Vrugte van alleenwees
Augustus 27, 2009 in Sonder kategorie
Vanaand verlang ek na ‘n paar ou-goed.
Ek mis die geur van hael op ‘n hoëveldnamiddag.
Ek mis die voel en vat van Pa se koue, droë oumenshand.
Ek mis iemand groot en sag wat mens vashou, jou hare streel en sê alles, alles is oukei.
Ek mis die soet, pienk geur van Ouma se groot, skoon karoobadkamer.
Ek mis die op-die-gras-lê en vorms in wolke soek saam met boet en susters.
Ek mis die kanon “Kyk wat brand daar” wat ons in die kar saamsing op pad Potchefstroom toe.
Ek mis die saamplas met ‘n tjoep teen sononder in die groot, ronde, slykerige dam.
Ek mis die mislike Springbokradioliedjies waarmee ons in die mòres wakkergemaak is.
Ek mis die suis in die wind en die swaar tortelroepe in die hoë bome langs die rivier by Vosloopark.
Ek mis die luister na “U eie keuse” en radioteater om die ou koolstoof in die kombuis.
Ek mis die dooies wat ek so liefgehad het, sonder dat ek dit geweet het en sonder dat ek dit vir hulle kon sê. Ek mis die wat nog leef en vir wie ek nog steeds nie sê hoe lief ek hulle het nie.
Ag, ek mis sommer weer kleinwees.
pinkpolkadot het gesê op Augustus 28, 2009
Ek het Sondag so gevoel. Het verlang daarna om weer ‘n kinder te wees en my Ma by my te hê. Bly ander mense voel ook soms so!
dinkweer het gesê op Augustus 28, 2009
Jy maak my skoon weemoedig.
icysparx het gesê op Augustus 28, 2009
“Youth is an overpraised season.” Maar dis lekker om te verlang na dit, ek weet.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Veral soms.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Tja…
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Dis soos die Kalfiewals – Maar nou dat ek ‘n groot koei is, nou melk die boere my…
eiewys-gekkigheid het gesê op Augustus 28, 2009
Sjoe diep verlange Janklaas…
net myself het gesê op Augustus 28, 2009
dankie, nou gaan ek heeldag verlang na my ouma se ou huis en slipnslides en nesquick en wegkruipertjie en roosbome en kwêvoëls en lazyboys en rottangstoele en kleipotte vol lekkergoed en koekielaaie en quality street en boeklees in ‘n boom se mik…
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Sjoe, ja. Goeie een. Ek kan dit amper ruik.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Ek dink ek moet ophou blog in die nanag.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Is so. Imagine ‘n lewe daarsonder.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
He he. Maar, dis tog lekker om vir ‘n keer in jou lankterug te gaan dwaal. Mens herken dierbare goed.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Ja, ek het so min of meer besluit ek gaan nie weer so laat blog nie. Dis in elk geval net omtrent Liekie wat daai tyd op is.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Ek dink dis ‘n wonderlike projek. Ek dink ook dit kan jou ‘n leeftyd besig hou.
Janklaas het gesê op Augustus 28, 2009
Baie dankie, Murphs.