Vog-wil

September 30, 2009 in Sonder kategorie

Hoewel Janklaas g’n snars daarvan verstaan het nie, moes hy in sy kleintyd die volgende vers leer:

A garden is a lovesome thing, God wot!
Rose plot,
Fringed pool,
Ferned grot–
The veriest school
Of peace;…… (waddehel?)

Hierdie einste vers het by Janklaas kom spook toe hy sy eerste huis aan die suide van Pretoria gekoop het. Die verkopers was twee oumense wat baie lief was vir tuinmaak en die plek was ‘n lushof.

Janklaas het gebaai in die glorie as verbygangers stadiger gery het om die verskeidenheid lelies te bekyk en kastig ongeërg sy mini-eden bly natspuit.

Nou, elke paradys het seker sy slang, en Janklaas s’n het op ‘n vreemde manier op hom afgeseil.

Die oorvloed van vrugte wat die eerste somer gebring het, was gou ‘n verleentheid. Jan het uitgedeel en uitgedeel, en steeds was daar massas perskes en appelkose wat onder die bome lê en vrot het. Dit het allerande onheile meegebring, soos bye, vlieë en knorrige bure.

En toe, die insig. Janklaas sou wyn maak. In Kerkstraat was ‘n sluwe winkeltjie wat die nodige boeke, materiaal en houers verkoop het en spoedig het drommevol vrot vrugte geprut in die buitekamer.

Laat ek dit sommer dadelik duidelik maak: appelkooswyn is sleg. Sleg. Tog het die hordes bouers in die ryk buurman se erf dit met groot dankbaarheid ontvang en gebruik.

Die skewe garage is vandag nog daar te sien.

Katobawyn en perskewyn is sagter op die tong, maar selfs daar het die oorvloed ‘n probleem geraak.

Vandaar, die tweede insig. Janklaas sou die wyn distilleer. En, wat hier verder vertel word, het natuurlik glad nie gebeur nie.

Toerusting en die nodige kennis is bekom, selfs die ou suurlemoenblaartjie waaroor die finale produk moet uitvloei. Eksperimente is uitgevoer en kort voor lank het die eerste, kosbare, helder sappies uit die pypie gevloei.

Wat ‘n lus. Dit is sorgvuldig gebottel, gebruik en uitgedeel en allerweë met groot dankbaarheid ontvang.

Enter, van links, buurman Bokkie. ‘n Vlieënier in die lugmag, ‘n plek waar Bokkie skynbaar die meer kru en ook fyner kunsies van diep drink deur sware ervaring aangeleer het.

Bokkie het drank geken, maar Bokkie het nie mampoer geken nie. Tydens ‘n kuier een aand was Janklaas beïndruk met Bokkie se toepassings en verbruik van mampoer as voor-, hoof- en nagereg, en dan nog in die koffie ook.

Die volgende oggend, egter, was Bokkie nêrens te sien nie. Bokkie was in die bed. Hy was ‘n kermende karikatuur van homself, met rooi vlekke oor sy andersins sagte gelaat, bra soos ‘n gekookte dalmation.

Laat dit van ons manne gesê word dat hulle murg in hulle pype het. Teen die aand was die klanke van musiek en brakery in die tuin langsaan die teken dat Bokkie al klaar genoeg herstel het en besig was om ander te vermaak.

Janklaas is oudergewoonte die volgende dag werk toe en met die tuiskom was daar duidelik moeilikheid. Daar was polisievoertuie voor Bokkie se huis.

Later sou Bokkie oorgestrompel kom en verduidelik dat die polisie sy garage tang vir tang deursoek het. Dit blyk dat een van die gaste so gemarineer was met die mampoer dat hy huis toe gegaan het en sy vrou geslaan het. Dié onsportiewe vrou verklaar toe aan die polisie dat Bokkie ‘n fabriek in sy garage het vanwaar hy die ganse verenigde volke van die voorstede van alkohol voorsien.

Die Janklaas Distilleerdery het taamlik vinnig daarna produksie gestaak.

20 antwoorde op Vog-wil

  1. Um – ja. Dit het mos nie gebeur nie…

  2. He,he siestog bly jy het maar die produksie gestaak!

  3. Heerlike skrywe die!

  4. Trakie het gesê op September 30, 2009

    :-)))
    Ons sal maak of ons dié nie gelees het nie.

  5. Die HAT sê dis druiwe met ‘n jakkalssmaak! Hoe proe ‘n jakkals?

  6. O ja, en pruimwyn was ook heerlik.

  7. Moes, jong. Artistieke verskille.

  8. Peerwyn! Dit klink lekker!

  9. Dankie, Lou!

  10. Gaaf. Ek het dit mos nie geskryf nie.

  11. Pere werk, dis net bietjie morsig met die moes, soos appelkose. Lemoene ook, maar ek hou nie van die smaak nie.

  12. Ek het heelwat asyn gemaak ook. Genoeg om buurvrou suur te hou.

    Lyk my soms het suurstof verby die trêppie gesluip. Maar, dit was ‘n lekker stokperdjie.

  13. Wat? Eet julle nie hond nie?

  14. Janklaas het gesê op Oktober 1, 2009

    Of ‘engine cleaner’!

  15. Janklaas, jy skryf uitstekend!!! Dit klink my jy was / is ‘n regte stoutgat!!!

  16. Janklaas het gesê op Oktober 1, 2009

    Haai, onder hierdie ruwe uiterlike skuil eintlik ‘n maltese poedel…

  17. Janklaas het gesê op Oktober 1, 2009

    Alles bewerings. Soos Chuene sal sê, ek het dit gedoen om Bokkie te beskerm…

  18. Janklaas het gesê op Oktober 1, 2009

    Dis eintlik nie eers baie werk nie. Jy meng net en staan terug!

  19. Gelukkig het ek nie gelag vir iets wat nie gebeur het nie… goeie storie!

  20. Janklaas het gesê op Oktober 10, 2009

    Dankie, perskepit! Ek waardeer die nie-gelag.

Los ’n antwoord vir pinkpolkadot. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.