In search of the lost chord
November 8, 2009 in Sonder kategorie
Ek leef al baie jare met die droom om eendag iets onvergankliks te skep. Iets groots, iets dieps, iets wat soos ‘n glansende kristal sal uitstaan in die ewige vertoonsaal van skeppinge. Iets waarby mense sal verbyloop, hulle kindertjies se koppies sal draai en met ontsag sal sê: “Daardie is die skepping van Jan Klaas, Seun van Grootjan Klaas.”
In die ou-ou lied The Lost Chord, praat hulle van “But I struck one chord of music like the sound of a great Amen.” Nou ja. Daardie akkoord.
Ek het nie illusies daaroor nie – dis seker maar die gevolg van ydelheid, van die begeerte om onthou te word na my eie kortstondige en bleek “oomblik in die wind”.
Gelukkig staan ek hierin nie alleen nie. In die geskiedenis was daar politici, tiranne, beeldhouers, bouers, skrywers, wat almal probeer het om iets blywends staan te maak. Soms neem dit net iets soos ‘n eenvoudige dorpsnaamverandering om in elk geval al daardie goeie werk tot niet te maak.
Al hierdie goeie gedagtes het gisteraand by my opgekom toe ek die skitterende Skouspel-program op MNet sit en kyk.
Want, op ‘n manier het ek ‘n troos gekry uit die meesterskap wat daar straal uit so baie van die liedjies wat voorgespeel is.
Ek was amper bewoë, en ‘n groot dankbaarheid het my oorval dat ons in Afrikaans sulke uitnemende skeppers en vertolkers het. ‘n Troos, omdat daar ‘n soliede buiteraamwerk bestaan vir die hoopvolheid van my eie skeppinkies. Daar is uitstekende liriekskrywers. Daar is wonderlike komponiste. Daar is topgehalte sangers, digters, skrywers en musikante, en hulle is deel van MY mense.
Dank vader ek hoef nie die ligdraer van voortreflikheid te wees nie. Daar is begaafde, sterker mense wat voor loop, wat die pad aandui en vir my die geleentheid skep om deur die “shades of mediocrity” van my brose eiegoed te timmer en te slyp, om darem vir liefste tannie my rosies te kan bring.
Wat natuurlik nie beteken ek gaan ophou probeer nie…
Onlangse kommentare