Binnepret: ‘n orgie van bnw’e

Augustus 20, 2009 in Sonder kategorie

“Dit is ook seker maar tyd dat hierdie dinge aan ‘n einde kom.” So dink Lafras somber by homself terwyl hy meganies die kronkels van die vae voetpaadjie in die eensame donker volg. 

Die boomtakke vorm makabere gedaantes teen die blinkgrys vlekke van lui, maanverligte wolke. Die strakke kleurloosheid van die yl mistigheid rondom hom vorm ‘n gepaste agtergrond vir die morbiede gedagtes wat soos taai golwe deur sy wroegende denke spoel.

Van agter ‘n lendelam heining blaf ‘n maer brak sinies.

In sy sak voel Lafras die sagte flarde van die bitter brief. Keer op keer het hy dit oorgelees totdat hy later in ‘n vlaag van futiele frustrasie die papier in klein veseltjies uitmekaargerafel het.

‘n Hoopvolle, koel aandwindjie pluk-pluk aan sy deurmekaar kuif. Hy trek die vingers van sy sweterig geklemde hand geïrriteerd deur sy hare, om minstens ‘n skyn van respektabiliteit te probeer herstel.

Vanaand is dit maak of breek. Vanaand word hierdie uitmergelende twyfel uit die weg geruim, sodat hy minstens in ‘n soort vrede met sy doellose lewe op die plaas kan voortgaan.

Deur die mistigheid sien hy die dowwe skynsel van die geel lamplig uit die geboutjie voor hom. ‘n Wantrouige bokram volg met geel oë Lafras se laaste treë na die voordeur van die eenvoudige hut.

Hy klop sag. Huiwerig. Skepties.

Die bo-deur kraak stadig oop en ‘n kersverligte gestalte loer knorrig uit.

“Oom, kan ek met Anna praat?”

Die figuur kyk woordeloos om en Anna kom van agter ‘n tafel nadergeskuifel. “Ja?” vra sy. Niks meer, niks minder, net “Ja?”

“Hoekom wil jy nie saam met my dans toe gaan nie?” vra Lafras, sommer direk.

Anna is ‘n rukkie stil. “Ek wou saam met jou gaan, maar toe jy nie vra nie het ek maar vir Jonovan ja gesê,” sê sy skamerig.

Lafras lyk effens oorbluf. “O,” sê hy. “Oukei dan.”

Lafras draai om, draai sy vaal jas stywer om hom en val weer in die moeë, uitgetrapte paadjie huis toe.

13 antwoorde op Binnepret: ‘n orgie van bnw’e

  1. Baie meer algemeen as wat mens dink, hoor.

  2. Kan goeie speserye vir ‘n vaardige kok wees.

  3. Die vroeë voëltjie vang die teësinnige wurm?

  4. Neander het gesê op Augustus 20, 2009

    ‘n Vrotterige, aan die slaap vryersklong.

  5. Dankie Katryn!

  6. Slap boontjie kry sy loontjie

  7. Shame! Middag Janklaas hoe gaan dit?

  8. Eintlik darem baie goed, dankie Tweeling!

  9. Ek het sommer die storie opgemaak, wou nie saam met so trapsuutjies in die moeë paadjie loop nie.

  10. Arme frieken Lafras.

  11. Ek dink hy’t so ietsie van Ampie in hom.

  12. Shaaameee, arme Lafras!!! ‘n Bietjie laat geslaap!!

  13. ‘n Man na my hart.

    So sê ‘n pa met groen koring op die land.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.