Die fiedeldey van Jan E. Klaas PhD.

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

As Jan Edelbert Klaas verplig sou word om ‘n taai vinger op ‘n spesifieke jaar te druk, sou die jaar waarin hy so agt geword het, uitstaan as die jaar waarin hy die eerste keer van fiedeldey gehoor het.

Dit was met ‘n kuier van sy liberale doppernefie van Potch. Een aand in die prettige skuimbad het nefie voorgestel dat hulle fiedel. Uit die beskrywing van die aksie het Janklaas onmiddellik besluit dat die doppers se leringe substansieel afwyk van stoere NG-dogma en is alle gedagtes aan fiedel (voorlopig) verban.

Janklaas se volgende kennismaking was toe daar ‘n kamervol biblioteekboeke van die laerskool in Residensia oorgeplaas is na Janklaas se pa se skool.

Synde ‘n ooraktiewe leser (op die platteland word nie sudoku- of tjellolesse aangebied nie) was die vakliteratuurseksie gou deurgewerk. Een van hierdie boeke het egter uitgestaan, omdat dit ‘n reeks interaksies tussen fauna en flora in die natuur beskryf het wat vreemderig ooreengekom het met die fiedelrituele wat neef Jan aanbeveel het.

Die tyd wat Janklaas gekies het om sy nuwe kennis met die gesin te deel, was dalk onoordeelkundig. Dit was met ‘n Sondagmiddagete dat Janklaas uit sy sitplek tussen Pa en Ma verklaar het dat, wanneer ‘n hoenderhaan ‘n hen so erg pik, dit nie noodwendig met aggressiewe bedoelings is nie. Bloot soort van gesê, dag Janklaas, om die gesin gerus te stel.

Watwou.

Doodse, geskokte stilte reg rondom die tafel – Pa, Ma, Ousus, Ouboet, behalwe mede-onskuldige Jongsus wat afgetrokke en tevrede aanhou suig aan haar hoenderbeentjie.

Asemloos en versigtig verwoord Janklaas Senior die vraag op almal se lippe: “Waar. Het. Jy. Dit. Gehoor?”

“O, in ‘n boek in die biblioteek,” antwoord die junior weergawe nonchalant en suig gedetermineerd verder aan sy eie hoenderbeentjie.

Die saak was na sy mening afgehandel, maar later, toe hy sy bron wou gaan bevestig, was die boek weg uit die biblioteek. Tot vandag toe.

Die saak sou seker daar bly staan het, was dit nie vir die noodwendige verloop van grootword nie. Uit sporadiese getuienis en fluisteringe het die fiedelgerugte al hoe meer geloofwaardigheid begin verkry. Dit het tot ‘n fladdering van navorsing gelei.

Bronne was skaars. Ouboet het bruuskerig aangedui dat die tyd van openbaring nog nie ryp is nie. Collier’s Encyclopedia was dus gou geïdentifiseer as die primêre bron met sy deursnitdiagramme. Moderne Mediese Raadgewer het Janklaas en vriende amper permanent uitgefreak met sy grafiese sketse van onderlangse kwale.

Skielik was die lewe anders. Skielik het donkermannetjie speel meer gehandel oor die vind as oor die soek. Skielik was ‘n oorslaap, soos verskeie kere in die verlede, by ‘n geliefde vriendin verboten – daai ma het daai kyk herken. Skielik was vakliteratuur nie meer heeltemal so boeiend as Raquel Welch se nuutste pneumatiese foto in die Scope nie.

Soos sy vriende, het Janklaas reikhalsend begin uitsien na die Koms van die Lente. Bang dat hy die aankoms sou misloop, het Janklaas sy inkom en sy uitgaan noukeurig begin monitor.

Hy hoef nie te gebodder het nie. Een helder Hoëveldnag het die Lente met ‘n groot helderheid aangebreek. O Jerusalem. O Tirus. O Sidon.

So ‘n paar jaar later het Janklaas Senior besluit dat die sakuitgawe Janklasie seker nou ryp genoeg is om onderrig te word in ware NG-dogma, en het hy ‘n bejaarde, voosgevatte boekie (“Wat elke seun moet weet”) op Janklaas se tafel laat lê.

Hy hoef ook nie te gebodder het nie. Vir die volgende sowat veertig jaar sou fiedeldey Janklaas se getroue daaglikse meeloper, en soms dryfveer word.

Totdat hy blog ontdek het.

20 antwoorde op Die fiedeldey van Jan E. Klaas PhD.

  1. Fiedeller oppie dak, Jan? Gie gie gie…

  2. Neander het gesê op Augustus 31, 2009

    Die dopperdogma het toe vinnig posgevat.
    Vertel bietjie van diè Hoëveldnag.

  3. Skerp. 🙂

  4. Hierdie forum is te grênd daarvoor…

  5. Laat mens wonder waa’t Fiedel Castro aan sy naam gekom…

  6. Dankie vir die sterretjies, Tweeling!

  7. Jan!! Jou opperste..RASSIS! Hoe Durf jy Castro beskuldig van Fiedel????

  8. ‘Skuus. Hy’t net so ‘n bietjie befiedeld gelyk.

  9. Berwick het gesê op Augustus 31, 2009

    Puik!

  10. Hei, baie dankie, Berwick!

  11. LMGA! Ek wou iets vra, maar sal my eerder maar beteul… 😉

  12. Janklaas!!!!????

  13. Dalk kan jy maar. Of op spaces vra. Dit maak dalk ‘n hele nuwe storielyn oop.

  14. (Verbaas) Wat?

  15. zephur het gesê op September 1, 2009

    Lekker Lentedag vir jou…

  16. Dankie, Zeppie. Hier is dit maar koud en winderig, maar dis die gedagte wat tel!

  17. Ek snap nou eers die verwysing na die Ander Lente. ‘Skuus. Migraine.

  18. blighty het gesê op September 1, 2009

    Lol,skerp.

  19. Dankie, MK. Dit het langer as gewoonlik geneem om te skryf!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.