 2009
Groete, Jan Klaas. Baie lekker geskryf!
Janklaas het gesê op Desember 4, 2009
Dis baie waar. En dankie!
Janklaas het gesê op Desember 4, 2009
Missionêre ywer om die wêreld te verander. Ek kry dit ook soms, dan slaap ek liewer verder.
Janklaas het gesê op Desember 4, 2009
Baie dankie, Berwick.
Janklaas het gesê op Desember 4, 2009
Baie dankie OC! Lekker naweek.