Artikel 2 van Murphy se wet

Augustus 21, 2009 in Sonder kategorie

Fynproewers wat, soos ek, waardering het vir al die nuanses van Murphy se wet, sal maklik tekens daarvan kan herken.

Kortweg gestel, sê die wet dat, indien iets kan skeefloop, dan sal dit ook. ‘n Ware kenner sal dus uit ‘n bepaalde gegewene die afloop kan voorspel. Kies maar bloot die slegste moontlike scenario en sit rustig terug om die verloop van jou voorspelling te waardeer. As ‘n sny brood val, ontspan maar. Die botterkant SAL die grond eerste tref.

Lanklaas het ek egter so ‘n voortreflike illustrasie van daardie wet beleef soos vandag.

Die saak het eintlik ‘n aanloop. Maar, soos ek gesê het, as ek die gegewene vir julle beskryf, sal julle waarskynlik self die prentjie kan voltooi. Toets maar self.

Dit begin met ‘n pap wiel by motor A. Op sigself geen krisis nie, want ek het tyd om die wiel te gaan laat herstel Maandag terwyl Mevrou Klaas oudergewoonte met motor A werk toe gaan. Die fout kom egter in dat ek nooit die herstelde wiel terugsit in motor A se bak nie en houtgerus, heelweek met die wiel in die bak van wrak B rondry.

Vanoggend gee ek wrak B in by die keraats om ‘n weerspannige rem te laat regmaak. Stap sommer van daar af werk toe, heerlik fluitend in die kil seebriesie. Kry ‘n lift huis toe vroegmiddag en maak my baie tevrede tuis op die bank met die plaaslike Herald en ‘n toebie.

Die onheil het begin die oomblik toe die foon lui. Vroulief. “Waar is jy nou?” vra sy.

Ek kon as’t ware my nekhare voel rys. Dit blyk toe motor A se band het gebars op die pad na Uitenhage en daar sit sy, sonder spaarwiel. En hier sit ek, sonder kar.

Ek vra jou, wat is die kanse? Vir jarrre geen papwiel nie, nou sommer twee, een nogal sonder spaarwiel.

Ennieway.

Ek moet my weg maak na wrak B by die mekenniek en hoop die arme ding lê nie daar oopgespalk op die operasietafel nie. Val toe maar in die pad en hoop iemand ontferm hom oor my beteuterde figuur. En, sowaar, daar kom n teksie aan. Ek draf toe tot by die gawe mama wat die teksie naderwink en klim summier saam met haar in.

‘n Paar suur gesigte draai op stywe nekke na my toe. Die ses rand betaal ek met liefde. Ek beduie na die wielspenner en verduidelik aan die bestuurder en sy kondukteur dat my motor se band gebars het. Fok jou, sê  hulle rûe.

Wrak B was, wonder bo wonder, beskikbaar en gou is ek met goeie spoed op pad na ons buurdorp. Vroulief is gelukkig nie suur nie. Haal die verlepte band af en gooi hom argeloos eenkant toe.

Big mistake.

Die band hop eenkeer, en spring toe doeikant toe waarna dit, huppelend van vreugde, teen die agt meter hoë wal afbons en dan, met ongelooflike fokus en determinasie, sekuur en stadig rol tot in die groot poel water daar onder.

Wat kon ek doen. Ek en Mevrou Klaas bars uit in ‘n histeriese lagbui. Ek meen, wat is die kanse?

Ek het maar my pad skuifel-skuifel tot daar onder gemaak en, soos ‘n besorgde Petrus, die staande waat’re begin betree.

Die wat weet, sal saamstem dat rioolwater ‘n eiesoortige geelgroen doodsheid het wat dit op ‘n manier platter en stiller as ander water laat lê. Hierdie poel was ‘n uitnemende voorbeeld van die genre. Die kastige graseilandjie waarop ek wou staan het dadelik meegegee en ek moes maar enkeldiep my pad na my prettige papwiel toe baan. Toe moes ek nog hierdie geurige objek teen die agt meter hoë wal uitrol en in statige motor A se bak gooi.

My verwagtinge van Murphy was my redding. Anders het ek seker nou nog daar in die klewerige poel rondgeplas van pure frustrasie.

En, sommer vir effek het my rekenaar se battery pas pap geword. Toe ek nadertree om hom in te prop, trap ek my enigste oorblywende glas-bierbeker murtu.

Viva Murphy.

17 antwoorde op Artikel 2 van Murphy se wet

  1. Viva!

    So geskryf kan Murphy nie te sleg wees nie..

  2. LOL!

    Ek ken ook sulke tye!

  3. Neander het gesê op Augustus 22, 2009

    Uiteindelik het jy Murphy oorwin.

  4. katrina het gesê op Augustus 22, 2009

    Lmga!! Lekker lag ek nou, heel waarskynlik uit skone verbouereerdheid dat net die lees hiervan dalk ‘n pap wiel of twee hierdie kant sal veroorsaak. Dit gebeur mos maar in drie’s…….

  5. Ek weier om hom die satisfaksie te gee.

  6. En gelukkig is die een wat daardie dag in die bui is om dit te verwerk!

  7. Soort van, ja…

  8. Ja, hy’s soos die spook wat in die donker wandel.

  9. Zeelia het gesê op Augustus 22, 2009

    Geduld van Job … “If something can go wrong it will.” Jy kry 5***** :0

  10. Ha. My kinders sal lekker giggel as hulle jou kommentaar lees.

  11. Dankie vir die ***’e!

  12. LOL… jou vrou is enig, ek sou summier woedend gewees het oor jou agterlosigheid!!

  13. borrels het gesê op Augustus 22, 2009

    Al wat ek kan së, is: toemaar….more is ‘n nuwe dag.

  14. Knorrige ou tante… 🙂

  15. Ons hoop daai dag is beter!

  16. Berwick het gesê op Augustus 24, 2009

    Lekker geskryf!

  17. Baie dankie, Berwick!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.