Synde nie natuurlik bedeeld met roem, mag, aantreklikheid of geld nie, moes die jonge Janklaas harder as jou gemiddelde man werk om sy mark van vroumense te beïndruk, te bekom of dan te behou. So gegee, so aanvaar.
Hierdie plig het ook gestrek tot potensiële skoonfamilie. Klein voornemende swaertjies het ‘n onmiddellike en intense afkeer in die jonge Janklaas vertroetel, terwyl die moontlike skoonsusters hom mettertyd met ‘n mengsel van bejammering en afgryse aanvaar het.
Die swaarste taak was egter (mal oor daai woord) om die skoonouers om te haal tot die Saak.
Ek vermoed skoonvaders het ‘n sekere lig in Janklaas se oë herken, wat kan verklaar hoekom hulle soos een man hulle jonge dogters se gesigte bedek het, sigaret-as oor hulle eie hoofde uitgestrooi het en hulle klere geskeur het toe Janklaas hulle edele drumpels wou betree. Die verwerping deur skoonmoeders is ook minstens deels geneties te verklaar, deurdat hulle waarskynlik nie besoedelde waat’re in hulle dogters se genetiese poele wou toelaat nie.
Ennieway. Dit ter sketsing van die agtergrond, die décor en die milieu.
Die vrou wat die laaste, sowat dertig jaar met Janklaas opgesaal is (nee sies man!), se vader was ‘n kort, fris, bebliksemde bosvelder, daar uit Potties se wêreld. Die moeder, weer, kon gholf speel, was ‘n vlieënier, het koeie geïnsemineer (moenie vra nie) en was op haar dae ‘n Noord-Transvaal duikkampioen. In kort, ‘n tere egpaartjie so intimiderend soos Aaron se twee-meter Enakiete toe hy die beloofde land met sy knopkierie wou intjaarts.
So ‘n ruk voor die troue, woon Janklaas toe ‘n begrafnis in Messina by saam met die liefietjie, haar pa en haar ma. Die reis geskied per kombi, en oudergewoonte sit Janklaas sy beste voetjie voor waar hy in die agterste gestoeltes plaasneem.
Op pad terug gaan laai skoonpa eers ‘n bokram op, en dié word agter Janklaas en ou liefietjie in die kombi se bagasieruimte lêgemaak. Die voordeel was dat Janklaas nie meer die slegste in die voertuig geruik het nie. O, nee, hel, by verre nie. Daai bok was gemarineer in ‘n ewigheid van bose, aromatiese heidense teelkonkoksies, wat seker ook die weemoedige blik in sy oë verklaar het, as mens byreken dat sy toekoms tog dan eintlik bestem is om te gaan fornikeer en te vermenigvuldig en die aarde te vul.
Eers naby Pietersburg het Janklaas so vaagweg aan die geur begin gewoond raak en nuwe afleiding begin soek. Nou het ek voorheen gemeld dat Janklaas ‘n paar vreemde gewoontes had. Wat ek nie genoem het nie, was sy voortdurende neiging om woorde om te keer, te “spooner”, soos om “sons of toil” in “tons of soil” te verander.
Met die dorpsname het dit dus heel prettig gegaan, en nou en dan is selfs hier of daar ‘n geamuseerde wenkbrou gelig.
Wel, daardie woord het vir Janklaas gelê en wag, en seker skelmpies in sy eie mou gegrinnik. En so het dit dan ook gekom dat die kombi om ‘n draai kom, en daar staan die naambord.
”Rietpol” lees die bord.
“Rotp**l”, lees Janklaas hardop. En, net om seker te maak niemand mis dit nie, weer: “Rotp**l”.
Dit was selfs vir die bok te erbarmlik. Hy het maar swyend, meewarig weggekyk.
Onlangse kommentare