Meneer die Voorsitter…

September 10, 2009 in Sonder kategorie

Vergun my om die vagewêreld van akademiese kongresse met julle te deel.

Hierdie kongresse is soort van verpligtend vir loopbaanvordering, vir befondsing en vir blootstelling, maar moenie ‘n fout maak nie – dis saai. Saai, saai, saai.

Dit is hier dat Jannie en Sannie kom rekenskap gee van die vordering met hulle navorsing. Die ding is, J&S doen waarskynlik navorsing op ‘n esoteriese takkie van ‘n verlate studieveld, om te verseker dat hulle werk as ‘nuut’ en ‘uniek’ beskou sal word. Verder is hulle verslag in elk geval ‘n droë uiteensetting van die navorsingsmetode en die ontleding van die data.

So nou en dan is daar ‘n uitsondering. Sommige sprekers kweek baie hard aan ‘n image van eksentrisiteit en hulle aanbieding sal waarskynlik deurspek wees met cartoons, spreuke en liriese foto’s. Jy sal hom met die opstap herken aan sy strikdas en sy gryns van bose antisipasie. Die vrouliker weergawe sal jy herken aan die geklingelinge van enkelringe en ander juwele.

Die eintlike pret lê egter in die analise van die toeskouers.

Jy kry jou eager beaver nuwelinge wat ademloos die syfers sit en indrink. Jy kry jou gewone kongresganger wat in elk geval net daar is om sy eie verslag te lewer en tipies die sessies sit en omslaap, daarom die afdruk van die kongreslêer en potlood op sy wang. Dan kry jy die ou klomp gesoutes, wat verveeld sit en nasien, of iets dergeliks, totdat vraetyd aan die beurt kom.

Vraetyd is eintlik die groot brêg. En, die groot veldslag.

As Prof A se proseliete op universiteit A min of meer dieselfde navorsing doen as die op universiteit B, kan jy seker wees daar sal sorgvuldig wippe gestel word om te bewys wie s’n is die langste.

Die vraesteller sal stadig opstaan, met sy bril op die lêer tik en noem: “In ons eie navorsing het ons gevind dat…”, en dan sy handgranaat gooi. Of: “In sy nuutste artikel in … beweer So-en-so dat …”, en dan vra hoe dit by die spreker se werk aanpas. Punt gemaak – ons hier is eintlik die kenners, en julle is eintlik so ‘n bietjie agter. Sag en subtiel, maar eintlik vernietigend.

Jy kry ook jou jafel wat ‘n punt wil maak, en dan aan die einde gevra word wat dan eintlik sy vraag is. Dan dink hy maar vinnig iets uit.

Agterna is almal met stywe lippe groot pelle by die dinee, maar jy kan maar weet dat ‘n klomp nuwe byle skerpgemaak gaan word vir die volgende kongres.

Die dinge waarmee ons onsself tog kan besig hou…

7 antwoorde op Meneer die Voorsitter…

  1. Dit is. Dit is.

  2. En dis vir niemand pret nie.

  3. Lui muse!

  4. Die dinee is die sneller om die maskers van skynheiligheid op te sit.
    Tereg word die byle geslyp.

  5. Jy moes deur ‘n sitting van die studenteparlement gesit het… og. Ek kry nou nog apnee as ek daaraan dink.

  6. En ons doen dit met ‘n smile.

  7. He he. Ek kan dink. Soveel opgeblase siele…

Los ’n antwoord vir Neffertiti. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.