Mymertyd

September 12, 2009 in Sonder kategorie

Elke aand, met sonsondergang, kom sit ou Giel hier.

Dis die plek waar hy vrede kry. Hier, op die rots langs die rivier waar die groot wilgerbome suis en die bye loom in die ou droë stam zoem. Hy luister na die rustige gesis en gespin van die vinke in die lang biesies en tuur in die water waar die lui golfies die helder weerkaatsings van die rooi laatson buig en krul.

As Giel so sit en mymer, haal hy dikwels sy verslete ou bekfluitjie uit en laat die lang, soet klanke uit die kranse om die vallei weergalm. Dan speel hy ou, geliefde melodieë – When I grow to old to dream, Red River valley, Till we meet again…

Dan dink ou Giel aan sy kinders, oral op die uithoeke van die wêreld. Kinders wat nog nou en dan kom kuier met woelige kleintjies, haastige agendas en vele eise.

Hy onthou die teer tye saam en hoe hulle om die tafel oor gister se drome gesels het. Drome wat vandag se harde werklikhede geword het. Drome wat veronderstel was om geluk te bring.

Hy onthou vir Sêra. Sy Sêra. Hy laat homself nooit toe om lank oor haar te dink nie, anders word die aande baie lank.

Sy was nie veronderstel om eerste te gaan nie. Sy was baie sterker as hy en sou hierdie stiltye beter kon hanteer.

Soos dit donker word, tel Giel sy kierie op en pak die voetpaadjie huis toe aan met sy motgevrete, stywe ou brak agterna.

Vanaand sal hy weer radio luister, met leë oë, totdat hy op die stoel aan die slaap raak. More is dalk anders.

11 antwoorde op Mymertyd

  1. rosa02 het gesê op September 12, 2009

    dalk anders – maar waarskynlik dieselfde …

  2. Dalk, ja.

  3. Wat ‘n lewe.

  4. Ag hel Janklaas! Jy maak my sommer hartseer vanaand.

  5. Hartseer!!

  6. Dis so min of meer oor iemand wat my na aan die hart gelê het.

  7. Ja, en dalk sommige van ons se lot.

  8. Ons het almal ‘n Giel, JK.

  9. Ek stem, almal het seker ‘n bietjie Giel in ons…dis seker maar hoekom ander mense in ons lewe moet wees. Hulle help om daai Giel bietjie te verjaag sodat ons mooi opgewekte liedjies ook kan sing. Groete

  10. Dis nogal waar, né.

  11. En hoekom ons die waarvoor ons omgee mooi moet op pas.

Los ’n antwoord vir icysparx. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.