Hartsake op note

Augustus 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek het al voorheen op hierdie deurlugte forum genoem dat ek, ten spyte van my ruwe uiterlike, eintlik maar ‘n sentimentele ou tert is. En, vanoggend in die kerk (tydens kollekte natuurlik) probeer ek toe onthou watter musieke my in my lewe regtig ontroer het. Nie net mooi was nie, maar regtig, regtig ontroer het.

Dis maklik om hulle uit te ken. Van so ‘n dekade gelede af is dit daardie stukke wat onbeskaamd trane op my wange laat land. Ek vermoed hulle gaan klits iets ondeunds op ‘n my brein se limbiese stelsel, of hulle gaan neuk rond daar by my hart se goete.

Die effek gaan verlore as ‘n mens die lied te veel hoor, daarom rantsoeneer ek myself as ek eers agterkom die lied werk vir my.

Van die eerstes wat dit reggekry het, was die Kerslied “Met middernag” (O Holy night).

Snot en trane.

Toe kom Laurika met “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Ek kon nie verstaan hoe die vrou die lied kon sing sonder om te snik nie! Ongelukkig het ek dit nou al te veel gehoor.

Dan, natuurlik, “Everybody hurts”, veral as jy die video kyk. En Beethoven se Vyfde klavierkonsert.

Van kleins af kom Schubert se Consolation nr. 3. Pure soete troos. Nou vir wat laat dit my dan tjank? (Ek sien toevallig op Youtube een van die subtitels vir hierdie stuk is “Aprés une lecture du Dante”. Klink my darem dis nie net by my wat studente troos nodig het na ‘n lesing nie…).

Nog een is “The last rose”, ‘n ou Ierse liedjie, maar soos gespeel deur die orkes van Andre Rieu. Weereens, dis nie musiek nie – dis louter voel! Wow, daai Ierse fluit…Saam met Berwick en ander kan die verskeie inkantasies van Cohen se “Halleluya” ook die ding doen, al het ek die song al ‘n bietjie deurgeluister en gesing.

Die mees onlangse een is “You’re so beautiful” van die Parlotones. Wat natuurlik ‘n probleem is, want hulle gebruik nou die koor in ‘n advertensie. Baie embarrassing vir die kinders, so ‘n ou slobberende pa tydens die breek in rugby.

Die lied wat nou eintlik vanoggend die kraan oopgedraai het, was “Plea for Africa”. So ‘n paar jaar terug het ek in ‘n kerk in Noorweë gesit en luister hoe die Oos-Kaapse Kinderkoor hierdie lied, met sy soet harmonieë sing.

Hulle moes my omtrent daar uitdra.


 

Wat gryp julle aan, geliefdes?

7 antwoorde op Hartsake op note

  1. Wat my ontroer, is Koos du Plessis se gebed en natuurlik Jesus vreugd van my verlange van JS Bach. Daar is natuurlik nog ander ook, maar met die lees van jou inskrywing het hierdie twee dadelik opgekom.
    Lekker dag!

  2. Ek hoor jou.

    Lekker dag ook!

  3. Zeelia het gesê op Augustus 23, 2009

    Hoeveel tyd het jy?? 🙂 Ek noem ‘n paar ‘March from the Bridge over the River Kwai’ – Clint Eastwood, ‘The Good, the bad and the Ugly soundtrack – Proud Mary, Creedence Clearwater Revival – Halleluja – Alegria – Que SeraSera – Lili Marlene – Eye of the Tiger – Shozholoza en die Ave Maria om maar net ‘n paar te noem… Geniet jou Sondag verder…

  4. Hei, dis my tyd se songs daai.

    Vat hulle regtig aan jou hart?

  5. Musiek het maar die vermoë om ‘n mens se hartsnare te roer!! Ek ken baie stukke wat my laat huil, maar veral “Christmast at sea”, laat my elke Kerstyd baie ween!

  6. En Il Divo se Unchained melody.

    So uit die kommentare begin ek die suspisie kry dat dit veral juis ons “chronologies welbedeelder” mense is wat op so manier deur musiek geroer word.

  7. Hoe’s dit dan dat ek nie eers daardie lied ken nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.