Hy was ook daar

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Ek is hier, Erik.

Ek wag saam vir die klop-klop van die Alouette

wat jou na Vrede sal vlieg.

Jy’s ewe bleek as laasjaar toe jy

Karien na die matriekafskeid wou vra.

Jou blou oë ewe tevrede, asof sy weer

jou erebaadjie langs die sportveld dra.

Dis nou aardig stil, net die na-suis dof

van vuur, stof, donder en doodsug

wat skielik uit die sluwe bos

langs die sandpad ontplof –

AK, RPG, ‘n alfabetsop van haat en vrees

het skeurspore van bloed gelos.

Dis soos ‘n lewe later. Nou sit ons met tam oë

in verwese kringe om lyke en gebreektes en wag

in die rooiberookte laatmiddagson

wat wil klaar wees met hierdie bitter dag.

Om ons swiep die aandwind ‘n skerp geur

van rubber, Ratel, diesel, Savlon en vlees.

Jou oë vra, was dit Sy wil?

Miskien ja, maar die radio is stil.

Jou hand voel koud.

Miskien hoef ek nou nooit te verraai

hoe teer het my lewe om joune gedraai.

21 antwoorde op Hy was ook daar

  1. Eina, sjoe dis diep! Spore van herinnering in diep bepynste siel…

  2. zephur het gesê op September 7, 2009

    Sielsdood

    Dis eina maar tyd maak rowe oor die seer.

  3. Dis darem nie my eie ervaring nie, Tweeling.

  4. Dankie, Murphy.

  5. Ek wonder soms hoeveel het daardie mense verander na die seer.

  6. Goed geskryf….dink ek nou aan Piet Botha se song oor Whitey met sy blou oe en dan die treffende chorus wat mens bybly…deur ‘n AK f..ed up geskiet…ja die uiterlike wat gevolg word deur die innerlike konflik

  7. Dit is ‘n mooi song daai, ek het hom ook.

  8. JK, hierdie is goed gedoen. Ek’t die afgelope paar weke in die beskikbare beeldmateriaal gaan rondkrap op die internet in ‘n poging om te verstaan. Die jong manne (seuns!) se oe ruk my hart uit my borskas uit…

  9. borrels het gesê op September 8, 2009

    More Janklaas … jy die eerste post fotos ook gesien?

  10. Liekie, dis presies wat my boei. Nie die detail van die verldslae nie, maar hoe voel dit vir ‘n gewone dorp/plaasseun om skielik onder vyandelike vuur te kom en vriende te sien sterf, deur mense wat jou genoeg haat.

  11. Ja, ek het. Het jy dit ook geneem?

  12. Baie dankie vir jou terugvoer, Ghaap. Dis vir my kosbaar.

    Ek wens ek en jy kon eendag êrens gesels.

  13. Neander het gesê op September 8, 2009

    Dankie Jan, ek het geblog daaroor.

  14. Trakie het gesê op September 8, 2009

    Sjoe ….

  15. Aangrypende belewing verwoord.

  16. Gaaf. Dankie.

  17. Hallo, Kelkiewyn.

  18. Ja, dankie Dinkweer. Die beelde gryp my beslis aan.

  19. …ek het begrip vir jou gevoel, Ghaap, ek voel ook dat dit alles vir niks was!!… het dit al ‘n paar keer op ander blogs (wat hieroor gehandel het) genoem!!

  20. Baie goed vertel. Ek is net-net te jonk, my boetie was die eerste inname wat nie grens toe gegaan het nie, waarvoor ons almal dankbaar was. Ons bure se seun het ‘n landmyn afgetrap en so in ‘n Puma gesterf. Alles vir boggerol.

  21. Ja, ek was eintlik weer net-net te oud. Maar dit was eienaardige tye.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.