Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

Eweseer

Augustus 10, 2009 in Sonder kategorie

Ek wens ek het jou nie sien huil nie, my liewe vriend.

Nou is ek vir altyd ‘n deelgenoot aan jou seer. Nou deel ek jou donker.

Ek ken daardie trane. Ek was al aan altwee kante daarvan, voor en agter. En die seerste kant is jou kant.

Dis die trane van ‘n pyn ouer as die mensheid self. Dis die trane van ‘n liefde wat wegloop, van die opstopsel wat stadigaan uit jou eie lewe uit getrek word.

Dis die trane van ‘n weggooi-ding. Van ‘n wete dat jou lewe nou joune alleen is, en dat sy nie meer deel daarvan kan wees nie.

Tevergeefs jou wanhopige pogings, van by-haar-wees, van nagtelike selfoonbriefies, van ‘n kersverligte pad na ‘n ete in die bos. Tevergeefs streel jy haar hare teer, tevergeefs koop jy die onbekostigbare juweeltjies.

Ek wens ek kon saam in jou vel klim en jou lyde deel. Ek wens ek kon jou vir eenkeer bo laat uitkom, uit jou hede, uit jou hartseer verlede.

Maar dis verby.

Kan ek jou troos? Sal slim woorde help, jy weet, “Daar sal weer so een wees,”, “Die Here skuur jou maar net, soos yster op yster”, “Alles sal regkom”?

Sal dit help as jy weet dat dit deel van menswees is, dat seer die fyn, onsigbare goue weefsel is wat die werklikheid aanmekaar hou?

Nee, seker nie. Die enigste troos wat ek maar kan belowe is dat jou eie, wonderlike soet nog êrens vir jou lê en wag. Dis net nie hierdie een nie.

Maar weet ook vir seker dat jy hierdie bittersoet wee as medereisiger gaan hê, totdat jy eendag ophou voel.

Gesig agter Facebook

Augustus 7, 2009 in Sonder kategorie

Ek sien gisteraand jou kinders

het jou foto op die inter-

net op Facebook waar jy

net-net glimlag teen die lig.

Ek hoor by T jy sukkel

met ‘n swart hond en ek wonder

net of dit sou help as jy kon

let dat ek jou êrens steeds

liefhet, maar dan onthou ek jou

gebed waarin jy vra dat ek jou

net so stil-stil sal vergeet en

met my eie lewe aangaan.

Die puberteit van Bennie SNL18

Augustus 4, 2009 in Sonder kategorie

Klein Santjie was hartseer toe Bennie
besluit hy wil haar nie meer hê nie.
Dit het hom ontstel
toe sy begin swel
op plekke wat hy glad nie ken nie.

– – – – – – – – – – – – – –

Klein Bennie se kermgeluide
het Moeder kom dokter met kruide.
Hy dag hy gaan dood
toe hy een nag, in nood,
‘n handrem ontdek in sy suide.

– – – – – – – – – – – – – –

Vir windjies, al het hul nie reuk nie
was Bennie nie sommer geneuk nie.
Maar Pappie se klap
wys mens mag nie krap
op daai plekkie waar dit so jeuk nie.

– – – – – – – – – – – – – –

Maar drome oor Riekie van Tonder
maak Bennie heel handig daar onder.
Die wip in haar stap
en hoe sy kon trap
het menige nagrus bedonder.

Affliksie

Augustus 2, 2009 in Sonder kategorie

Ek was al lank getroud toe ek vir die eerste keer daaroor kon praat. Gelukkig was my vrou bewus daarvan.

Dis net so weird. So weird dat ek dit skaars in woorde kan omskryf.

Ek het, van solank ek myself ken, ‘n kompulsie om dinge in pare, of in balans te doen.

Soos liewe Saartjie van ouds, moet ek byvoorbeeld elke volgende trap met ‘n ander voet betree. Dit freak my heeltemal uit as die trappe so gespasieer is dat ek die heeltyd met dieselfde voet moet klim. Ek sal dan, na elke tweede trap pas verander en met die ander voet begin. Strepe tussen vloerteëls irriteer my op dieselfde wyse.

Dit gaan verder, baie verder. Ek sit die heeldag my spiere en span. Eers die een kant, dan die ander. Dis armspiere, maagspiere, ore, bene of wat ookal. Veral as ek gespanne is. Op ‘n tyd het ek my gesig so getrek, maar dit het gelukkig oorgewaai, veral toe ek vir ‘n groot ou moes knipoog.

Letterlik heeldag gaan dit aan. Ek skat ek is een van die min mense wat fiks bly deur stil te sit! Is hier nog van julle?

Ek verneem nou die dag my seun het dit geërf. Wel, sterkte vir hom. Dit laat ‘n mens wonder hoe ver in die stamboom dit terugstrek? Imagine Oer-Janklaas by Bloedrivier. Hy sal dan waarskynlik die eerste een wees wat sy sanna afvuur, bloot omdat hy wil. Volgende skoot is vanaf die ander skouer.

Wat my laat dink aan ‘n ander storie. In die ou dae het die Rooi Indiane blykbaar in sirkels, antikloksgewyse al om die laers op die prêrie gejaag terwyl hulle skote vanuit die regterskouer op die arme pienk Amerikaners afgevuur het.

Bad luck vir die ruiter as jy linkshandig was. Dan sou jy miskien kloksgewyse moes omjaag, wat so ‘n eensame kryger se loopbaan waarskynlik baie kort gemaak het. Of, jy kan seker saamry en onderaan jou perd hang terwyl jy skiet, wat weer die perd se pote baie kort gemaak het. Praat van “wieg julle koppe fraai”…

G’n wonder daar is so min linkshandiges oor nie! Evolusie om die kampvuur!

Miskien

Augustus 2, 2009 in Sonder kategorie

Ek sit hier in my hokkie
aan die suidpunt van die hel
en luister wat die TV
in die nuusberig vertel

Hul praat van wintervloede,
die einde van ons geld,
hul praat van moord, verkragtings, haat
en dooie stukke veld

Hul praat die taal van wanhoop
van seer, van bloed, van pyn
verdwaalde sprankies liefde wat
soos doudruppels verdwyn

Dan mymer ek oor dinge wat
ons aan mekaar kan doen
en hoekom dit so swaar is om
met vrede te versoen

Miskien is ons te eiewys
om met mekaar te praat
miskien kan dinge regkom, en
miskien is dit te laat