Om ‘n Janklaas te wees

Oktober 19, 2009 in Sonder kategorie

Synde nie natuurlik bedeeld met roem, mag, aantreklikheid of geld nie, moes die jonge Janklaas harder as jou gemiddelde man werk om sy mark van vroumense te beïndruk, te bekom of dan te behou. So gegee, so aanvaar.

Hierdie plig het ook gestrek tot potensiële skoonfamilie. Klein voornemende swaertjies het ‘n onmiddellike en intense afkeer in die jonge Janklaas vertroetel, terwyl die moontlike skoonsusters hom mettertyd met ‘n mengsel van bejammering en afgryse aanvaar het.

Die swaarste taak was egter (mal oor daai woord) om die skoonouers om te haal tot die Saak.

Ek vermoed skoonvaders het ‘n sekere lig in Janklaas se oë herken, wat kan verklaar hoekom hulle soos een man hulle jonge dogters se gesigte bedek het, sigaret-as oor hulle eie hoofde uitgestrooi het en hulle klere geskeur het toe Janklaas hulle edele drumpels wou betree. Die verwerping deur skoonmoeders is ook minstens deels geneties te verklaar, deurdat hulle waarskynlik nie besoedelde waat’re in hulle dogters se genetiese poele wou toelaat nie.

Ennieway. Dit ter sketsing van die agtergrond, die décor en die milieu.

Die vrou wat die laaste, sowat dertig jaar met Janklaas opgesaal is (nee sies man!), se vader was ‘n kort, fris, bebliksemde bosvelder, daar uit Potties se wêreld. Die moeder, weer, kon gholf speel, was ‘n vlieënier, het koeie geïnsemineer (moenie vra nie) en was op haar dae ‘n Noord-Transvaal duikkampioen. In kort, ‘n tere egpaartjie so intimiderend soos Aaron se twee-meter Enakiete toe hy die beloofde land met sy knopkierie wou intjaarts.

So ‘n ruk voor die troue, woon Janklaas toe ‘n begrafnis in Messina by saam met die liefietjie, haar pa en haar ma. Die reis geskied per kombi, en oudergewoonte sit Janklaas sy beste voetjie voor waar hy in die agterste gestoeltes plaasneem.

Op pad terug gaan laai skoonpa eers ‘n bokram op, en dié word agter Janklaas en ou liefietjie in die kombi se bagasieruimte lêgemaak. Die voordeel was dat Janklaas nie meer die slegste in die voertuig geruik het nie. O, nee, hel, by verre nie. Daai bok was gemarineer in ‘n ewigheid van bose, aromatiese heidense teelkonkoksies, wat seker ook die weemoedige blik in sy oë verklaar het, as mens byreken dat sy toekoms tog dan eintlik bestem is om te gaan fornikeer en te vermenigvuldig en die aarde te vul.

Eers naby Pietersburg het Janklaas so vaagweg aan die geur begin gewoond raak en nuwe afleiding begin soek. Nou het ek voorheen gemeld dat Janklaas ‘n paar vreemde gewoontes had. Wat ek nie genoem het nie, was sy voortdurende neiging om woorde om te keer, te “spooner”, soos om “sons of toil” in “tons of soil” te verander.

Met die dorpsname het dit dus heel prettig gegaan, en nou en dan is selfs hier of daar ‘n geamuseerde wenkbrou gelig.

Wel, daardie woord het vir Janklaas gelê en wag, en seker skelmpies in sy eie mou gegrinnik. En so het dit dan ook gekom dat die kombi om ‘n draai kom, en daar staan die naambord.

”Rietpol” lees die bord.

“Rotp**l”, lees Janklaas hardop. En, net om seker te maak niemand mis dit nie, weer: “Rotp**l”.

Dit was selfs vir die bok te erbarmlik. Hy het maar swyend, meewarig weggekyk.

38 antwoorde op Om ‘n Janklaas te wees

  1. icysparx het gesê op Oktober 19, 2009

    Hemel, ek het nou gelag dat my maag pyn! Arme Janklaas! Jy’s dierbaar!

  2. bloukaap het gesê op Oktober 19, 2009

    funny verby, te grand

  3. louisna het gesê op Oktober 19, 2009

    Ek het nou my gat afgelag. Well done.

  4. Lyk my jy het toe uiteindelik jou skoonouers se guns gewen, dalk die bok s’n ook.

  5. Jis, jy skryf lékker! In kort, ‘n tere egpaartjie so intimiderend soos Aaron se twee-meter Enakiete toe hy die beloofde land met sy knopkierie wou intjaarts…..ens ens

  6. hi, as jy dalk ‘n kansie kry tussen die besig wees deur, ek het jou getag vir ‘n blogspeletjie. skryf jou blognaam uit met liedjies – kom loer by my.

  7. ek is effe verbaas dat skoonpa jou nie geskiet het nie. of ten minste die bok op jou gesit het nie.

  8. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Dankie, Lieks.

  9. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Baie dankie, Pruimtwak.

  10. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Dankie, Ouboet.

  11. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Eeuw, dit klink fishy. Maar ja, skoonouers het my mettertyd aanvaar.

  12. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Baie dankie, Sanseveria!

  13. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Ja, maar ek dink dis ook ‘n produk van ‘n soort obsessiewe kompulsie by my. Daai keer was die breekpunt, van toe af dink ek eers voordat ek dit noem.

  14. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    ‘k maak so.

  15. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Ek vermoed hy was te opreg en goed om te glo wat hy gehoor het. Ek dink skoonma het dit egter in haar hart gebêre vir latere gebruik teen die skoonseun… 🙂

  16. louisna het gesê op Oktober 19, 2009

    Ons deel iets Janklaas, 30 jaar. Seker vandaar die wedersydse begrip.

  17. Janklaas het gesê op Oktober 19, 2009

    Wat my pla, is dat hulle die donnerse dorp se naam verander het, maar Rietpol is nog Rietpol!

  18. He,he Janklaas siestog en amper was jy nie…

  19. Lekker lag ek nou!
    Te dierbaar Janklaas, ek sou jou ook maag gehou het 🙂

  20. Berwick het gesê op Oktober 19, 2009

    Fantasties, Janklaas.

    ;-)))

  21. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Sy ook.

    Tja, ‘n koue front kan warmer wees as wat mens dink…

  22. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Jy weet, dalk was ek daai dag die enigste een wat verstaan het wat ek gesê het!

    Boslansers vloek mos nie…

  23. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Bloos…

    Dankie, Berwick.

  24. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Wat? Sou jy my maag vasgehou het? 😉

  25. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Dan was arme ou Janklaas ook ‘n skaap in wolfsklere.

  26. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Sjie, ek raak nou verlore tussen die beeldspraak en die werklikheid. Ek vermoed jy het iets baie diepsinnig gesê! 🙂

  27. Janklaas het gesê op Oktober 20, 2009

    Dankie, Theriens.

  28. Janklaas het gesê op Oktober 22, 2009

    Die bok het my nooit weer in die oë gekyk nie. Seker gedag ek het na hom verwys.

  29. Janklaas het gesê op Oktober 23, 2009

    Jong, ja, so deur die jare het hulle al bietjie gatvol geraak vir my dinge. Hoogstens ‘n mondhoek word gelig.

  30. Janklaas het gesê op Oktober 23, 2009

    So troos ek myself ook en gaan snik agter die dam.

  31. Janklaas het gesê op Oktober 23, 2009

    Met bok onder die arm.

  32. Trakie het gesê op Oktober 27, 2009

    Ag skies man (virrie nee sies man)

  33. Janklaas het gesê op November 1, 2009

    Kelkiewyn, dit klink soos die eerste woorde van ‘n liedjie!

  34. Flippen SKERP!!!!!!!

  35. Stem Ouboet!

  36. Dankie, DsP!

  37. Jip seker een van die verkeerde Janklaasse.Was ook verkeerd opgesom by die aan hoor van die van.Eerste reaksie maak jy ‘n grap?????

  38. Jy swyg dit maar weg asof dit onskuldig is…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.