Bethlehems ster

September 22, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n ander konteks is Tobias seker ‘n effektiewe, aangename lid van die samelewing, gewillig om sy deel by te dra met ‘n blymoedige gees en ‘n hart daartoe geneë om met lus, manlik en kloekmoedig op sy lewenspad te gaan.

In ons kerkkoor het ons sekerlik geen rede gehad om enige alternatief te verwag nie. Hoewel hy verkies om op die skrefies tussen veral die soprane se note te sing, was daar nooit twyfel aan sy entoesiasme en oorgawe nie.

In sy werkure het Tobias blykbaar iets te doen met wiele, moere en skroewe en toe die tyd aanbreek vir die kerk se jaarlikse Kerssangdiens, was hy die aangewese man om te vra om die tegniese deel te behartig. Meer spesifiek, is Tobias versoek om te sorg dat daar ‘n ster gemaak sou word wat die drie wyse manne al met die kerkpaadjie langs na die krip in Bethlehem sou lei.

Afsonderlik beskou is dit nogal ‘n taai opdrag. Tobias het nagedink en op ‘n kabelspoortjie besluit, waar die ster hang aan ‘n wieletjie wat op ‘n vislyn ry en dan nog met ‘n ander vislyn aan ‘n visstok van agter in die galery, via ‘n katrol na vore getrek sou word. Hy het eers oorweeg om die dominee te vra om die draad na die preekstoel toe in te katrol, maar dominee was nie lus vir ‘n getrek op die preekstoel nie. Vandaar die trekkery agter.

Tobias het ook by PE se straatstalletjies afgekom op ‘n flitsende rooi liggie, en die is summier deel gemaak van die swewende ster.

Die konsep was min of meer rein en met die oefeninge het die ster getrou die pad na die kansel vir die drie wyse manne uitgeflits. Dat die een wyse man ‘n mullet gedra het en die ander ‘n paar tattoëermerke het die ster darem nie ontstel nie.

So breek die aand van die sangdiens toe aan. Tobias was oortuig dat die koor nie sonder sy soete tone sou kon funksioneer nie en het ‘n skoolseun op die galery staangemaak, trots met ‘n visstok en ‘n paar instruksies.

Alles het half vlot verloop: ‘n paar engele het rondom die krip ballet en die kleuterskool het met toewyding in skaapsklere in hul hoeke staan en blêr. Josef het ‘n dramatiese monoloog gevoer en Maria het die pop in die krip se hofie afgespons.

In die singery kon ek agterkom dat Tobias se gedagtes elders was, want hy was heel nootvas. Elke nou en dan het hy bekommerd opgekyk na die galery, na wat vir hom die belangrikste deel van die verrigtinge was.

Ek glo nie ek hoef eers verder te vertel nie. Natuurlik sou dinge nie reg loop nie.

Toe die tyd aanbreek het die wyse manne niksvermoedend ingekom en hul pad probeer baan na die voorkant. Maar, daar was geen ster om hulle te lei nie. Blykbaar het die wieletjie sommer uit die staanspoor (!) van sy spoor afgespring en net daar agter bly vashaak.

Hier langs my was arme Tobias ‘n studie van pers ontsteltenis. Dit het gelyk of hy op en af spring sonder om te beweeg, soos hy vir die arme operateur probeer beduie hoe om te maak.

Met hulle natuurlike sin vir rigting het die wyse manne nogtans die roete gevind en mompel-mompel tussen die skapies, en die gemeentelede op ekstra stoele, deurgestrompel na vore.

So driekwart deur het die ster darem blykbaar losgekom en tjierie-tjierie agter die wyse manne aangejaag. Daar naby die voorkant, op die punt om hulle in te haal, het die ding weer ontspoor en vir die res van die diens so min of meer tussen Dan en Gilead bly flikker.

Hoekom, weet ek nie, maar iemand het laggend begin handeklap. Gou was die spanning gebreek en het die hele gemeente die ster ‘n ovasie gegee.

Net die tenore en ‘n deel van die basse het Tobias se gesmoorde vloekwoord gehoor. Niemand het hom kwalik geneem nie.

20 antwoorde op Bethlehems ster

  1. hahahahahaa!
    uit die staanspoor ontspoor… (giggel). het hierdie baie geniet!

  2. Bwhaaaaaaaa!

  3. Ai jai jai…!

  4. Zeelia het gesê op September 22, 2009

    Wie kan hom blameer? Lekker gelees 🙂

  5. Klink so bekend, ek kry sommer ‘n kerklag.

  6. ..en half waar!

  7. Dankie, NM!

  8. Hi, Tweeling!

  9. Jak. Moeilike lewe…

  10. Ja, die arme kêrel. Sing nie eers meer in die koor nie.

  11. En is so ‘n kerklag nie lekker nie?! Ek kon een dag nie ophou lag vir ‘n vyfsentstuk wat van agter onder my deurgerol het nie.

  12. Ons het R5 kollekte gekry Sondae… so sien ek my een broer sit sy munt voor in sy broekrek (NG kerk was kwaai oninteressant vir ‘n 5jarige).

    Toe die kollektebordjie om kom, seg boeta kliphard: “Ma, my geld is in my ontie!” En hy begin grawe daarvoor, tot my ma se ontsteltenis en die gemeente se vermaak.

    Daardie dag het vir vele kerk-lagge gesorg in later jare…

  13. Ek glo nie hy sal dit regkry nie.

  14. nice geskryf

  15. LOL, shame arme Tobias…goed gesryf, Janklaas!!

  16. Hei, baie dankie, Pruimtwak!

  17. Hy lek nou sy wonde in ‘n ander kerk.

  18. Trakie het gesê op September 23, 2009

    BAIE goed geskryf! En ek’s bly die ster het hom nie deur ‘n mullet en tattoëermerke laat ontstel nie. :-))

  19. Baie dankie, Kelkiewyn!

  20. Ek wil dit nogal juis doen.

    Dankie vir die sterretjies!

Los ’n antwoord vir Janklaas. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.